27 dae gelede
Dominee Salwing bring redding vir Harriette én Awêh
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. Harriette is ’n wrak ná haar ouers se dood en Awie se selfmoord. Sy begin diep in die bottel kyk. Só diep dat sy Awêh afskeep. Kêrrim-straat se inwoners gee dominee Salwing opdrag om die probleem aan te spreek. In sy gesprek met Harriette en Awêh, besef dominee Salwing dat daar net een oplossing is... Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se “Awêh”.

DOMINEE Salwing gluur Harriette aan.

Die godsman doen min moeite om die afkeer op sy gesig te verbloem. Hy is dik. Hy is keelvol.

“Ek het genoeg gehad van ál jou nonsens,” sê dominee Salwing en swaai sy wysvinger voor Harriette rond.

“Die lewe slaan almal van ons. Vir sommige harder as vir ander.

“Soms voel dit so unfair as die een golf van beproewing ná die ander op jou pad kom.

“Maar nes Dawid, stap ons nie alleen deur dalle van doodskaduwees nie.”

Harriette skud heftig haar kop.

“Wat weet jy, ouman? Jou mond blink elke aand van ander se tiendes-sweet opeet. As ’n mens sien, ry jy ’n nuwe kar.

“Jy bly lekker cosy in jou double-storey-huis en jou kinders gaan by die ou wit skole skool. Deur watter dalle het jy al gestap?”

Dominee Salwing trek stadig sy baadjie uit. Daarna pluk hy sy hemp uit.

Harriette en Awêh staar met verbasing na die bende-tjappies op die godsman se lyf.

“Ek dra my kruis op my lyf,” sê die godsman in ’n skor stem.

“Elke tjappie is ’n bewys van die seer wat ek in ander, onskuldige mense se lewens gesaai het.

“Voor ek hier na Kêrrim-straat se bediening gekom het, was ek ver van ’n engeltjie af.

“Jirre, ek is steeds ver van ’n engel af, maar dit keer my nie om ’n beter mens te word nie.

“In my jong dae wou ek nie na my ouers luister nie en ek het my deurmekaar gehou met die verkeerde vriende.

“Een aand het ek in my ouerhuis getik. Ek ... ek weet nie wat gebeur het nie, maar die volgende oomblik was daar een helse groot vlam. ’n Vlam uit die hel uit ...”

Dominee Salwing maak sy oë toe, asof hy weer daardie oomblik beleef.

“Deur die newels van die tik kon ek net aan myself dink. Ek moes wegkom. Eers buite ... eers buite het ek my ouers se gille gehoor.

“Hulle was al oud en kon nie betyds uitkom nie. Die vlamme was so groot, so asof hulle straight uit die hel gestuur was.

“Het jy al ooit gehoor hoe pop iemand se skedel in ’n brand? Dis ’n geluid wat my steeds snags met angssweet laat wakker skrik.

“Ek is tronk toe vir my daad. Daar nog meer van ’n etter geword. Daarvan getuig my tjappies.

“Maar die dag toe die Here my siel kom red het ...

“Al die ou dinge sal nuut word. Die ou dinge sal verbygaan. Maar jy self sal eers daai beker van bitterheid eenkant toe moet skuif.”

“En moet ek nou hierdie aanhalings van ’n koortjie van dominee glo?” vra Harriette, steeds astrant, maar met die trane nou vlak in haar oë.

“Ma ...” sê Awêh. “Hoekom wil Ma jouself so aanhou straf?

“Ek is lief vir Ma, maak nie saak hoe diep Ma in die bottel kyk nie.

“Ons het nog net mekaar oor. Ek ... ek wil net weer my ma van ouds terughê.

“Die een wat nie my wiskunde-huiswerk so lekker verstaan nie, maar een keer aan my gewys het hoe een plus een eintlik net een weg van ’n crowd is.”

Toe breek die damwal en Har­riette bars in trane uit. En sy tjank snot en trane dat dominee Salwing en Awêh ongemaklik staan en wonder hoe sy al daai water in haar liggaam kan stoor.

“Ek moet bieg,” sê dominee Salwing. “Ek het ’n hidden agenda gehad vir vandag se gesprek met jou. Die Here sal my nooit vergewe as ek nie die waarheid praat nie.

“Ek is bang jy drink jouself dood. Ek is nie meer lus om daai ‘weer ontmoet’-song te hoor nie.”

Harriette vee die trane van haar wange af en bars uit van die lag.

“Ek ook nie!” sê sy. “Veral nie as suster Katriena Dimpelboure die song insit nie. Voel altyd vir my iemand is besig om ’n pot met ’n lepel skoon se skraap.”

Sy bly ’n oomblik stil. “Dominee het gesê daar is net een oplossing vir my probleem?”

Dominee knik ’n paar keer. “Maar natuurlik, hoe kon ek vergeet.

“Ek wil voorstel dat jy jouself by ’n rehabilitasiesentrum inboek.

“Awêh kan in daardie tyd by ons kom bly. Danksy die mense se tiendes is daar mos baie wonings in my huis.”

“Ai, dominee,” sê Harriette skaam. “Vergewe my, asseblief. Ek het nie bedoel om so nasty te wees nie.”

Die dominee glimlag. “Wie is ons as ons nie ander se foute wil vergewe nie, maar wil hê dieselfde mense moet die balke in ons eie oë miskyk?”

Awêh het van oor tot oor geglimlag. Die happiness het deur hom gebruis. Nie oor hy by dominee Salwing met die wifi-huis sou gaan bly nie, maar omdat sy ma bereid was om weer die straight en narrow van die lewe aan te pak.

Só het dit dan gekom dat Harriette ’n week later­ sak en pak Worcester­ toe is, waar sy haar toevlug in ’n rehab-sentrum geneem het.

Awêh het weer begin gedy in sy skoolwerk. Met die nodig medikasie was sy siekte ook onder beheer.

Die jong seun het self vriende begin maak, al was dit net op Facebook en danksy die ou selfoontjie waarmee dominee Salwing hom op sy 11de verjaardag gebless het.

Maar sy grootste verjaarsdaggeskenk was later die middag toe sy ma onverwags daar uitgesteek het.

Hy het aanvanklik nie sy ma herken nie. Die gesig het bekend gelyk, maar die spekvet wange en hare wat uitgeblow was, het hom aanvanklik confuse.

Die twee het na mekaar gehardloop en mekaar lank omhels.

“Ek is jammer vir al die pyn wat ek jou gebring het,” het Har­riette gesnik.

“Ma ...” het Awêh gesê en hom ietwat ongemaklik uit sy ma se greep gewikkel. “Ons gaan nou die ou koeie in die sloot laat rus en net vorentoe kyk.”

En kyk, dis exactly wat Harriette gedoen het. Die stem was bietjie beskadig van al die drinkery, maar sy het weer in die kerk begin sing.

Awêh het die jeugleier geraak en nie die verleier soos sy voorganger wat baby’tjie loop staan en maak het nie.

Dominee Salwing was nie min trots op die twee nie.

Die feit dat Harriette steeds traag was om tiendes te betaal, het hom nie in die minste gepla nie.

Daarvoor het die uiterste geluk op Awêh se gesig opgemaak.

Kêrrim-straat se mense het ook al hoe minder gekerm en almal was dit eens: Awêh Kleyn-Grootboom was vir groot dinge bestem.

Klein én groot dinge.

  • Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters