Verlede maand
Dominee dink dis sy plig oor Rhoda oor Ben 10 te betig
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Verbitterde Vrou” is CHRISTO­ MEYER se jongste verhaal. Geniet die vierde hoofstuk!

SATERDAGOGGEND. Rhoda het pas uit die badkamer gekom toe sy die klop aan die voordeur hoor. Wie kan dit wees? wonder sy verbaas. Sy verwag nie gaste nie. Hier in Renosterville kom kuier niemand ooit vir haar nie.

Is dit dalk iemand wat gehoor het haar broerskind het kom kuier en uit nuuskierigheid wil kom kyk hoe hy lyk?

Sy skud haar kop. Dit kan nie wees nie. Sy het vir niemand gesê sy kry ’n besoeker nie.

Rhoda moet erken sy het nie verwag sy sou Marlon so goed ontvang nie. Van senuagtigheid het haar maag erg gedraai toe sy die taxi gisteraand buite hoor stop.

Sy het nie gedink sy sou weet waaroor om met hom te gesels nie. Sy was verkeerd. Marlon is baie volwasse vir sy ouderdom.

Hy was uit die staanspoor op sy gemak. Nie vir een oomblik was hy skugter nie. Hy het aanvanklik die meeste van die praatwerk gedoen. Sy ken hom nou beter.

Sy weet hy speel rugby en dat hy volgende jaar joernalistiek wil gaan swot.

“Ek weet nie of Pa genoem het ek wil ’n essay oor hierdie dorp skryf nie en dat ek graag wil hê tannie Rhoda moet my daarmee help. Ek gaan dalk ongemaklike vrae vra, maar as Tannie nie wil antwoord nie, sal ek verstaan.”

Rhoda het altyd geweet daar gaan ’n dag aanbreek dat iemand in haar verlede rondkrap. Dat iemand haar gaan vra waarom sy nooit getrou het nie en waarom sy verkies om só alleen te lewe.

Sy het net nooit kon dink dit sal ’n familielid wees wat haar met hierdie vrae sou peper nie.

Rhoda sluit die deur oop. Sy skrik toe sy ds. Adriaanse daar sien staan. Van wanneer af doen hy só vroeg huisbesoek? Dít boonop met die Bybel in sy een hand.

“Môre, Dominee,” groet Rhoda beleefd. “Het ons dan ’n afspraak waarvan ek vergeet het?”

Uit die hoek van haar oog sien sy oorkant die pad ’n gordyn beweeg. Els Twakgesels. Is daar dan geen einde aan daai vrou se voorbarigheid nie? Vir wat bemoei sy haar nie met haar eie sake nie?

“Môre, suster Rhoda. Nee, ons het nie ’n afspraak nie. Ek het wel iets op die hart. U sal seker nie omgee as ek inkom nie, of hoe?”

“Natuurlik nie, Dominee. Kom gerus binne. Hoekom sal ek omgee? Ek het niks om weg te steek nie.”

Rhoda weet nie of sy haar verbeel nie, maar dit lyk of Dominee effens ongemaklik is. Sy sal graag wil uitvind wat aan hom vreet. Wat het hy op die hart?

Sy bied hom ’n sitplek aan en vra of sy kan koffie maak.

“Nee, dankie,” keer hy haastig. “Ek het klaar koffie gedrink.”

“Is daar iets waarmee ek kan help, Dominee?”

Dominee haal sy bril af en sit dit op die tafel neer.

“Suster, sien, die saak staan eintlik só: Van ons gemeentelede is erg bekommerd oor u. Ek het gisteraand laat ’n vreemde oproep ontvang.

“Moet sê, ek was nogal uit die veld geslaan. U is die laaste persoon van wie ek só iets verwag het.

“Iemand het my gekontak en gevra om met u te kom praat oor u ... hoe sal ek dit nou stel ... onbetaamlike gedrag.”

Rhoda voel hoe haar wange verkleur. Het sy reg gehoor? Sy het g’n idee waarvan sy nou eintlik beskuldig word nie. Wat het sy verkeerd gedoen dat Dominee dit nodig ag om haar te berispe?

“Onbetaamlike gedrag?” vra sy geskok. “Waarvan praat Dominee dan nou?”

Dominee hou sy regterhand in die lug. “Toe maar, Suster, dis normaal om ontsteld te wees wanneer die waarheid onverwags op die lappe kom. Maar kom ek leer vandag vir u ’n ding. Die eerste stap in die regte rigting is om te erken dat u gesondig het.”

Rhoda Kammies is verward. Dis so duidelik soos daglig Dominee het die kat aan die stert beet.

Waarop stuur hierdie gesprek af? Hoekom kom hy nie tot die punt nie?

“Suster, sien, ek het vertroulik verneem dat u na dese ’n nuwe, jong liefde in u lewe het. Ek moet erken die nuus was uit die bloute. Die kêreltjie het blykbaar gisteraand hier oornag. Is dit die waarheid, Suster?”

Rhoda voel verlig. Dit kan net Els Twakgesels wees wat sulke stories aandra.

Sy kry die skepsel eintlik jammer. Het sy niks beters om te doen as om onskuldige mense onnodig te beskinder nie? En dan boonop vir Dominee hierby in te sleep?

Die vrou behoort haar te skaam. Nogal ’n nuwe, jong liefde. Pleks Els bemoei haar met haar eie lewe.

Rhoda wil haar vererg, maar bars uit van die lag. “Dis ’n halwe waarheid, Dominee.”

“Halwe waarheid?” Dominee se voorkop trek op ’n plooi. “Ek begryp nie. Sal Suster omgee om te verduidelik? Ek sal graag agter die kap van die byl wil kom sodat ons dit ’n saak van gebed kan maak. Geen sonde is te groot in die oë van die Here nie.”

“Daar is niks om te verduidelik nie.” Die stem agter Dominee laat hom omdraai. Hy trek sy asem skerp in.

“Suster Rhoda, die mannetjie is dan ’n blote kind. Wat gaan hier aan?”

Marlon stap nader. Hy steek sy hand uit. “My naam is Marlon Kammies en ek is 17. My pa se naam is Lukas Kammies. My pa en tannie Rhoda is broer en suster.”

Ds. Adriaanse val byna agteroor. “Suster Rhoda, u moet my asseblief verskoon. Ek besef hier is iewers ’n groot misverstand. Ek moet ongelukkig nou gaan.”

“Is Dominee seker Dominee wil nie koffie hê nie?” terg Rhoda. “Swart en bitter. Lyk my dis presies wat Dominee nodig het.”

Ds. Adriaanse vlieg op en storm uit. Hy sê nie eens tot siens nie. Hy trek met skreeuende bande weg. “Ek twyfel of ek gou weer ’n besoek van hom sal ontvang,” sê Rhoda. “Hy steur hom mos aan skinderpraatjies.”

Marlon lag. “Ek moes tot Tannie se redding kom toe ek sien Dominee probeer Tannie in ’n hoek druk. Dat ’n predikant sulke nonsens glo, maak nie vir my sin nie.”

“Ek dink die een wat hom die storie vertel het, was so oortuigend, hy het vir geen oomblik getwyfel dis nie die waarheid nie.”

“So, wat doen ons vir die dag?” wil Marlon weet.

“Ek wil jou ’n paar plekke gaan wys en dan kan ons winkels toe gaan. Jy het mos gekom om die dorp en sy mense te leer ken.”

“Dit klink nice, Tannie. Gaan ons die kerk ook besoek?”

“Liewer nie. Netnou loop ons weer in Dominee vas en van hom het ek genoeg gehad vir een dag.

“Vanaand kan ons rustig gesels. Jy het baie vrae wat ek alles wil beantwoord. En die belangrikste van alles: Ek wil jou die storie vertel van ’n verbitterde vrou.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters