Verlede maand
Dokter het slegte nuus, glo Ada toe hy by die huis stop
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Vandag eindig “Ada se Geskenk” deur NICOLETTE FOULDIEN. Lekker lees!

ADA SE hart klop onrustig in haar borskas toe die dokter se kar voor haar deur stilhou.

Dis al vyf dae sedert ant Tina se begrafnis. Dr. Smit het haar en die kinders ná die ou vrou se afsterwe getoets en sy wag nog vir die uitslae. As Dokter dit nou persoonlik vir haar kom sê, voorspel dit niks goeds nie.

Wie gaan na haar kinders kyk as sy moet siek word of nog erger, doodgaan? Sy het met ant Tina se siekte gesien hoe afsydig hierdie dorpie se mense kan wees.

Ant Tina het stoksielalleen in haar huisie gelê met niemand wat vir haar kan kosmaak en medisyne gee nie. Niemand wat haar kan help was en versorg nie.

Sy wat Ada is, het besluit om ant Tina te versorg omdat die antie nooit met haar en die kinders lelik was nie.

Ada skrik toe die dokter aan die deur klop. Sy maak oop en glimlag bewerig toe sy hom binnenooi.

Haar huisie is eenvoudig, maar netjies. Sy nooi dr. Smit om te sit.

Hy wys tee van die hand en nadat al die kinders in ’n koor gegroet het, vra sy hulle om buite te gaan speel.

Ada wring haar hande saam toe sy oorkant die dokter gaan sit.

“Ontspan, Ada, ek bring goeie nuus,” stel dr. Smit haar gerus. “Jul toetse is almal negatief. Jy het goed gedoen deur jou masker te dra en gereeld jou hande te was en dit te ontsmet sodra jy by die huis kom.

“Ek is trots op jou, Ada. Jy het gedoen wat elke verpleegster doen: om iemand met Covid-19 te versorg. Dankie. Jy verdien ’n medalje.”

Ada sug verlig. Sy het gedoen wat sy moes om iemand in nood by te staan.

Sy voel net jammer dat sy nie vroeër die ambulans gebel het om ant Tina te kom haal nie, maar die antie het teen die karre geskop. Sy wou by haar huis doodgaan.

Dr. Smit sien die vertwyfeling in Ada se oë.

“Ada, daar was niks anders wat jy vir ant Tina kon gedoen het nie. Ant Tina was reeds sterwend – nog voordat sy die virus opgedoen het. Onthou jy die klomp pille wat sy moes drink?”

Ada knik.

“Ant Tina het kanker gehad en haar tyd was min. Sy het die dood verwelkom.”

Ada voel hoe ’n las van haar skouers lig. Sy het regtig skuldig gevoel.

“Daar is nog iets ...”

Ada kyk vraend na dr. Smit. “Onthou jy die skildery wat in ant Tina se voorhuis gehang het?”

Ada knik. Sy het graag na die mooi natuurtonele gekyk. Dit het altyd haar bui gelig en gehelp dat sy nie so swaarmoedig voel oor ant Tina wat so siek is nie.

“Wel, ant Tina het gevra dat ek dit ná haar afsterwe vir jou moet gee. Sy het vir jou ’n nota daarby gelos. Dis in my motor.”

Ada glimlag breed. Om te dink, dierbare ant Tina het nog in haar sterwensure aan haar gedink.

Sy is nie toegelaat om ant Tina in die hospitaal te besoek nie. Sy het so gewens sy kon nog ’n laaste paar woorde met haar wissel.

Nou dít! Sy loop opgewonde agter dr. Smit aan tot by sy kar. Hy maak die deur oop en haal die toegedraaide skildery en briefie uit. Hy gee dit vir Ada en groet. Hy moet by sy spreekkamers kom.

Ada sluit die kamerdeur agter haar en gaan sit op die bed. Versigtig skeur sy die koevertjie oop en vou die velletjie papier oop. Die handskrif is bewerig en haar oë skiet vol trane.

Sy het in ’n kort tydjie geheg geraak aan ant Tina. Sy was die enigste mens met wie sy die laaste tyd kon praat en kon vertel van haar kinders.

Die 14-jarige Janine en 7-jarige Denise is haar eie, maar die ander vyf is haar twee susters se kinders. Haar geliefde susters wat deur hul onderskeie minnaars vermoor is.

Wena is nege jaar gelede dood en Lezaan sewe jaar terug, toe Ada swanger was met Denise.

Syself was vasgevang in ’n verhouding waar sy mishandel is. Nadat sy haar tweede suster op só ’n wrede manier verloor het, het sy besluit genoeg is genoeg; sy gaan nie dieselfde paadjie loop nie.

Sy het haar susters se kinders aangeneem en hierheen getrek omdat die dorpie klein en stil was.

Sy het hier ’n nuwe lewe begin. Net jammer hier is so baie skinderbekke in die omtrek ...

Ada lees die kort nota. “Ada, dankie dat jy so mooi na my gekyk het en daar was toe ek niemand gehad het nie. Jy het jou en jou kinders se lewe in gevaar gestel om my te versorg. Daarvoor wil ek jou bitter graag vergoed.

“Hierdie skildery het ek twee jaar terug laat waardeer. Dit was toe R300 000 werd. ’n Versamelaar wou dit koop, maar ek het besluit om dit te hou aangesien ek nie die geld nodig gehad het nie.

“Nou gee ek dit vir jou, saam met die man se kontaknommer. Verkoop dit asseblief en gebruik die geld vir jou en die kinders. Kyk asseblief in die swart bag onder my kooi is drie Shoprite-boekies. Koop vir julle kos en die kinders se geskenke en skoolgoed daarmee. Liefde en vrede op aarde vir julle.”

Ada loop na buite, haar gesig na die son gedraai. Vandag moet God asseblief haar gebed aan ant Tina oordra dat sy kan weet hoe dankbaar sy is.

“Ada …” groet Siena haastig terwyl sy by ant Doortjie se huis verby sluip. Ada kyk haar verbaas aan. Gewoonlik suip en skinder Siena en ant Doortjie saam. Hoekom sal sy nou die antie se huis verby hou?

Sy roep Siena nader.

“Gaan jy nie by ant Doortjie kuier nie?”

Siena skud haar kop woes. “Nooit gesien nie! Ant Doortjie het mos nou ôk die virus! Ek spelie met my liewe nie!”

Siena stap aan nog voordat Ada verder kan uitvra.

Ada loop terug die huis in.

Sy roep die kinders nader.

“My skattebolle, ant Doortjie is siek. Siena sê sy het ook die virus. Mamma gaan oorkant toe om te kyk wat ek kan doen. Julle ken die dril. Maskers op, hande was en wanneer ek terugkom, gaan ek reguit badkamer toe om te was. Ek raak aan niemand en niemand raak aan my voordat ek nie gewas en ontsmet het nie. Reg so?”

Almal, tot die kleinste een, knik geesdriftig. Ada glimlag breed.

“En omdat julle almal so soet en gehoorsaam was, mag julle elkeen ’n lysie maak van goed wat julle graag die Kersfees wil hê.”

Die kinders se oë rek ongelowig.

“Regtig, Mamma?” vra Reggie.

“Regtig. Enige iets. Net wat jul harte begeer.”

“ ’n Fiets! Ek soek ’n fiets!” roep Luke opgewonde.

“Mamma, kan ek ’n foon kry?” vra Janine skaam. “Al die kinders by die skool het fone.”

“Natuurlik, Janine! En jy kan daai jean en toppie by Pep kry waarna jy altyd so na loer en sommer skoene en alles!”

“Regtig!?” skree almal saam.

  • “Ja, regtig. Ons het ’n Kersgeskenk uit die hemel gekry, so dié jaar vier ons behoorlik Kersfees.” Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters