13 dae gelede
Dogter word na haar nagmerrie toe weggestuur
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Donker Geheim is Esme Cupido se jongste skryfstuk. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE voordeur gaan oop. Katie­ kyk vinnig op toe haar ma steunend met twee grocery-sakke by die deur insukkel.

“Kom help, daar staan nog ’n sak by die hek,” roep haar ma terwyl sy vinnig na die kombuis aanstap.

Katie spring van die bank op. Sy weet haar ma het gepay en het lekker kos en eetgoed gekoop. Sy voel die effense koel windjie toe sy buite kom en sy trek die opgerolde moue van haar blou truitjie af.

Sy het skaars die sak by die hek opgetel toe haar ma haar aanpraat om vinnig te maak: “Dis die sak met die warm gebraaide hoender wat ek vir ete gekoop het. Bring!”

Haar ma staan in die deur en steek haar hande uit.

“Toe, gee hier. Het jy al gepak? Jy weet die taxi trek douvoordag weg en hy wag vir g’n niemand.”

“Maar Mammie, moet ek regtig gaan?”

Sy stap agter haar ma aan kombuis toe. Haar ma sit die sak op die tafel neer, haal die bruinpapiersak met die warm hoender uit en sit dit in die mikrogolfoond. Dan draai sy om en kyk hande in die sye na Katie.

“Ons het klaar hieroor gepraat, Katie. Jy kan nie ’n week alleen hier sit terwyl ek saam met Mevrou moet gaan om met die troue te help nie. Dis vakansie en buitendien was jy lanklaas by aunt Mary-hulle.

“Ek wil nie gaan nie! Hoekom kan ek nie by Raylin gaan bly vir die week nie? Haar ma het gesê ek kan kom,” bars sy los.

Haar ma sug en sit haar hand op Katie se skouer.

“Kaatjie, Raylin se mammie werk nie en ek wil nie hê jy moet ’n ekstra mond wees wat gevoer moet word nie.” Sy skud haar kop.

“Nee, ek het klaar laat weet. Aunt Mary sien so uit na jou koms.”

Haar ma lag toe sy buk om ’n sak met die melk en kaas op te tel.

“Uncle Leon het skoon Fransien se ou kamer pienk geverf, want hy weet jy hou van die kleur. En…”

Haar ma draai om nadat sy die koue goed in die yskas gebêre het. “Uncle Leon gaan jou ook saam met die jeuggroep neem vir ’n oorslaap op Ouberg!”

“Jy gaan dit geniet. Toe, gaan pak jou goedjies klaar, ek roep jou nou-nou om te kom eet.”

Katie voel trane van magteloosheid in haar oë opwel. Sy draai in haar spoor om en loop sleepvoetend die kort gang af slaapkamer toe. Haar ma verstaan nie. Sy wíl nie gaan nie.

Die afgelope week het die nagmerries teruggekom. Dit vandat haar ma gesê het sy moet vir ’n week by aunt Mary gaan kuier. Haar ma moet in die Oos-Kaap gaan werk. Sy stap na haar kas, maak die deur oop en staar na die hopies pienk klere.

Sy haal ’n vaal sweetpak uit en drie hempies wat allesbehalwe pienk is. Selfs haar nuwe pienk tekkies skuif sy dieper in die kas en haal die stukkende swartes uit.

Dit alles bondel sy saam met slaapklere in die tas wat haar ma al vanoggend onder die bed uitgetrek het.

Net toe sy die zip toetrek, roep haar ma haar om te kom eet. Sy het eers baie koud gekry die aand nadat sy op haar bed gaan lê het. Toe sy haar lê kry en warmer word, het sy bly dink aan die week by aunt Mary.

Sy en haar ma het elke jaar Krismis op Bergfontein by aunt Mary-hulle gaan kuier. Sy onthou hoe hulle altyd op Nuwejaarsdag Ouberg gaan uitklim het en in ’n ou jagtershut oornag het. Met swaar rugsakke gelaai met kos en beddegoed het hulle gewoonlik teen ’n slakkepas die berg geklim.

En om dan die panorama van veld en vlaktes onder hulle te sien lê, kon sy nooit genoeg van kry nie.

Fransien, haar ouer niggie, het altyd tussen die grootmense gesit, maar Katie het onder haar ma se wakende oog elke skeur en klip verken, behalwe natuurlik die grot aan die een kant van die berg.

Katie glimlag. Soms het sy net op haar rug gelê en na die blou hemel gestaar. Dit was heerlike dae. Maar toe gaan aunt Mary se man dood. In die nag het Katie natgesweet wakker geruk. Sy het geril toe sy die groot hande in haar droom onthou wat haar jaag, sy wat na haar ma en aunt Mary roep, maar hulle hoor haar nie. Toe staan sy op Ouberg met ’n gapende afgrond voor haar. Die hande het ’n spottende gesig bygekry wat nader en nader kom…

Die volgende oggend by die taxi rank is Katie se ma net ’n vae beeld in die donker toe die taxi in beweging kom. Sy waai en waai en druk haar gesig teen die koue ruit om haar ma se gestalte vir oulaas in te neem.

Die stad se liggies was al ver agter hulle toe sy haar nat gesiggie met haar jacket se mou droog vee. Sy het reg van die af begin nie van uncle Leon gehou nie.

Dis sy bebaarde gesig en groot spinnekophande wat haar laat gril het. Sy skurwe rooi nek laat haar aan aunt Mary se kalkoene dink wat sy agter in die jaart aanhou. Die laaste Nuwejaarsdag op Ouberg was nie dieselfde nie, want toe was aunt Mary met uncle Leon getroud.

Katie wurm haar lyf dat sy gemaklik teen die taxi se venster sit-lê. Die antie op die sitplek langs haar snork saggies en rondom haar sien sy hier en daar selfoonliggies wat skyn. Die week sal gou verby gaan en voordat sy haar oë uitvee, is sy op pad terug na haar ma toe, probeer sy haarself troos. Maar wat as… Die kommer en angs maak ’n knop in haar maag. Onwillekeurig flits uncle Leon se bebaarde gesig voor haar, ’n vinger op sy vlesige lippe wat nader kom. “Dis ons geheim, Katie my meisie,” het hy gesê.

Katie sit verskrik regop toe die antie op die sitplek langs haar ’n kloppie op haar been gee en sê: “O’s is hie’, wakke’ word.”

Almal in die taxi kom stram in beweging, hark plastieksakke bo in die bagasieruim bymekaar. Die taxi-staanplek is verlate, behalwe vir ’n ouer vrou met ’n oranje gestreepte doek wat haar nek rek om deur die venster te probeer sien. Waar is aunt Mary dan? Haar ma het gesê… Sy het hom nie sien naderkom nie. Deur die wasem van die ruit lyk hy soos ’n glimlaggende monster.

“Môre, môre. Gee jou sak aan.”

Katie wag tot al die mense uit is voordat sy opstaan, haar rugsak en die groot lapsak optel. Sy worsvingers raak aan haar hand toe sy onwillig die lapsak in sy uitgestrekte hand plaas. Mense drom nog rondom die taxi saam. ’n Vrou met ’n kleintjie op haar heup stamp onverwags aan haar dat sy sywaarts kantel, teen uncle Leon se harde borskas. Hy sit sy arm om Katie en sy loop soos ’n willose pop saam. By die oop deur huiwer hy.

“Waar’s my maniere? Ek het jou mos nog nie gegroet nie.”

Katie voel die beklemming in haar bors opstoot. Haar lyf ruk. Sy kloue kom grypend nader.

“Mister Leon!”

Sy arendskloue kom in die lug tot stilstand en hy draai grimmig sy kop. ’n Man kom aangedraf en vra uitasem: “Het Mister nie ’n lift virre man nie, net tot by ou Poen se winkel?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters