Verlede maand
Dít wat die pastor die groep vertel, is vreesaanjaend
 ~ 

GENIET vandag hoofstuk 7 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep dit “Die Vreemde Klong”.

DIE ses weermaglede staar geskok na past. Allan Ockhuys en die seuntjie. Hulle kan nie glo wat pas hier voor hul oë afgespeel het nie.

Hulle het gesien hoe die vreemde klong die pastoor met gloeiende hande aanraak en hoe die pastoor se brein skielik deur sy kopbeen sigbaar raak. Amper soos op ’n X-straalfoto.

Hulle besef nóú eers dat die seuntjie nie van hierdie wêreld is nie en hy beskik oor magiese kragte.

Vir ’n wyle heers ’n doodse stilte terwyl almal die gebeure probeer verwerk.

Sers. Voight is die eerste een wat reageer. Hy kyk die pastoor grootoog aan. “O-oukei, Pastor, w-wat het nou sopas hier gebeur? W-wat is hier aan die gang?” stotter hy.

Die seuntjie sê iets aan past. Ockhuys wat nie een van die ander verstaan nie. Past. Ockhuys knik.

Hy gaan maak vinnig die voordeur toe en kyk die weermagmanne aan.

“Manne, julle beter jul sit kry. Wat ek julle nou gaan vertel, gaan julle tot in jul fondamente skok!” sê hy en beduie na die rusbanke.

Die ses soldate mol elkeen vir ’n plek op die banke en kyk in afwagting na die Godsman hier voor hulle.

Past. Ockhuys en die seuntjie gaan staan voor hulle. Hy maak vinnig keel skoon.

“Dié seun wat hier langs my staan se naam is Zeno, seun van Zaragia,” begin past. Ockhuys met sy vertellings. “Hy het as ’n klein seuntjie gelewe in die tyd dat Jesus ’n kind was. Hy is gisteraand met ’n weerligstraal uit die hiernamaals terug Aarde toe gepos.”

Die army-latte trek hul asem hoorbaar in by die aanhoor hiervan. Hul oë rek twee keer so groot soos hul normale size.

“Hy het die Aarde getref op daardie plek in Duiwelskloof waar julle army-ouens nou doenig is,” gaan past. Ockhuys voort.

“Maar eers ’n kort opsomming van sy heengaan destyds: Zeno was sewe jaar oud toe hy dood is. Terwyl hy en sy vriende, Jesus ingesluit, gespeel het, het hy van ’n huis se dak afgeval en gesterf.

“Sy ouers het Jesus vir sy dood blameer. Jesus het hom tydelik teruggebring uit die dood om te getuig dat sy dood ’n ongeluk was. Daarna het hy weer gesterf.

“Nou, ná al die eeue, is hy vir ’n spesifieke doel hierheen gestuur.”

Past. Ockhuys laat hierdie laaste woorde van hom in die lug hang sodat dit by die soldate kan insink.

Almal van hulle sit op die rand van die bank, so intens is dit. Hulle is selfs te bang om asem te haal.

Toe past. Ockhuys te lank stilbly, kan sers. Voight dit nie langer hou nie. Hy raak kriewelrig.

“Vertel, Pastor! Magtag, man, vertel!” gil hy. Daar is paniek in sy stem.

“Oukei,” sê past. Ockhuys. “Nou moet julle mooi luister.”

Hy maak vinnig keel skoon en trek sy asem diep in. “Oukei, hier kom dit …” jaag hy die spanning op. ’n Mens kan ’n speld hoor val.

“Zeno is na Rustenville gestuur om ons te waarsku demone is op pad hierheen om die mensdom te verwoes en ons dorp gaan hul strong­hold wees!” dawer sy woorde deur die vertrek.

Op al ses soldate se gesig is die skok sigbaar. Hulle staar oopmond na past. Ockhuys en die seuntjie.

As dit brommertyd was, sou hulle elkeen nou ’n swerm brommers geproe het.

Die stilte wat volg, is so dik, jy kan dit met ’n mes sny.

Skielik kraak die radio deur die vertrek. Al ses weermag-ouens wip soos hulle skrik.

Toe sers. Voight agterkom dis kol. Van Deventer wat na hulle roep, gryp hy die radio krampagtig vas. Met bewende hande bring hy dit na sy mond toe. “K-kol. V-van Deventer, reël a-asseblief dringend ’n helikopter om ons h-hier op te tel. O-ons moet dringend gesels,” stotter hy oor die radio. Hy verskaf vinnig hul ligging.

Hy maak sy oë toe en streel liggies met sy duim en wysvinger oor sy ooglede – iets wat hy altyd doen wanneer hy moerse gespanne is.

Hy maak sy oë oop en kyk na sy manskappe. “Manne, sodra daardie helikopter land, escort ons past. Ockhuys en … h’m … Zeno hier uit. O-ons moet ook daardie twee vroue wat ons hierheen gebring het, met ons saamvat.”

“So, ons gaan nou saam met julle?” vra past. Ockhuys. Hy kyk af na Zeno, wat stil voor hom staan en uitstaar.

“J-ja, a-asseblief, Pastor. U is nou soort van ons tolk,” verklaar sers. Voight.

Nog ’n ongemaklike stilte daal in die vertrek neer.

Skielik klink die gedreun van ’n helikopter bokant die gebied op. Sers. Voight wink na die ander en beweeg deur toe.

Die weermaglede vorm ’n beskermende formasie om past. Ockhuys en Zeno. Daar is al ’n groot crowd buite. Sers. Voight begelei hulle tot by hul weermagvoertuig, wat daar buite staan.

Hy haal ’n rookfakkel uit en gooi dit op die oop veldjie oorkant die woonbuurt. Dit dien as ’n baken waar die helikopter moet sak.

Sers. Voight se oë soek-soek tussen die crowd deur na Lena Karbonkel en Nelie Oppelt. Hy spoor hulle vinnig op en beveel hulle ferm om saam te kom. Hulle wil nog teëstribbel, maar die ander weermaglede vat hulle ferm vas.

Saam piekel hulle na die helikopter, wat intussen op die veldjie geland het.

“Hei, Lena en Nelie, julle gaat nou lekker heliknopter ry!” skree ’n tandelose ou omie dit glimlaggend uit.

Terwyl almal by die helikopter inklim, draai sers. Voight na een van sy manne.

“Kpl. Minnaar, bring jy ons voertuig na die operation centre!” beveel hy hom.

Die helikopter met sy kosbare passasiers styg met ’n helse lawaai en wind op en verdwyn in die rigting van Duiwelskloof.

Kol. Van Deventer en ’n groep swaar gewapende manne wag die spannetjie in toe die helikopter op die groot oop kol tussen die bome in Duiwelskloof land.

Eers spring sers. Voight en twee manne uit. Toe begelei die ander manne Zeno, past. Ockhuys en die twee vroue by die helikopter uit.

Zeno staar na die plek waar hy die vorige aand geland het toe hy uit die ander dimensie geval het. Hy sien dis afgesper.

Die pastoor bekyk ook die spulletjie hier voor hulle. Hy sien die tydelike opslaangeboue wat die wêreld vol staan. Oral hol army-manne en mense in oorpakke rond.

“Sersant, is dit die spannetjie?” bulder kol. Van Deventer vir sers. Voight. Hy kyk na past. Ockhuys en toe kyk hy Zeno onder­soekend aan. Hy frons.

Vlugtig kyk hy na die manne hier om hom en knik liggies in hul rigting. Dié move ontgaan nie past. Ockhuys se wakker oë nie.

“Vat die vroue en sluit hulle saam met die ander op!” beveel kol. Van Deventer kort en kragtig.

Hy kyk na past. Ockhuys en Zeno. “Bring dié twee saam met my!”

’n Kriewelrige gevoel hardloop teen past. Ockhuys se rug af.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters