18 dae gelede
Dit voel vir Layla asof Shaun nou uit haar pad bly
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Vandag gaan ons voort met die lekker verhaal “Die Geheim” uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Geniet nou die vyfde hoofstuk.

IN DIE nuwe week bly Mandy en Donna inhuisig, maar dit verhinder hulle nie om soos gewoonlik te suip nie. Russel en Shaun klim soggens in die bed sodra hul van nagdiens af kom en Mandy moet maar vir die hele dag tot ná twee saam met Russel in die kooi bly.

Shaun slaap darem weer in sy eie bed, wat ek eers netjies vir hom opmaak. Wanneer Shaun vroegmiddag opstaan, verdwyn hy na sy vriende en kom eers terug as dit tyd is vir werk toe gaan.

Ek kry skaam vir myself, want al is Shaun bedags by die huis, bring ons nou minder tyd in mekaar se geselskap deur as toe hy dagskof gewerk het en ek wil dit nie so hê nie.

Ek weet daar kan niks tussen my en Shaun wees nie, maar hy bly in my gedagtes en ek is die heeltyd oorbewus van sy teenwoordigheid wanneer ons in mekaar se geselskap is.

Of dit my verbeelding is, weet ek nie, maar dit wil voorkom asof hy nie meer so spontaan teenoor my optree soos voorheen nie.

Ek kan voel dat hy van my wegskram en ek weet nie hoekom nie. As daar iemand in sy lewe is, noem niemand dit aan my nie en ek is te bang om Mandy oor hom uit te vra.

Die laaste ding wat ek wil hê, is dat sy moet dink ek stel in Shaun belang. Soos die weke begin aanstap, bly dinge tussen my en Shaun dieselfde.

Hy is nie afsydig teenoor my nie, maar hy doen ook nie ekstra moeite om my naby hom te hê nie, al smag ek na sy vriendskap.

Soms vra hy my om saam spaza shop toe te stap. Of hy koop vir ons bier wat ons voor die TV drink totdat ons vaak genoeg is om te gaan slaap. Maar dis waar dit eindig.

Einde van die maand gaan die hele gesin, ek en Mandy inkluis, Parow-sentrum toe vir die maandelikse inkopies. Ons sit byna die taxi vol. Daar gekom, dwaal die mans klerewinkels toe terwyl ons drie vroue die koswinkels invaar.

Ons pak twee waentjies vol kos en ek dwaal na buite toe Mandy saam met Donna in die lang ry by die betaalpunt aanskuifel. Ek gaan sit op ’n bankie om die mense te bekyk wat soos miere rondskarrel.

Ek gewaar Shaun voor American Swiss. Hy staar na iets in die venster. Ná ’n ruk stap hy die winkel binne. Hy kom weer te voorskyn met ’n helderkleurige boksie wat hy in sy sak steek.

Ek wonder vir wie hy presente kom koop en die gedagte dat daar miskien êrens ’n meisie in sy lewe is, maak tog ’n bietjie seer.

Ons kom twee uur later pootuit by die huis aan. Die middag word daar gebraai en ons luister na nuwe CD’s wat Dawid gekoop het.

Shaun neem my in sy arms vir ’n dans en ons lywe smelt saam op die stadige ritme van “Lady in Red”. Hy is ’n uitstekende danser.

Ons dans heelmiddag en ek kan sien die bewondering is terug in Shaun se oë. Hoe dronker ek word, hoe meer wens ek hy wil my soen.

Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, maar ek wil hê dat hy iets meer met my doen as net dans. Sy warm lyf teenaan myne is skielik nie genoeg nie.

Ek smag na meer. Dit raak later en ek voel hoe die alkohol my sinne begin verdof. Toe Shaun my naby middernag na binne lei, stribbel ek nie teë nie. My bene is lam en ek sukkel om te fokus.

Hy help my tot by die bed waar ek met klere en al neerval. Hy draai om en ek gooi my laaste bietjie kuisheid oorboord.

“Shaun, slaap saam met my?” Ek sien hom deur ’n waas oor my buk. “Slaap nou, Layla, jy’s dronk.”

Die volgende oggend wil ek sterf van skaamte en kan net wonder wat hy nou van my dink. Ek weet nie wat my besiel het nie en kan hom skaars in die oë kyk.

Ek is tog nie dáárdie soort meisie nie! Wat as hy die indruk gekry het dat ek los en vas by mans slaap? Hulle selfs vra om dit te doen!

Die volgende paar weke probeer ek hom vermy, wat bykans onmoontlik is as jy saam in een huis woon. Ek vang egter gedurig sy blik op my en maak asof ek glad nie van hom bewus is nie.

Twee dae voor my 23ste verjaardag onthou ek daarvan. Ek sê vir niemand nie omdat ek lankal voel dat ek geen rede het om my geboortedag te vier nie. Wat is daar om oor fees te vier?

Nog ’n verjaardag weg van my geliefdes? Nog ’n verjaardag om die aand te herdenk toe ek vir die eerste keer soos ’n volwasse vrou langs ’n getroude man geslaap het? Hoeveel verjaardae terug was dit? Sewe? Dit voel soos ’n leeftyd gelede.

Toe was ek 16. Tussen toe en nou lê ’n slagveld van verwoesting. Hoe nader my verjaardag kom, hoe slegter begin ek voel.

Ek het geen behoefte om met enige een te praat nie en is bly toe almal tot middagete in die bed bly. Dit reën liggies en die mans besluit om die aand potjiekos buite onder die afdak te maak. Die musiek word aangesit en ek val saam weg aan twee bottels brandy en ’n kis bier.

Soos elke keer wanneer ek sleg voel, besluit ek om sommer al my sorge te verdrink. Kort voor lank is ek en Mandy op die dansbaan en die mans dans later saam.

Dit word ’n jolige affêre, maar wat my gemoed die meeste lig, is daai bewondering wat terug is in Shaun se oë. Ek besluit dis nou of nooit.

Met sy blik op my, lok ek hom behoorlik met my dansende lyf.

Ek draai, swaai en krul op die mees sensuele manier denkbaar.

Ek sien hoe hy voor my aanslae begin swig. Toe hy my in sy arms neem vir ’n dans, kan ek die bewing in sy lyf aanvoel, maar steeds hou hy dit wat ek soek van my weg.

Wat is dit met my dat ordentlike mans nie in my belangstel nie?

Kyk nou met Shaun. Ek is bereid om hom die kans te bied, al gebeur wát ook.

Ek gee nie meer om nie. As daar iets tussen ons gebeur, kan ek ten minste die alkohol blameer.

Ek voel so verwerp dat ek ál meer begin drink. Ek strompel later toilet toe en val my byna disnis op die mat in die badkamer.

Ek sukkel agterna om my broek weer vas te kry en besluit om liewer te gaan inkruip. Ek skop my broek onder die bed in en val met my T-hemp in die bed.

Ek hoor die deur oopgaan en deur ’n waas sien ek Shaun inkom.

Woordeloos begin hy uittrek en skuif langs my onder die komberse in. Ek voel sy kaal vel teen my rug waar my T-hemp opgeskuif het en sy arm wat om my lyf kruip. Ek maak my oë moeg toe.

Die slaap oorval my dadelik.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters