27 dae gelede
Dit is Spokie se nerves wat hom laat aandag trek
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

Hettie het gister vir Oumeester Connie Claassen in detail vertel van die liederlike dinge wat met haar gebeur het, insluitende die vernederende verkragting. Geniet nou die slofhoofstuk van CEDRIC AFRIKA se “Met Liefde vir Mamma”.

‘DANIEL Britz gaan boet vir dit wat hy aan my ma gedoen het.” Spokie blaas die daggarook deur sy neus en gaan sit in die buitekamer.

Die gemene hond ... hy het haar twee keer verkrag en sy kon nie ’n saak gaan maak nie.

Hy sug swaar en trap die halfgerookte daggazol geïrriteerd onder sy skoen dood.

Hierdie goed wat Ai-man Dail da onner by die kanaal verkoop, kan oekie sy kop oopmaak nie.

In die movies en in Son lyk dit wragtig so maklik om iemand uit te haal … Net een skoot, kapoesh, da’ lê hy onner ’n vaal kombersie, net die skoene stiek gewoonlik uit.

Hy val moeg agteroor en blaas die laaste bietjie dagga hoesend uit sy longe. Hy het nie ’n gun nodig om daai vark vrek te maak nie.

Hierdie outjie het my nog nooit in die steek gelaat nie, glimlag hy selfversekerd en streel oor die vlymskerp lem van sy nommer 10- skaapskêr. As ’n plaasman dan nou nie eens lus kry vir so ’n vet vroumens nie, hoe kry ’n Kapenaar dit reg? Met dié vraag worstel Spokie nou al die hele week.

Sy ma se enigste suster, ousie Rita, het sowaar vir haar ’n man loop vang en dit nogals in die grote Kaap.

Sy arme ma was so opgewonde dat sy haar lag nie kon hou toe die Kaapse taxi gisteroggend hier stilhou om haar te kom laai nie.

Sy het vir hom Kaapse lekkers en van die troukoek belowe, maar dit traak hom nie. Hy het ander planne vir die weekend.

“Kyk nou mooi aan die huis, Boetie. Daar’s genoeg kos in die fridge en ma het vir jou ’n geldjie daar by nenna Trien gelos, hoor!” sê ma Hettie opgewonde en waai met ’n wit sakdoekie by die taxi se venster uit.

Die Karoo-son het reeds ver oor die Swartberge getrek toe Spokie voor sy ma se spieëltafel staan. In een van ma Hettie se rokke, en met die rooi pruik op sy kop lyk hy vanaand soos haar ewebeeld. Hy sit die rooi lipstiffie aan sy mond en staan effens terug van die spieël.

Masterpiece Elton van der Ross.

DAAR kan nie meer baie mense daar binne wees nie.

Die musiek uit die jukebox is ook nie so hard soos gewoonlik nie. Sy hart klop vinnig toe hy net ’n paar treë van Daniel Britz se tavern is. Jy kan nie nou kop uittrek nie, Elton van der Ross. Hiervoor het jy te lank gewag.

Die musiek uit die jukebox word meteens afgeskakel. Dan hoor hy gille uit die tavern kom. “O Here, help! Hulle het hom gesteek.”

Onder die flou straatlig voor die tavern sien hy mense saamdrom. “Bel die ambulans. Pietertjie is gesteek!” gil ’n vrou.

Nou’s my kans, dink hy. Daniel Britz en sy trawante is ook buite om ondersoek in te stel oor wie die steker was. Spokie slaak ’n sug van verligting toe hy binne die tavern is.

Hier’s niemand binne nie, maar hy sal gou moet skuiling vind voordat Daniel en sy guards terugkeer.

Hy hoor later stemme binne die tavern. Dit is Daniel wat sy werkers groet.

Dan word die deure van binne gesluit. As Daniel geskok is, verberg hy dit goed toe Spokie in die deur van sy kantoor staan.

“Naand, Pa,” groet hy smalend.

“Naand, ou seun. Het Mamma jou gestuur om ’n ou geldjie te kom haal?” vra hy gemaak geamuseerd terwyl sy hand na die lessenaarlaai voor hom reik.

Daniel se glimlag verdwyn amper onmiddellik toe hy besef sy vuur­wapen is weg.

Spokie glimlag triomfantelik toe hy Daniel se rewolwer uit ma Hettie se handsak te voorskyn bring.

“Pa soek seker hierna?”sê-vra hy sonder om sy blik van die geskokte Daniel af te haal. Dié steek sy hande senuagtig in die lug.

“Ek weet ek is lank reeds overdue met jou onnerhoudsgeld, maar ek dink ons twee kan iets uitwerk.”

Spokie reageer nie, staar net na die pakkies geldnote op Daniel se lessenaar.

“Jy kan nou maar die rewolwer teruggee voordat iemand dalk seerkry,” probeer hy weer, maar hierdie keer kalmer.

“Ek stel nie in jou geld belang nie, jou stuk gemors.”

Daniel ruk soos hy skrik toe Spokie die vuurwapen sekuur na sy voorkop rig.

“Jy het my arme ma al die jare vir ’n gat gevat, haar verkrag en daarna soos ’n hond behandel.”

Ek sal iets anders moet probeer, dink Daniel waar hy steeds roerloos agter sy lessenaar sit.

“Die geld wat jy hier voor jou sien, behoort tog alles aan jou. Jy kan alles vat en dan vergeet ons van hierdie hele onsmaaklikheid. Wat sê jy?”

Spokie se kop is meteens ’n stuwende deurmekaarspul. Hy maak sy somme vinnig. Dis ’n moerse klomp geld. Hy kan vir ma Hettie ’n klomp ...

Die volgende oomblik spring Daniel op en gryp desperaat na die rewolwer. ’n Skoot eggo deur die leë tavern. Spokie staar ’n oomblik roerloos na Daniel se lewelose liggaam.

Bloed stroom soos ’n stuwende fontein uit sy kop.

DIT is net ná middernag toe Spokie die dorp verlaat in Daniel se splinternuwe dubbelkajuitbakkie. Die pad is grafstil en as niks voorval nie, behoort hy teen dagbreek in die Kaap te wees.

Hy glimlag breed. Ma Hettie-hulle gaan ’n moerse hou verbaas wees om hom daar te sien. Hy tas in die kajuit rond en voel versigtig aan die banksak en Daniel se rewolwer.

Met Dié geld wil hy eers vir ma Hettie ’n nuwe wasmasjien koop, sommer daar innie Kaap.

Hy sien mos altyd in Sonhoe goedkoop die goed in die Kaap is.

Dit is net ná 03:00 toe hy die vallei van die Slapende Skoonheid binnery. Daar’s nie tyd vir stop nie, maar hy moet diesel tap.

Die petroljoggie gaap lui. Die skerp ligte van ’n polisiemotor wat agter hom stilhou, verblind hom in die truspieël.

Hy hou die groot sersant met sy vriendelike gesig gespanne dop toe hy uitklim en sonder haas in sy rigting aangestap kom.

Spokie se moed begewe hom en hy trek met skreeuende bande weg – sonder om te betaal. ’n Wilde jaagtog volg totdat hy hom in ’n doodloopstraat bevind.

’n Oomblik lank sit hy roerloos agter die stuur, omring deur polisie en verkeersbeamptes. Dit is verby – hulle het hom, dink hy.

’n Stem bevel hom dreigend oor ’n megafoon om uit te klim met sy hande agter sy kop. Oomblikke later sit Spokie geboei agter in ’n vangwa. Die sersant van vroeër kom loer versigtig deur die tralies.

“Jislaaik, ouboet, en hier wou ek jou net komplimenteer oor jou pragtige bakkie, toe jaag jy weg sonder om vir jou brandstof te betaal.

“Jy kon nou al ver gewees het, maar vrees laat ’n mens partykeer baie dom dinge aanvang.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters