Verlede maand
Dit blyk daar’s iets fout met oom Mannie
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Koekblik Vir ’n Beter Lewe is ESME CUPIDO se jongste skryfstuk. Geniet die eerste hoofstuk!

MIA klap die yskas toe. “Hier’s niks in die yskas nie. Jy was dan gister winkel toe om kos te koop.”

Sy gryp ’n verrimpelde appel – die laaste een – uit ’n bak en kyk haar ouer suster gekwel aan.

“As jy minder soos ’n ruspe eet, kan ons dalk uitkom met die bietjie wat ons kan bekostig,” sê Jenny streng. “Ek het brood gekoop en daar is jêm. Maak vir jou ’n toebroodjie.”

Jenny sug, sit agteroor en vee oor haar gesig. Sy werk al die hele oggend aan ’n taak wat die volgende dag moet in wees.

As sy net nie so bekommerd was oor hul geldsake nie.

Sy kry darem ’n beurs om haar studies te betaal, maar die bietjie wat elke maand uit die beursfonds in haar rekening betaal word, is so min.

Daarmee moet sy Mia se skoolfonds betaal, huur betaal, kos koop en hul taxi-geld dek.

En hierdie maand is dit ekstra-moeilik, want haar suster het haar arm gebreek toe sy kop en gat uit ’n boom geval het.

’n Jong 17-jarige wat nog boomklim, dink Jenny met ’n glimlag. ’n Klop aan die deur onderbreek haar gedagtes.

Sy staan op om tee te maak. Dalk sal dit help om haar aandag weer by haar boeke te kry.

“Jenny, oom Mannie soek jou,” roep Mia uit die sitkamer. Toe Jenny in die sitkamer kom, sien sy die ou oom steeds in die oop voordeur staan, ’n groot groen sak in sy hand.

Mia sit klaar weer diep geïnteresseerd in die sepie op die televisie. “Hallo, oom Mannie! Kom binne! Lanklaas gesien. Ek het gister–”

“Nee, dankie, my kind. Ek bring net hierdie vrugte vir julle twee. Ek is eintlik haastig, want ek het kos op die stoof wat houtskool gaan verbrand.”

“Dis gaaf van Oom. Baie dankie,” sê Jenny met opregte waardering en vat die onverwagte swaar sak by die oom.

“Nou ja toe, lekker aand! Geniet die vruggies!” en met ’n waai is oom Mannie haastig weg.

Verbeel sy haar of is oom Mannie nie so joviaal soos altyd nie, dink Jenny toe sy die deur toemaak.

“Watse vrugte is daai?” vra Mia nuuskierig, sonder om haar oë van die televisie af te neem. “Gooi vir my een,” voeg sy by en hou haar hande bak.

Jenny rem aan die stywe knoop en toe sy dit ná ’n gesukkel losgewoel het, sien sy dis ’n klomp lemoene. Sy haal twee uit en knoop die sak weer toe.

“Hier!” roep sy en gooi ’n lemoen wat netjies in Mia se hande val.

“Jen, jy mis uit! Die stuk raak nou next level! Onthou jy daai homeless man wat in die vullisdrom gegrawe het? Dit lyk dan nou hy is die–”

“Sjuut!” maak Jenny haar suster laggend stil terwyl sy die swaar sak na die kombuis sleep-dra.

“Ek gaan môre die herhaling kyk. En sit die TV effens sagter. Die mense vier strate van ons kan elke woord hoor.”

Jenny oorweeg dit om ’n klomp lemoene in die vrugtebak uit te gooi, maar besluit om dit die volgende dag te doen.

Haar taak moet nou eers klaar gedoen word.

Maar toe sy weer voor haar boeke inskuif met haar koppie tee, bly dink sy aan oom Mannie en die lemoene wat hy gebring het.

Die oom bly in die woonstel op die hoek, twee deure van hulle af. Die dag toe die oom ingetrek het, het Mia toevallig buite op haar selfoon gesit en klets.

Toe sy Mia later soek, was sy besig om oom Mannie te help om sy goedjies uit te pak. En so het hul vriendskap met oom Mannie begin.

Die enigste ander mens met wie oom Mannie gesels, is die gawe ou oom wat in die eerste flat bly.

Oom Mannie is baie vaag oor sy verlede, maar hulle weet darem dat hy ’n suster het.

Sy sug, vat ’n laaste slukkie van die tee en trek haar boeke met mening nader.

DIE volgende oggend staan Jenny al in die deur toe sy Mia ongeduldig aanmoedig om klaar te maak.

Sy trek haar mussie dieper oor haar ore en wonder of sy dalk ’n warmer serp moet kry.

Mia hardloop soos ’n afkophoender tussen hul kamer en die kombuis, gryp iets hier en los iets daar. Sy soek haar skooldas wat sy die vorige middag iewers neergesmyt het.

Sy sien oom Mannie by sy deur uitkom, swart pet laag oor sy oë getrek en toegewikkel in ’n bruin jas.

“Môre, Oom!” groet Jenny vrolik.

“Weer eens dankie vir die lemoene. Dis stroopsoet,” lieg sy.

Maar oom Mannie groet ingedagte met ’n vae kopknik en stap vinnig verby haar. Wat sou hom makeer?

En waarheen is hy so vroeg op pad? Sy skud haar kop en loer weer die sitkamer in.

“Mia! Ek loop nou! Jy gaan laat wees vir skool!” skree Jenny.

Sy loop tot by die kompleks se klein hekkie en kyk oor haar skouer om te sien of Mia aankom.

Jenny sien oom Mannie se rooi karretjie by die outomatiese hek uitry en wonder weer of daar fout is met die oom.

Sy moet maar namiddag ’n draai gaan maak om te hoor of hulle met iets kan help.

Jenny stap tot in die straat en spring net betyds weg toe ’n haastige grys karretjie ’n poel water laat spat.

Mia kom met ’n swaar rugsak aangedraf, ’n lemoen in elke hand.

“Ek gaan vandag weer honger ly – net twee lemoene om my deur die dag te vat.

“Ek sal by Millie ’n sny brood moet loaf,” sê Mia terwyl sy die twee lemoene in ’n sysakkie van haar rugsak probeer druk.

Die namiddag toe Jenny by die huis kom, lê Mia opgekrul op die bank en slaap. Haar oë versag toe sy die ronde wangetjies sien wat net-net sigbaar is onder die kombers. Hoe sou die lewe gewees het as Mammie nog geleef het? wonder Jenny met ’n sug toe sy haar boeksak oor ’n stoel in die kombuis haak.

Daar sou minder bekommernisse gewees het, want Mammie sou sorg. Sy tap die ketel vol water en gooi ’n teesakkie in ’n koppie.

Gou die hoender in die oond braai, dan vir oom Mannie daarvan neem.

Hy sal dankbaar wees, want sy weet hy sukkel met die kosmakery. Ná die vierde klop aan oom Mannie se deur, draai sy aan die deurknop.

G’n wonder oom Mannie kon haar nie hoor nie, want die televisie speel kliphard, dink Jenny toe die deur oopglip.

Sy sien oom Mannie in sy gunstelingstoel, slaap soos ’n dooie, die TV se remote slap in sy hand.

Nadat sy die kos in die mikrogolf gebêre het, staan sy vertwyfeld of sy die televisie moet sagter stel.

Dis toe sy in oom Mannie se gesig kyk, dat sy besef iets is verkeerd. Oom Mannie se oë staar dof die verte in …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters