Verlede maand
Dis ’n regte saak van gebed toe die spulse muis kom
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Die terrible­ twins, Merle en Merlene, stem in om die panty-dief te help vang. Hulle stel voor dat ’n panty-strik vir die perv gestel moet word. Almal kom ooreen om later by Cathy se huis bymekaar te kom waar hul “aas” op die wasgoedlyn gehang gaan word. Maar gaan die perv aan hierdie “aas” byt? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE­ JASON­ se “Die Online Shopper”.

DAARDIE aand is daar nie tyd vir Suidooster kyk nie.

Vroegmiddag al het die vroue by Cathy se huis byeengekom, soos vroeër afgespreek.

Almal van hulle steek uit met ’n oornagtassie waarin hul onderklere is.

Die plan is om dit op Cathy se wasgoedlyn te hang as lokaas vir die perv na wie almal van hulle met ’n seer hart soek.

Suster Ronelle is al by haar aankoms ongemaklik. Terwyl al die ander vroue sommer hul onderklere in die sitkamer uitgegooi het, klem sy haar oornagtassie styf in haar hande vas, so asof dit die PowerBall-wennommers bevat.

Toe Cathy dit agterkom, loop sy tot by suster Ronelle en neem die tassie uit haar hand.

Suster Ronelle wil nog teen die karre skop, maar Cathy wil niks verstaan van let go nie.

In die heen-en-weer-trekkery van die tassie, skiet dit oop en ál suster Ronelle se onderklere beland op die vloer.

Vir ’n oomblik is dit so stil dat ’n mens ’n speld duidelik kan hoor val. Toe bars al die vroue uit van die lag. Suster Ronelle het nie ’n ander choice as om maar saam te lag nie.

“Jy is ook maar lekker stout, suster,” sê Merle laggend.

Almal kyk Merle verbaas aan, want Merle is nie een wat much lag nie.

Die laaste keer wat enige van die vroue kan onthou dat Merle even net gesmile het, was toe hulle in matriek laughing gas ingeasem het.

Selfs toe het Merle net so ’n paar proesgeluidjies gemaak, maar nou ... nou kraai sy bo uit van die lag.

Selfs Merlene se skouers skud van die lag.

Lientjie breek haar ook en Cathy lê soos ’n lag-my-klaar-emoji op die bank.

Half ongemaklik tree suster Ronelle vorentoe en begin haar onderklere van die vloer af optel.

“Daar is geen reël wat sê ’n suster in Christus mag nie G-strings dra nie,” sê sy deur stywe lippe – die lippe op haar mond.

“Nee, nee, daar is nie fout nie,” probeer Cathy die situasie red.

“Dis net ... wie sou nou kon dink dat oom Piet so ’n lucky man kan wees? G’n wonder die ou loop elke Maandag met ’n huppel in sy stap werk toe nie.”

“Dis sy enkels wat so pyn waar ek hom geskop het as hy Sondag­aande in die kooi lastig wil wees,” antwoord suster Ronelle en bars dan uit van die lag.

“En hier dog ek broer Piet het ’n dent in jou naat gekap, maar dit is al die tyd hierdie klompie G-strings,” sê Merle en bars weer uit van die lag.

Sy vee die lag­trane wat oor haar wange stroom, met die agterkant van haar hand af.

“Ek het lanklaas so lekker gelag. Ek kry nie eens soveel vreugde by my vibra–...”

Merle bly meteens stil. Sy kyk streng na die ander. “Susters moet saamstaan en vanaand staan ons saam teen die perv,” sê sy.

“Amandla!” skree Lientjie. “Laat dit vibreer!”

Die duiweltjies dans skaamteloos rond in haar oë.

Merle brom onderlangs. Merlene kry suster Ronelle aan die hand beet en trippel kombuis toe om die ketel te gaan aansit.

Suster Ronelle loop taamlik ongemaklik saam.

Cathy haar draai na Merle. “Oukei, so ons hang ál hierdie goedjies op en maak van my wasgoedlyne een groot panty show. En dan wat?”

“Dan wag ons vir die jagse poppe om te begin dans,” antwoord Merle.

TEEN 22:00 is die vroue al diep vaak. Lientjie kla dat sy al skeel begin kyk van so deur die skrefie in die gordyne loer.

Die res van Cathy se huis is in donkerte gehul. Die enigste beligting is die bietjie maanlig wat maar aan die suinige kant is.

Cathy kla van krampe wat haar kasty en Merle is al moeg van push-ups doen.

Niemand is meer lus vir al die bekers koffie wat Merlene en suster Ronelle aandra nie.

Om almal wakker te hou, het suster Ronelle al ’n paar koortjies gesing, maar met haar Idol-lose stem, het sy die ander meer na die graf gedryf as opgebeur.

Voordat suster Ronelle nog ’n Hillsong song kan violate, gil Merle vir once in haar lewe soos ’n girl.

“Sien julle wat ek sien?” fluistervra sy van die sitkamer se venster af. Lientjie kruip op haar knieë tot by Merle en stamp haar amper uit die pad soos wat sy deur die venster wil loer.

Die ander hou hul asem op. Nadat sy lank die donker ingetuur het, draai Lientjie om en knik bevestigend in die ander se rigting. Dan besef sy die ander kan haar heel waarskynlik nie behoorlik sien nie.

“Affirmative,” fluister sy dan. “Die spulse muis is in die huis.”

Merle kry Lientjie aan die skouer beet en sleep haar soort van na die ander toe.

Dan loop sy na ’n toksak wat sy saamgebring het en zip dit oop. In die maanlig maak die vroue ’n baseball bat uit.

“Is geweld nodig?” vra suster Ronelle skrikkerig. “Die Bybel sê–”

“Die Bybel sê jy moet diegene tug vir wie jy lief is,” val Merle haar in die rede. “En wie sê nie daai vuil uil hier buite gaan gewelddadig tekere met al jou panties nie?”

Suster Ronelle het nie ’n comeback nie. Die res is nie lus om met Merle te stry nie.

Netnou is hulle aan die ontvangkant van daai baseball bat. Almal weet immers dat as kop uithaak al ooit ’n person was, dan is dit Merle.

Merle wink aan die ander vroue om haar te volg.

Plek-plek trap hulle in die donker op mekaar se hakke. Suster Ronelle moet ’n bietjie van Job se geduld leen om nie hardop te vloek nie toe dit voel asof Lientjie haar hakskene nerfaf wil trap.

Merle maak die voordeur saggies oop en beweeg katvoet vorentoe. Die ander is veels te kort op haar hakke na haar sin.

By die hoek van die huis gekom, loer Merle wasgoeddraad se kant toe. Wragtigwaar – sy maak ’n figuur uit wat besig is om een vir een hul panties af te haal.

Dan, met ’n kreet wat ál die ander se ore laat tuit, storm Merle vorentoe, baseball bat hoog bokant haar kop.

In die hardloop gooi sy die baseball­ bat egter eenkant toe en tackle die persoon soos ’n wafferse rugbyspeler.

’n Manspersoon kreun kliphard. Panties fly in alle rigtings.

’n WWE-gestoei soos min weergalm deur die nag. Die straat se honde gaan bos met hul geblaf.

Met bewende hande skakel Cathy haar flits aan en skrik haar tot ’n next level van lockdown toe sy die man herken met wie Merle so stoei ...

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters