18 dae gelede
Dino is glad nie hêppie met die nuus oor Leila
 ~ 

SONLANDERS, die verhaal “Die Plan”uit die pen van GWENDOLINE KORDOM gaan vandag voort.

Geniet nou die tweede hoofstuk.

‘KOM binne,” sê Dino Maartens.

Hy vryf ingedagte oor sy swart krulkop. ’n Diep frons hang tussen sy oë toe pastoor Abel in die deuropening verskyn. Wat wil die herder nou weer hê?

“Pastoor Damons, sit asseblief,” sê Dino.

Pastoor Damons sink in die stoel oorkant hom neer.

“Dankie, Dino, en baie dankie dat jy my dié tyd van die aand kon sien. Dis nogal dringend.”

“Ek het altyd tyd vir ? dienaar van God. Waarmee help ek?”

“Dis in verband met Leila.”

Dino se regterwenkbrou lig. Hy probeer hom rustig hou terwyl hy angstig wag dat die ouer man verder praat.

“Hettie het ? boodskap van Leila ontvang.”

“Wanneer?!” vra Dino en vlieg byna uit sy stoel uit. Leila leef?! Bishop beter ’n goeie verduide­liking hê hoekom sy vrou nog leef. Of anders sal hy die gevolge dra.

“So ’n rukkie gelede. Ons verstaan nie so lekker wat aangaan nie, Dino.

“Jy het gesê Leila is met vakansie op Kleinbaai, tensy daar iets met haar gebeur het by die plek waar sy tuis is?”

Dino vryf oor sy stoppelbaard.

“Ek en Leila het vroeër oor die foon gesels en sy het piekfyn geklink,” lieg hy gladweg.

“Hoekom stuur sy dan boodskappe van ’n vreemde nommer af?” vra pastoor Damons.

“Wat sê die boodskappe?”

“Dis juis die ding wat ons nie verstaan nie. Sy het die kontaknommer van die stasiebevelvoerder gevra. Dis blykbaar dringend. Sy is in die moeilikheid.”

Dino se vuiste bal op sy skoot. Die klein merrie. Dink sy wragtig James Eckert sal haar help? Hy wat Dino is, besit die dorp en almal daarin. Sy behoort dit te weet. Of probeer sy hom kontak omdat James haar eks is? James weet teen dié tyd waar sy lojaliteite lê en dis beslis nie by Leila nie.

“Sy het selfoonprobleme daar anderkant opgetel, Pastoor. Sy gebruik iemand se nommer om my te kontak. Die selnommer behoort seker aan een van die gaste daar rond. Sal u omgee as ek na die nommer kyk? Dis dalk dieselfde nommer wat sy vroeër gebruik het om my te kontak.”

Pastoor Damons sien nie sluwe glinstering in Dino se oë toe hy oorleun. Die oom oorhandig die selfoon. Dino staar na die nommer. Hy tik dit vinnig in. “Wil jy nou meer, dis dieselle nommer.”

“So, daar is niks fout met Leila nie?” vra die ou man weer.

“As daar was, sou Pastoor die eerste persoon wees wat ek in kennis stel.”

Dan trek Dino die bolaai van sy lessenaar oop en pluk ’n rol note uit. “Ek het laas vergeet om dié vir Pastoor te gee.”

Dino staar ingenome na die ou man se breë glimlag. Bleddie geldvraat. Pastoor Damons sê nooit nee vir so ’n meevallertjie nie. Dino is ook doodseker pastoor Damons weet wat die geld beteken.

Tannie Hettie beter haar groot snater vir haarself hou, anders lê dit weer die hele Kroonkop vol.

“Sê vir tannie Hettie sy hoef nie te worry nie. Leila is oukei.”

Pastoor Damons gryp die geld en in sy haas om weg te kom, struikel hy byna oor sy voete.

“Natuurlik, Dino. Ek sal Hettie gerusstel. Jy hoef jou nie verder daaroor te bekommer nie.”

Dino grinnik en kyk hoe die klein gestalte van die oom by die deur uit verdwyn. Hulle is almal dieselfde. Van die raadslede tot die heilige manne. Gee net ’n goeie donasie en hulle is happy. Doen ook soos jy vra.

Dan beskuldig dieselfde mense hom van onderduimsheid. Ja, hy’s ’n geharde sakeman en kry dinge reg op ? manier waarop hy nie trots is nie. Maar hy sal eendag daarvoor moet les opsê, nie hulle nie. So, wie’s dié mense met hul korrupte siele? Niks beter as hy nie.

Dino verroer nie ’n voet toe die studeerkamer se deur oopvlieg nie. Ook nie toe hy in Bishop se bakkies vaskyk nie.

Hy wag totdat Bishop praat.

“Ek het haar geskiet. Sy het die skoot oorleef en ontsnap,” sê Bi­shop in sy diep stem.

Soms weet Dino nie waar presies hy met Bishop staan nie. Bishop is nie soos enige ander ou in sy diens nie. Hy doen sy eie ding en kry gewoonlik die beste resultate uit enige taak wat hy aanpak. Hy misluk weinig.

Hoe lank werk Bi­shop al vir hom? Byna 10 jaar? En tot vandag weet hy niks van hierdie stil man nie.

Sy sakevennoot, Alexander, het hom destyds aan Bishop voorgestel toe hy las gehad het van Joe Zaki, ’n gewetenlose bliksem. Bi­shop het van Zaki ontslae geraak.

Waar Bishop sy opleiding gekry het, weet hy nie. Daar’s gerugte hy was ’n soldaat iewers in Afrika.

Wat hy wel agtergekom het, is dat Bishop anders na Leila kyk. Dino weet nie presies wanneer hy dit agtergekom het nie. Hy en Leila is vier jaar getroud, so Bishop was al hier toe Leila ingetrek het.

Bishop was ook altyd in die middel wanneer hy Leila tug. Kan dit ook die rede wees hoekom Leila uit Bishop se hande ontsnap het of het hy haar laat gaan?

“Past. Damons was pas hier. Ons dierbare Leila het van ’n vreemde nommer na tannie Hettie gebel. Sy en die ou koei is mos al jare lank hand om die blaas. Só erg dat die antie haar as Leila se moeder aangestel het. Weet jy wat beteken sulke foute, Bishop?”

Hy sê niks nie.

“Wel, aangesien jy net ’n bek vol tande is, sal ek dit uitspel.

“Leila weet alles! Van die dwelms en wapensmokkelary tot die burgemeester se noodlottige ongeluk! As ek ondergaan, vat ek jou saam!”

“Leila het hulp gehad,”sê Bishop ná ’n lang stilte. “Daar was ’n man in die duine. Lyk asof hy karprobleme gehad het. Leila het in sy kar gespring en weggejaag.”

“So maklik? Waar was jy en jou vuurwapen, Bishop? Hoekom het jy dit nie gebruik nie?”

“Ek het ’n paar skote op die kar gevuur, maar moes toe waai. Die skote het aandag getrek en ek het stemme gehoor aankom,” sê Bishop ongeduldig.

“Leila sterf vandag nog... of anders is dit jy,” sis Dino.

Uit Bishop se oë skyn ’n harde glans. Hy klem sy kake en dit lyk asof hy reg maak vir ’n aanval.

Dino voel skielik onseker. Hy weet die bleddie Bishop sal hom in twee sekondes in sy moer stuur.

Tog het Bishop nie sy tipe agterbaksheid nie. ’n Koeël deur die agterkop en Bishop is iets van die verlede. Hy betaal sy salaris, so hy beter doen soos hy vra.

“Gaan terug, Bishop. Maak dié keer seker sy is dood.”

Bishop knik, dan draai hy om en stap woordeloos uit die vertrek.

Dino staar die lenige, gespierde man agterna. Dié keer is hy doodseker hy het ? vae hartseer trek in Bishop se oë gewaar. Dino vervloek die dag dat hy sy oë op die mooie Leila gelê het.

Vir dié tipe moeilikheid sien hy wragtig nie kans nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters