16 dae gelede
Dino en Leila se bymekaarkoms verloop anders
 ~ 

SONLANDERS, die verhaal “Die Plan”, uit die pen van GWENDOLINE KORDOM, gaan vandag voort.

Geniet nou die vierde hoofstuk.

CARLO haas hom na binne toe die voordeur klap. Deur die venster sien hy die skraal figuur van Leila kleiner en kleiner word. Die hemp wat hy haar “geleen” het, hang soos ’n sak aan haar dun lyfie.

Hy mik om haar te volg, maar bedink homself. Heelwat later staan hy steeds besluiteloos voor die venster toe sy selfoon lui.

Hy herken nie die vreemde nommer op die skerm nie. Dalk is dit iemand wat na Leila soek?

Hy druk die antwoordknoppie.

“Hallo?” Daar volg ’n stilte en dan kom die growwe stem deur.

“Mag ek met Leila praat?”

Carlo se hartklop versnel.

“Ek ken nie so iemand nie. Jy het dalk die verkeerde nommer, pel.”

“Ek weet jy is die man met wie Leila verdwyn het. Ek weet ook wie jy is en wat jy doen.”

“Dan sal jy ook weet dat ek die media aan my kant het. En jy weet wat gebeur wanneer iemand met openbare aansien soos jy in die nuus verskyn.

“Dit trek ál die verkeerde aandag.

“Die plaaslike polisie mag dalk aan jou kant wees, maar ek het genoeg kontakte om die lewe vir jou baie moeilik te maak, Dino Maartens,” sê Carlo.

Hy kan skaars die bewing in sy stem verbloem.

“Jy het duidelik nie ’n idee met wie jy te doen het nie, anders sou jy nie sulke tipe dreigemente oor die foon maak nie! Dink jy ek moet bewe vir ’n koerantmannetjie?! Jy ken nie vir my nie!” blaf Dino aan die anderkant.

“Koebaai, Dino,” knip Carlo die gesprek kort.

Hy sink op die naaste stoel neer.

Hy moet Leila vind voordat Dino hom voorspring. Wat dan? Waar begin hy om haar te help? Eerstens moet hy sorg dat hulle die nodige bewyse van haar bewerings teen Dino ondersoek.

Hy sal sorg dat een van die beste nuushonde die spoor volg. Al moet hy ook later self in Dino se sake delf. Iewers sal iets opduik.

Uit Leila se vertelling is Dino se regterhand die man om uit te vra. Hy wonder teen watter prys Bishop omgekoop kan word? Carlo spring op. Hy het weer ’n doel in die lewe gevind. Hy het lanklaas soveel opwinding gevoel.

Noudat hy weer rigting het, weet hy presies waar om te begin. Hy ignoreer die gelui van sy selfoon, veral toe hy dieselfde nommer op die skerm sien. Hy druk die oproep dood en maak ’n paar oproepe. Daarna wag hy vir Pikes, ’n kollega, om hom te kom haal.

Leila kyk dankbaar na die gryskop oom Gawie, ook ’n inwoner van Kroonkop. Hy het haar ’n halfuur terug met sy afgeleefde tjorretjie langs die hoofpad opgetel. ’n Verdere 10 kilometer en hulle is tuis. As daar een ding is wat sy geleer het, is dit dat jy nie vir ’n opponent terugstaan nie, al is dit jou eie man.

Dino verkeer onder die indruk sy vlug en sy kan dit tot haar voordeel gebruik.

Leila weet as jy die bul by die horings wil pak, moet jy jou opponent onkant vang. Dis een van die dure lesse wat sy as Dino se vrou geleer het.

Dis ook hoe die aanrandings plaasgevind het. Uit die bloute, wanneer sy dit die minste verwag het. Sy is seker dit het hom sadistiese genot verskaf wanneer sy soos ’n gebreekte lappop op die grond gelê het.

Daar het hy haar soos ’n hond geskop. Die bliksem was slinks genoeg om nie haar gesig te verniel nie. As sy hom net kan kry om oop kaarte te speel, die misdade te erken wat hy sover gepleeg of laat pleeg het. Veral die ongeluk waarin Cynthia en die ander twee betrokke was. Leila sug hardop.

“Jy moenie toelaat dat die lewe jou onderkry, kind,” sê oom Gawie skielik uit die bloute. Vir ’n oomblik was sy so in haar gedagtes vasgevang dat sy byna vergeet het van hom. “Die oomblik wat jy opgee, is juis die oomblik wat die rigting van jou lewe verander.”

Die oom se ouderdom lê in diep lyne op sy breë voorkop gekerf.

Dan dink sy aan haar eie lot en wonder of dit die beste idee is om Dino trompop te loop.

Sy het geen wapens tot haar beskikking nie. Net die plan wat in haar kop vorm.

“Dankie, oom Gawie. Ek sal hierdie woorde onthou wanneer ek heel aan die anderkant uitkom.”

Hulle ry in stilte verder. Leila se hart bons toe sy die afdraaipad na Kroonkop herken.

Terugdraai is nie ’n opsie nie, want daar is te veel op die spel.

Dino Maartens sit steeds op dieselfde plek waar Bishop hom gelos het. Hy kom nie agter die son het gedraai nie. Hy staar nikssiende voor hom uit. Leila is toe glad nie so ’n leëkoppie soos hy gedink het nie. Om nogal met iemand in die media betrokke te raak. Hy het haar duidelik onderskat. Leila weet dis sy plan om eendag burgemeester van Kroonkop te word.

Sy weet ook om so iets te bereik, is jou reputasie gedurig op die spel. Sy gaan dit natuurlik tot haar voordeel gebruik. Die enigste wapen aan sy kant is dat sy geen bewyse het van enige misdrywe waarby hy betrokke was nie. Net dit wat sy uit sy mond gehoor het. Ja, hy het die polisie aan sy kant, maar die mense wat hy benodig, is die publiek.

Dino se mond vorm ’n dun lyntjie. Carlo watsenaam klink soos ’n man met jare se ondervinding. Nie iemand wat hy maklik kan begrawe nie. Met hoeveel mense het hy al gepraat na aanleiding van wat Leila oorvertel het?

Wat as hy iemand hoër op kry om die sake te ondersoek? Soos die polisie se intelligensiediens.

Dino weet sy kop raas. Hy moet homself onder beheer bring. Hy het geen rede om nóú al paniekerig te raak nie.

Hy ruk byna uit die stoel toe ’n klipharde klop hoor.

“Binne,” sê hy ergerlik. Sy blik verstar. Dis Leila, met ’n breë glimlag. Hy vlieg op, maar vries toe hy die ouer vrou agter haar sien.

Tannie Hettie stoom die vertrek binne. Terwyl Dino nog wonder wat aangaan, is sy voor die lessenaar. Sy gluur hom van onder twee digte wenkbroue aan.

“Ek hoor jy wil van Leila skei. Haar dan sonder ’n sent los om haar eie potjie te krap. Wel, ék gaan nie toelaat dat dit gebeur nie! As jy van haar wil skei, sal sy die helfte van als kry! Jy’s agterbaks!” skreeu tannie Hettie.

“Tannie Hettie, daar was nooit sprake van skei nie,” sê Dino.

So, dís die game wat Leila speel.

“Snert! Hoekom anders sal jy haar aan haar eie genade oorlaat?! Sonder ’n sent nogal! Die gastehuisstorie was natuurlik ’n lieg!”

Dino het ’n begeerte om op Leila af te storm en die glimlag van haar bakkies te vee. Hy sal egter die ou koei moet verdra.

“Sit asseblief, dames,” antwoord hy. “Dan gesels ons hieroor.”

“Ek maak vir ons tee,” sê Leila. Sy glimlag steeds.

Dino knik hoflik. Leila het wel dié ronde gewen. Sodra hy van die ou vrou ontslae is, sal hy met haar afreken.

Dan gaan sy baie spyt wees.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters