20 dae gelede
Dikding Kenneth se dood is vir min mense ’n verlies
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Die dwelmbaas Kenneth McKenzie se dood het almal aan die gons. Vir talle is dit sommer goeie nuus. Sy dood beteken ’n nuwe begin vir almal van hulle. Nóg van sy gruweldade kom aan die lig. Geniet nou die slothoofstuk van CHRISTO MEYER se “Sondes van ’n Drug Dealer”.

DIT is voorbladnuus in Snuffel­, die Kaap se gewildste dagblad. Die opskrif alleen is genoeg om enige persoon wat nooit die koerant koop nie, te nooi om saam te lees.

“VERMEENDE DWELMBAAS VERKOOL­,” staan daar in groot, swart letters.

Daar is ook ’n foto van die brandende dubbelverdiepinghuis.

Nêrens in die berig word egter melding gemaak van die oproep wat Bianca van Eck van die vermeende moordenaar ontvang het nie.

Die berig is nie eens geskryf uit die perspektief van iemand wat ’n anonieme wenk ontvang het nie.

Op versoek van Ron Skiepers het Bianca nie eens vir haar redakteur vertel die moordenaar het haar gekontak nie.

In taxi’s op pad werk toe is dit ál waaroor die pendelaars praat. Talle is van mening dis Kenneth se verdiende loon, terwyl ander jammer voel dat hy op so ’n onmenslike wyse aan sy einde gekom het.

“Mense kan darem barbaars wees,” is van die kommentaar in die sosiale media.

Waar die moordenaar met die koerant op sy skoot in ’n hotelkamer sit, glimlag hy tevrede. Hy wou nog altyd die voorblad van Snuffel haal en hier het hy dit sowaar reggekry.

Dit voel byna te goed om waar te wees. Hy beskou homself as ’n held, want hy het die wêreld van ’n groot skurk bevry.

Sy aandeel in Kenneth se dood word wel nie genoem nie, maar hy is tog die een wat vir die berig verantwoordelik is en vir hom is dit oorgenoeg. As hy nie vir Bianca laat weet het nie, was daar nie nou so ’n bohaai oor die storie nie.

Hy is trots op homself en ook op Bianca van Eck. Sy het die situasie uitstekend hanteer.

Hy wens daar was ’n manier hoe hy haar kan bedank vir haar samewerking. Dalk kan hy dit weer in ’n anonieme oproep doen. As sy wou, kon sy die foon in sy oor doodgedruk het sonder om te antwoord toe hy haar gebel het.

Scarface bewonder haar al van die tyd toe sy nog met Marno getroud was. Hy het ook geweet sy sou nooit in hom belangstel nie. Veral nie met sy misdaadgeskiedenis en die lelike litteken op sy linkerwang nie.

Hy moet erken dit was lekker om haar van tyd tot tyd te stalk. Hy gaan dit nogal mis.

Spyt kom te laat, maar hy het baie dae gewens sy paadjies het nooit met Kenneth McKenzie s’n gekruis nie. En tog is Kenneth die een wat hom laat glo het die lewe is die moeite werd.

Kenneth het hom hoop gegee om vorentoe te kyk. Toe niks vir hom wou uitwerk nie en hy op die punt was om selfmoord te pleeg, het hy met Kenneth kennis gemaak.

Kenneth het hom ’n blyplek en ’n werk gegee. Die betaling was goed en hy het nooit onnodige vrae gevra nie; net sy opdragte uitgevoer.

Toe raak een van die ander ouens jaloers op hom omdat hy en Kenneth so goed oor die weg kom. Dié dra toe liegstories aan en skielik moes hy alles opgee en op die vlug slaan.

Kenneth wou niks meer met hom te doen hê nie. Hy het by die dood omgedraai en dis seker net ’n wonderwerk dat hy lewe.

Nou het hy genoeg van Kenneth se bloedgeld in sy besit om ’n nuwe rigting in te slaan. Miskien moet hy Windhoek toe gaan na familie wat hy jare laas gesien het, en daar ’n skoon blaadjie omslaan en ’n wettige besigheid begin.

Niemand hoef ooit te weet dis hy wat Kenneth se huis afgebrand het nie ...

VREEMD genoeg is Theresa McKenzie die ene kalmte toe sy verneem wat met haar man gebeur het. Haar optrede is so vreemd dat speurder Grootboom vir ’n oomblik wonder of sy nie iets met die brand te doen gehad het nie.

“As ek hom self wou doodmaak, sou ek dit lankal gedoen het,” antwoord Theresa toe Grootboom haar hieroor uitvra.

“Daar was oorgenoeg kanse, maar ongelukkig het ek dit nie in my om iemand koelbloedig te vermoor nie. Mag sy siel in vrede rus.”

Theresa se kalmte slaan oor in haat en woede toe dit op die lappe kom dat Sharon Koordom nie die enigste skoolkind is wat Kenneth gemolesteer het nie.

Een ná die ander kom nog slagoffers na vore. Hulle sê hulle was te bang om daaroor te praat omdat Kenneth hulle met die dood gedreig het.

Bianca van Eck volg op en gaan gesels ook met ouers wie se kinders se lewe as gevolg van dwelmmisbruik verwoes is.

“Kenneth McKenzie was gewetenloos,” sê een van die ma’s.

“Daar was net een persoon wat hy liefgehad het en dit is homself. Miskien is dit nie ’n mooi ding om te sê nie, maar dalk is dit beter om ontslae te wees van hom.”

Dit kom ook aan die lig dat Kenneth nie net by dwelms betrokke was nie, maar ook by transitorooftogte en mensehandel. Hy was glo die meesterbrein. Hy het op so ’n slinkse wyse te werk gegaan, nie eens sy vrou was hiervan bewus nie.

RON Skiepers het ook Bianca se berigte gelees. Hy onthou hoe dikwels hy en Kenneth koppe gestamp het.

Elke keer is die saak aan ’n ander speurder oorhandig en Kenneth het nooit geboet vir sy dade nie. Dis een van die redes hoekom Ron keelvol geraak en die polisie gelos het.

Hy’s ook bly McKenzie is nie meer met ons nie. Hy gee nie om wie daarvoor verantwoordelik is nie. Dit het niks met hom uit te waai nie.

Hy kan net hoop McKenzie se seuns volg nie in sy voetspore nie.

INTUSSEN is Theresa in die wolke. Die huis was verseker teen brand en die bedrag wat sy as uitbetaling ontvang het, is genoeg om elders aan te gaan met haar lewe.

Sy wil nooit weer naby Derde­rivier kom nie.

Kenneth was nie die maklikste mens om mee huis te hou nie. In die openbaar moes sy noodgedwonge glimlag soos ’n gelukkige vrou, maar agter geslote deure het Kenneth van haar sy slaansak gemaak.

Ter wille van die kinders het sy dit verduur, maar Sharon Koordom se verkragting was die laaste strooi.

Sy het vir geen oomblik getwyfel dat Kenneth dit wel gedoen het nie.

Toe bel sy haar ma en sê: “Ma, ek het nou genoeg van Kenneth se geboelie gehad.”

Haar ma antwoord dadelik: “Kom huis toe, my kind.”

DIE enigste persoon wat die nuus van Kenneth se dood swaar aanvaar, is Sharon se ma, Carol. Sy is vies dat sy nie gespring het vir die R20 000 toe Kenneth dit wou bring nie. Hoekom het sy uitgestel tot die volgende dag? Wie weet, dalk kon dit sy lewe gered het as hy nie daardie aand by die huis was nie.

Dalk kon sy hom agterna vir meer geld afgepers het. Maar nou ja, die dood het haar gecheat. Daar is niks wat sy nou daaraan kan doen nie.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters