11 dae gelede
Die zamaleks loop wyl oom Andrew vir sy kliënt wag
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Oom Boesman en sy vrou, Getruida, nader oom Andrew albei. En albei wil hê hy moet vir hulle ’n masker maak wat hulle wil inspan om die ander een aan die cheat te kry. Van nie wil uitverloor tydens ’n egskeiding nie. Maar in die proses kan oom Andrew self ’n lekker vet kroon maak. Geniet nou hoofstuk 6 van EL­DRIDGE JASON se “Oulik en Lillik”.

OOM Andrew is ’n bol senuwees terwyl hy in die Unroyal Hotel op sy afspraak sit en wag.

Drie zamaleks later is daar nog geen sien van oom Boesman nie.

Hy wat oom Andrew is, drink nie gewoonlik so baie nie. Dis amper toemaaktyd.

Hy loer vir die soveelste keer na die tyd op sy ou Casio-horlosie. ’n Bietjie minder as twee ure voordat die curfew inskop. Waar dwaal Boesman dan rond?

Die barman wink en vra of hy nog ’n bier gaan vat. Oom Andrew skud sy kop.

Hy kom nie baie hier nie, maar sy dop is altyd op die huis. So asof mense nou al ’n deposito wil neersit vir as hy hulle eendag in hul kis mooi moet laat lyk.

Hy sug swaar.

Hy gaan net hierdie bier klaardrink en dan ’n lange gooi. Heeldag deur gewerk om Boesman se masker klaar te maak en nou steek hy nie uit vir hul afspraak nie.

Getruida s’n is ook klaargemaak en al vanmiddag op ’n geheime spot vir haar gaan drop.

Oom Andrew vat ’n laaste sluk, breek hard wind en sit die glas dan ewe hard neer.

Hy skuif sy stoel agteruit, maar moet dan daaraan vashou toe hy amper sy balans verloor.

Dan buk hy af en tel die klein aktetassie op wat die hele tyd op die grond tussen sy bene gestaan het.

Hy giggel saggies. Net drie ou biertjies en sy knieë is amper lam. Amper so lam soos wat Getruida hulle nourie dag by sy werk gemaak het.

Die gedagte aan Getruida laat dit vir die oom voel asof ’n Jehovah’s Witness met mening aan sy broek se deur klop. Hy sal nogal as sy wil, dink die oom.

Die oom knik-groet in die rigting van die barman, Johnny Vegas.

Johnny het ’n dobbelprobleem. Hy het al eenkeer sy bejaarde ouers se huis onder hul stert uit in die pan gesit.

Gelukkig het hy wat oom Andrew is destyds die loan shark Rentekoers Rodney goed geken. Hy het sy pa ook vir sy funeral opgedollie.

Dié pa, Rentekoers senior, het mos destyds die helfte van sy gesig weggeblaas nadat hy Peanutbutterenjam Valley se mense con­vince het om in sy Bitcoin-besigheid te belê.

Baie het nie ’n coin van hul beleggings gesien nie en toe hulle harde vrae begin vra, was die druk te veel vir Rentekoers senior.

Met ’n bietjie innovasie en die inspan van herwinbare materiaal kon hy ou Rentekoers in sy kis darem geloofwaardig laat lyk.

Rentekoers Rodney was so dankbaar dat hy nie twee keer gedink het toe oom Andrew hom vra om Vegas se skuld na sy bygones-lêer te skuif nie.

Buite gekom, haal oom Andrew diep asem, grawe met sy een hand in sy broeksak en sukkel dan weer om sy masker oor sy gesig te kry.

Hy besef eventually dat dit heelwat makliker sal wees as hy die aktetassie neersit sodat sy ander hand ook kan help masker-masker speel.

Dit is sommer stront hierdie, dink die oom vies. Hy voel elke keer soos Zorro of ’n wannabe-bankrower wanneer hy sy masker moet opsit. Maar sy deel sal hy doen. Nie dat baie inwoners hier gehoor gee aan maskers dra nie.

Corona maai ook maar lekker hier onder inwoners, maar hulle glo mos Med-Lemon en Vicks sal alles regdokter.

Hy wat oom Andrew is, is nie nou al lus om die duiwel te gaan ontmoet nie. Hemel toe gaan hy anyway nie. Nie met hierdie gekonkel met Boesman en Getruida agter albei se rug nie.

Oom Andrew is nou van voorneme om aanstaltes te maak. Hy bly nie ver van die pub nie. Kar het hy ook nie.

Ligte vanuit die parkeerarea trek sy aandag.

Dit is donker en die straatligte skyn so flou soos Eskom se load­shedding-verskonings, maar hy herken onmiddellik oom Boesman se kar. Hy vloek saggies. Hy voel hoe sy blaas stadig begin om sy eiers te kielie om ’n pee te gaan vang.

Brommend stap hy in die rigting van oom Boesman se kar. Hy sien ’n figuur haastig wegstap van oom Boesman se kar af. Janice.

Toe hy by oom Boesman se kar kom, sak die vensterruit stadig af.

’n Vrag rook van oom Boesman se sigaar tref hom vol in die gesig en hy gaan dadelik aan die hoes.

“Jirre, wat vertroetel jy dan ’n veldbrand in jou kar?” vra oom Andrew verontwaardig en proes weer. Oom Boesman lyk min gespin.

Deur die sigaarrook kry oom Andrew ’n ander reuk. So ’n mengsel van rubber wat met vleis kontak gemaak het.

Oom Boesman moet my nou nie met die hand probeer groet nie, dink oom Andrew. Hy hoef nie te wonder waar daai hande was nie.

Nadat hy Janice skelmpies sien wegglip het, wéét hy nou waar daai hande was. En ook nie agterna gewas is nie, tensy Boesman ’n reservoir in sy kar het.

“Ek neem aan jy het my pakkie,” sê oom Boesman sonder om te groet. Sy oë is vasgeglue op die aktetassie in oom Andrew se hand.

Voordat oom Andrew kan antwoord, leun oom Boesman oor na sy passasiersitplek. Ná ’n gekreun soos min steek hy sy hand deur die venster en hou ’n stewige koevert na oom Andrew uit.

Oom Andrew gryp dit haastig en stop dit vinnig in sy baadjie se binnesak. Dan oorhandig hy die aktetas aan oom Boesman.

“Dis ’n baie delikate masker hierdie,” sê oom Andrew. Daar is soveel teerheid in sy stem, dis asof hy van ’n kind van hom praat.

“Jy sal dit nie net dadelik kan opsit nie. In die linkerkant van die tas is ’n buisie room waarvan jy eers–”

“Bla-bla-bla,” val oom Boesman hom in die rede. “Ek het nie tyd vir al daai dinge nie. I haven’t got time for all daai things not.”

Oom Andrew skud sy kop toe oom Boesman die venster weer opdraai, sy kar aanskakel en met ’n spoed wegtrek.

Domonnosel sal nooit slim word nie, dink die oom en begin weer aanstap.

As die oom nie so ingedagte was nie, sou hy die silhoeët opgemerk het van ’n figuur wat eenkant in ’n hoek staan. As die oom nie so ingedagte was nie, sou die oom gesien het daai figuur se oë brand soos kole vuur van haat.

Maar as is mos verbrande hout. Net soos asseblief sê ook mos al in ’n vuurpeloton omgekom het.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters