9 dae gelede
Die werkie klink eers te rof, maar sy oortuig hulle
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die twins Do en Die is gruwelik verby. Hulle hou min van skool, maar like daarvan om in ’n verlate grot te speel. Terwyl hulle op ’n dag daar speel, trek ’n weerkaatsende lig hul aandag. Geniet hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se verhaal “Do en Die”.

DO EN Die kan hul oë nie weghou van die weerkaatsende lig wat deur die grotkamer spring nie.

Dit staan nooit op een spot stil nie en nes dishwashing liquid wat uit sy bottel in ’n sink-bak loop, fassineer dit die tweeling.

Die lig flankeer seker so 10 minute met die twee, maar raak toe moeg van die twee broers entertain en verdwyn toe weer so skielik soos wat dit verskyn het.

“Ek wed jou dit is ’n diamant wat só geskyn het,” Do aan sy broer, Die.

Do is die slimste van die twee. Die is dáái stil een. Maar ook die sluwe een.

“Dan moet ons dit vang en gaan verkoop,” antwoord Die. Hy het klaar in sy mind uitgewerk hoe hy sy broer ’n kop gaan aansit met die verkoop van die “diamant”.

Do het nie lekker geweet wat sy broer bedoel nie.

Hoe vang ’n mens immers ’n diamant wat rondspring en nie op een plek stilstaan nie?

Hierdie vraag het hy natuurlik ook hardop geuiter. Soos gewoonlik het Die ’n antwoord gereed gehad: “Ons slaan daai diamant se knieë stukkend en dan kan hy nie meer so rondhop nie.”

Toe breek daar weer ’n stryery uit, want die broers kan nie ’n konsensus bereik oor waar ’n diamant se knieë nou kwansuis sou sit nie.

Die sweer hoog en laag dit sit op dieselfde plek as ’n mens se knieë, maar Do is nie oortuig nie.

Hy is weer van mening dat ’n diamant se knieë soos vlerke om sy lyf span en dat hierdie vlerke die rede is dat die diamant só van die een plek na die ander kan rondhop.

Hulle grom vir mekaar soos watse honger wolwe en is op die punt om mekaar te bespring, toe hulle ’n vrolike gelag agter hulle hoor.

Op ’n rots nie ver van die plek wat die twee ’n bokskryt wou maak nie, sit ’n meisie wat vaagweg bekend lyk.

Die strale sonlig wat deur die splete in die grot na binne stroom, maak haar gesig ’n silhoeët. Maar daar is iets bekends aan haar, so asof die twins haar al iewers gesien het. Hulle kan net nie die kloutjie by die oor kry nie. Daai ore wat nie so lekker wil luister nie.

“Oe, maar julle het darem dom gekom. Maar ek like dit. Ek like dit flippen baie,” sê die meisie laggend.

Haar stem is so strelend soos die Puma-salf wat oumsie Katryn altyd in verkouetyd aan hul bors smeer.

“Err ... Dankie,” sê Do en trek sy oë op skrefies. “Is jy ’n vlermuis of ’n ding?”

Weer weergalm die vrolike lag deur die grotkamer.

“Glad nie, ek is die genie waarna julle elke dag so kliphard soek.”

“Wonderlik!” roep Die uit. Hy is in sy noppies. “Kan jy ’n bietjie nader kom sodat ek met my eie oë kan sien hoe ’n genie lyk?”

Slu soos Die maar is, is sy plan om die “genie” te vang en haar te dwing om sy wense waar te maak.

Die meisie op die rots maak egter nie ’n move nie.

Sy gaap die twins stil aan. Totdat hulle ná ’n ruk begin gaap.

“Ek het ’n job vir julle en as julle dit kan regkry, dan gaan ek enige wens van julle waar laat word,” sê die meisie ná ’n ruk.

Do en Die kyk vinnig na mekaar. Die opgewondenheid is op hul gesigte te bespeur.

“Julle ken vir Penz N. Pootjie?”

“Dominee Penz N. Pootjie?” vra Do verbaas.

“Natuurlik ken ons hom. Moet ons net sy keel gaan afsny en dan kry ons ons wens?”

Die twins was nog nooit groot fêns van ds. Penz N. Pootjie nie.

Die godsman wil hulle om elke hoek en draai die hande oplê. Wil hulle altyd met olyfolie uitsmeer.

Totdat die twee besef het die dominee se eintlike groot wish is om hulle onder die belt ook die hande op te lê.

Van daai dag af koester hulle ’n wrok teen ds. Penz N. Pootjie en vermy hom soos die pes.

“Los maar daai moordgedagtes. Ek soek nie bloed op my hande nie,” antwoord die meisie.

Do en Die verstaan nie so lekker nie. Húlle sou die job doen, so hoe sou die bloed dan op die meisie-genie se hande kom?

“Sien julle daai boetabessie-bos in sy jaart? Die een met die lekker vrugte?

“Nou as julle vir my ’n hand vol boetabessies kan bring, dan gee ek julle jul wens.”

Die twins se kop sak. Dit is vir hulle ’n bitter onmoontlike job hierdie.

Hul plak sak soos oumsie Katryn se gemoed elke keer dat hulle die koskaste bestorm.

Vir ’n godsman wat op die Here moet vertrou, het ds. Penz N. Pootjie ’n verskriklike hoë heining. En twee mensvreter-pit bulls wat smag na ’n menseslagting.

“Moet ons nie maar kyk of ons vir jou world peace hier iewers in die grot kan losgrawe nie?” vra Do hoopvol.

Die meisie-genie giggel.

“ ’n Mens kan sien julle is opreg dom. Twee originals. Die een beter as die ander. Onnoselheid waarvan die wenner net-net met ’n photo finish bepaal kan word.”

“O, ek sê vir jou baie dankie, meisie-genie,” sê Die en maak ’n verspotte buiginkie.

“My broer het te vinnig gepraat.

“Daai taak is glad nie so onmoontlik nie. Ons sal dit kan doen.”

“Dis goeie nuus,” sê die meisie-genie en vryf haar hande tevrede teen mekaar.

“Nou waarvoor wag julle? Is julle al terug? Wense wag nie forever nie, you know?”

Die twee weet wat “you know” beteken nie, maar dit het geklink soos iets wat hulle nóú moet gaan doen.

Haastig kruip hulle uit die grotkamer. Buite vee hulle die stof en sand vinnig van hul klere af en begin stap met ’n vaart in die rigting van Grammadoelaville.

Die twee is op ’n mission. Nou wel nie een van Tom Cruise se missions nie, maar een wat hulle ’n wens in die sak sal bring. Of altans, só glo hulle vas.

In die grotkamer kom die meisie stadig orent en skud haar kop verdwaas.

Dit was makliker as wat sy gedink het. Kan jy nou meer?

Dit sal ook net hier in Grammadoelaville wees waar jy nie ’n fabriek nodig het om sotte te vervaardig nie.

Toe begin sy kliphard sing:

Eendag as ek groot is,

as ek groot is,

wil ek nie dom wees nie.

Eendag as ek groot is, as ek groot is, wil ek nie slim wees nie.

Want ver van alte fraai,

is die boetas Do en Die ...

In die verte hoor Do en Die die gesing. Hulle kan nie die woorde uitmaak nie, maar dit klink of hul eie, personalised meisie-genie nou ook hul cheerleader is.

“Hoor jy, Die?” sê Do opgewonde. “Ons luck is besig om te draai.

“Al daai mense wat ons so uitgelag en sleggemaak het, gaan swaar kou aan hul woorde.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters