5 dae gelede
Die wantroue tussen Jane en Brandon groei
 ~ 

SONLANDERS, ons gaan vandag voort met GWEN KORDOM se “Bloedspoor”. Slaan jul tande in die vierde hoofstuk!

‘HET niemand jou dan niks geleer nie? Kyk jy nie TV nie? Sodra die vrou gekry het wat sy soek, gaan sy ons doodmaak!”

Katjies gluur na Jonty, wat met betraande oë na hom staar. Katjies skud sy kop. Sy tong voel dik en sy keel kurkdroog. Dié Jane-vrou is gevaarliker as wat hy gedink het.

Sy het elkeen se hand aan ’n ketting vasgeboei wat teen die muur geanker is. Met sy vry hand krap hy sy kop. Daar is wel spasie vir beweeg, maar dit help nie veel nie.

Al wat hy tot dusver kon uitmaak is dat hulle in ’n grondvertrek aangehou word met een hoë venster waardeur die son flou skyn.

Hy het geen idee waar hulle is nie. Hy probeer dink aan al die films wat hy al gekyk het waarin mense ontvoer is, maar geen idees spring in sy kop nie.

“Sy gaan ons vermoor en ons liggame begrawe en niemand sal ons ooit weer sien nie,” sê Jonty met ’n veraf uitdrukking in sy oë.

“Ons is sterker as sy. Ons oorrompel haar sodra ons loskom. Dink aan jou ma. Aan al die dinge wat jy nog wil doen, my broe,” sê Katjies.

“Ek het jou nie opgesom as die dapper tipe nie.”

“In sulke situasies kom ’n mens se ware karakter deur. Jy leer dinge van jouself wat jy nie geweet het nie. Ek is street smart en jy is ’n A-leerder in die skool. Tussen die twee van ons kan ons met ’n plan vorendag kom. Dié Jane-vrou is onstabiel. Ons kan haar dinge wysmaak oor Boena. Sy haat hom. Dink saam met my, Jonty. Moenie net daar sit asof jy reeds gevrek het nie. Jou ma is ’n sterk vrou. Wys ’n bietjie jy is haar kind. ”

“Ek probeer positief bly, maar hoekom moes sy my kies? Jy het gehoor hoe praat sy van alle skollies van die aarde afvee en ek is nie eens ’n blerrie skollie nie. Is dit omdat ek in Pakkiesfontein bly?”

“Die vrou is abnormaal. Ek sal haar oortuig jy is onskuldig en sy moet jou laat gaan, al weet ek sy sal nie. Jy weet mos hoe sy lyk, so, daar bly net een opsie oor, Jonty. Ons moet ontsnap. Kom sit hier langs my dan krap ons in mekaar se sakke. Jy weet ek loop nooit sonder my okapi nie. Help my om dit uit te haal. Dié Jane-vrou is nie slim soos wat sy dink nie.”

Jonty gehoorsaam en kort voor lank val die okapi uit Katjies se sak.

“Wat nou?” vra Jonty grootoog.

“Ek gaan die mes gebruik om die skroewe te lig waar die ketting vasgeanker is. As ons die plaat kan lig, is die ketting los. Wanneer sy hier instap, dan trek jy haar aandag. Ek sal die ketting gebruik en haar wurg. Ons moet vinnig en akkuraat wees. Daar moenie tyd wees om te dink nie, veral nie vir haar nie.”

“Solank jy haar die doodmaak nie, Katjies ...”

“Nee, ek wil haar net buite aksie hê sodat ons ’n voorsprong het.”

Met nuwe hoop draai die twee na die muur. Ná ’n paar sekondes staar hulle onseker na mekaar. Die taak op hande lyk nie maklik nie.

Binnekort is dit nag en dan sal dit hul derde aand in hierdie koue kamer wees. Katjies is skielik nie seker of hy en Jonty dié situasie sal oorleef nie.

Elders spoel Jane haar gesig oor en oor met die koue water. Sy staar na haarself in die spieël. Haar oë is wild en haar hare penorent. Sy pluk die nat trui oor haar kop en soek ’n nuwe stel klere in die kas.

Terwyl sy ontklee, lui haar selfoon. Sy loer na die skerm. Brandon. Sy ignoreer die oproep en gaan verder terwyl Brandon se woorde soos ’n refrein in haar kop speel.

“Jy beter jouself onder beheer kry of ek doen dit vir jou ...” Daar bly geen ander opsie oor nie. Brandon het ’n las geword. Hy weet te veel en dink hy besit haar. Sy moet van hom ontslae raak en daardie Sylvie-feeks. Hy kompliseer tog net haar lewe met sy duisend vrae op ’n slag.

So asof sy ’n kleintjie is. Hy wil alles weet. Tel haar pille om seker te maak sy drink dit. Wat hy nie weet nie is dat sy al ’n ruk nie meer haar pille neem nie. Nie die antidepressante of enige ander medikasie wat die dokter voorgeskryf het nie. Sy flush dit in die toiletpot af.

Jane gryp die rugsak op die bed en loer deur die venster. Die Koopmans se ligte is af. Dis tyd vir aksie.

BRANDON kyk onseker na sy foon. Dan skud hy sy kop en druk die nommer op die papiertjie in sy hand. Ná ’n kort luitoon word die oproep beantwoord.

“Dokter Brummer, goeienaand,” kom ’n diep stem oor die lyn.

“Dokter Brummer, dis Brandon Doeries, Jane Meyer se vriend. Jammer ek pla so laat, maar kan ons gou gesels?”

“Natuurlik, Bran­don, waarmee kan ek help?”

“Ek weet sielkundiges mag nie inligting oor hul pasiënte uitlap nie maar dié is van kritieke belang. Daar is ’n paar dinge wat ek wil weet. U eerlike opinie as dit moontlik is. Hoe vorder Jane? Lyk dit of die behandeling wat u voorgeskryf het, werk?” vra Brandon.

“U is reg oor die dokter-pasiënt-vertroulikheid, meneer Doeries, maar ek hoor aan u stem iets is fout. Is daar iets wat ek moet weet?”

“Ek kan niks bevestig nie. Maar soos ek vroeër genoem het is dit van kardinale belang.”

“In my opinie vorder Jane redelik goed. Teen ’n stadige pas, maar alles lyk goed en wel. Haar fokus is doelgerig en dit lyk sy wil heel word. Het iets verander?” vra die dokter.

“Ek vermoed so, maar het nog geen bewyse nie. Is dit moontlik dat ek u môre­ kan kom sien?” vra Brandon.

“Ek sal u laat weet sodra ek ’n opening het. As iets intussen verander, al is dit hoe gering kontak my onmiddellik.”

“Ek maak so. Dankie vir u tyd.”

Brandon sug. Sylvie het ná die slaappil ingedommel. Hy wonder hoe Jane sal reageer as sy moet weet Sylvie slaap vanaand in sy bed.

Sylvie het presies gekry wat sy gaan soek het. Hoekom lê sy simpatie dan by haar en nie by Jane nie?

Die antwoord is duidelik. Jane is ’n psigopaat. Wanneer sy een geword het, weet hy nie. Hy vermoed dis ná die aanval. Voor dit het hy haar nie eens geken nie. Hy het hom oorhoeks geskrik toe hy Sylvie se gesig sien.

Dit het soebat en pleit by Sylvie gekos om nie die polisie te bel nie. In ruil daarvoor wou sy die nag spandeer. Blerrie kansvatter. Hy is dankbaar vir die slaappille wat hy in haar tee gegooi het. Anders moes hy haar heelnag van sy lyf af hou.

Ander mans sou hulself gelukkig ag, hy nie. Hy het tot die slotsom gekom dat hy die verkeerde vroue na hom aantrek. Die een is maller as die ander.

Hy het pas op die rusbank gaan lê toe ’n harde klop hom orent ruk.

Brandon val byna op sy rug toe hy sy besoeker herken. Daar is ’n kyk in Jane se oë wat hy nog nooit voorheen gesien het nie.

“Gaan jy net daar staan of gaan jy my innooi?” vra Jane.

Brandon staar onseker terug.

“Ek dink nie dis ’n goeie tyd nie. Ons kan môre pra–”

Brandon kry nie kans om sy sin te voltooi nie. Skokgolwe ruk deur hom en hy slaan op die vloer neer.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters