15 dae gelede
Die vroue span saam en Dino kry ’n ‘verrassing’
 ~ 

SONLANDERS, die verhaal “Die Plan”, uit die pen van GWENDOLINE KORDOM kom vandag tot ’n einde.

Geniet nou die slothoofstuk.

LEILA se gedagtes flits terug na daardie laaste dag wat sy met haar vriende deurgebring het.

Haar hand verstil op die teepot. Sy onthou die warm middagson op haar voorhoof daar waar sy gesit het op haar geel bank in Cynthia se tweevertrek-woonstel.

Op ’n lang bank met dieselfde kleur het Bianca, Natasha en Cynthia gesit. Uit die vier was Cynthia die kreatiewe een. Daarvan het haar woonplek getuig.

Met die bietjie wat sy gehad het, kon sy die eenvoudige plek in iets luuks omskep deur net die regte kleure te gebruik. Op ’n kol was Bianca en Natasha in die klein kombuis en sy en Cynthia kon ’n geheime gesprek deel.

“Al manier hoe jy van Dino ontslae gaan raak, is as jy hom uit die equation haal. Ek sien geen ander uitweg nie.”

Toe Leila grootoog na haar staar, het sy bygevoeg: “Luister eers na my plan.”

Leila wou nog protesteer, maar Cynthia was vasbeslote. “Ons hou by die oorspronklike plan om Dino van ’n paar duisend te beroof op dieselfde tydstip waarop jy besluit om iewers te gaan kuier.

“Ek sal ná die tyd by Dino ’n draai maak. Sodra ek daar is, sal ek aanbied om tee te maak – dan gooi ek van my spesiale konkoksie in. Jy moet dit iewers voor die tyd in die huis versteek.

“Daarna sal ek seker maak dit lyk asof hy aan ’n hartaanval dood is. Ek kry ook ’n dokter om te help met die nadoodse ondersoek, as enige iets opduik.”

Daar was nie veel meer wat Leila by die plan kon voeg nie. Cynthia het haar verseker dat geen vinger in haar rigting sal wys nie. Vir die res van die dorp sal dit lyk asof sy sonder Dino op ’n vakansie gegaan het.

Leila het haar kop geskud.

“Luister na my,” het Cynthia gefluister. “Ons twee moet van hom ontslae raak, Leila.”

Leila het ook geweet hoekom dit belangrik vir Cynthia was om Dino te vermoor. Hy het haar jare gelede verkrag, voor sy tyd met Leila.

“Die plan bly tussen ons twee,” het Cynthia afgesak. Dis die einste plan wat vroeër by haar opgekom het. Sy’t onthou dat die “geheime wapen” teen Dino steeds in die huis versteek lê.

Leila skrik toe sy ’n kug hoor.

Sy draai om en staar in Bishop se uitdrukkinglose gesig vas.

“Hoe lank staan jy al daar?” vis Leila.

Wat as hy gesien het? Sy het haar kanse om uit die kombuis te kom, nou net verspeel, veral as Bishop gesien het wat sy doen.

“Lank genoeg.”

“Dino weet ek is hier. Hy en tannie Hettie wag vir die tee,” sê Leila.

“Dan beter jy seker aanstaltes maak,” sê Bishop en staan opsy.

Leila gryp die skinkbord en skuur verby hom. Voor die studeer­kamer se deur gaan sy staan. Sy staar na die inhoud op die skinkbord. Nou moet sy doodseker maak Dino drink uit die regte koppie die tee.

CARLO Koopman bring sy kar voor die swart hek tot stilstand. Dit lyk na die regte huis. Toe hy uitklim, sien hy ’n ouerige man in die jaart staan.

“Dagsê, Meneer. Kan ek help?” vra die oue.

“Goeie dag. Ek’s op soek na mevrou Hettie Damons. Ken u haar dalk?”

Die ou oom frons.

“Sy is my wederhelf. Wat soek jy van haar?”

As Leila hom nie self van die Christelike paartjie vertel het nie, sou hy dit nooit nou kon raai nie.

“Dis in verband met Leila. Dit was my nommer waarop Leila u gekontak het.”

Carlo sien die opflikkering in die wyse grou oë.

“Hoekom sê jy nie so nie? Jy het hulle sopas gemis. Hulle’s hier weg om met Dino te vergader.”

’n Yskoue hand omsluit Carlo se hart.

“Sal oom my asseblief die aanwysings daarnatoe gee?”

“En as jy nou so bleek om die kiewe lyk, boetie? Skort daar iets?”

“Ons moet onmiddellik tot daar gaan. Dis ’n geval van lewe en dood.”

“Ek kry gou my hoed, seun.”

Carlo staar die oom agterna. Sy hart slaan tamboerslae in sy bors.

Met sy rit hierheen het hy baie dinge besef. Een van daardie dinge is dat hy Leila weer wil sien.

Leila staar asof in ’n droom na die man op die vloer terwyl tant Hettie gebukkend oor hom staan.

Haar oë flits na Leila en sy blaf: “Moenie net daar staan nie, kind! Kry ’n asynlap. Dit lyk asof Dino die een of ander aanval kry. Maak gou, Leila!”

Leila verdwyn in die gang af. ’n Glimlag rus op haar gesig. Soms kry mense presies wat hulle verdien. Sy gryp ? lap, asyn en ? bak water in die kombuis. Dan storm sy in die gang af. In die deur steek sy vas.

Bishop staar met ’n grys gesig na sy werkgewer.

“Wat het hier gebeur?”

“Dino het begin sleg voel en toe ek weer sien, slaan hy neer. Dit lyk na ’n hartaanval. Die arme man dra te veel sorge saam met hom,” sê tannie Hettie hartseer.

Leila sien hoe Bishop in die rigting van die deur beweeg. Hy kyk vir ’n oomblik in haar rigting voordat hy verdwyn. Sy besef dis die laaste keer dat sy haar oë op Bishop gelê het.

Dino Maartens het aan ’n hartaanval beswyk. Die rooftog van ’n paar maande gelede is nooit uitgevoer nie. Dino het daarvan uitgevind en besluit om die vier vroue te laat boet.

Hy het uitgevind Leila is die meesterbrein agter die plan om sy bankrekening leeg te maak.

Die drie se ongeluk is vir Leila bedoel. Hy wou hê sy moes ly.

Die skuldgevoel oor hul voortydige sterfte wou haar opvreet. Tot sy dit nie langer kon hanteer nie.

Dino het kastig aangebied om haar by ’n gastehuis te kry waar sy alleen kon wees. Die plan was dat Bishop iewers langs die pad van haar ontslae raak.

Vir ’n lang tyd het sy in Dino se skaduwee geleef. Was sy maar net sy marionet? Sy moes baie verduur om hierdie lewe van gemak te lei. Ook op die harde manier leer dat rykdom jou nie noodwendig geluk bring nie.

“Leila, het jy al iemand gebel?” vra tannie Hettie langs haar.

“Tannie, die dokter is op pad.”

Net toe hoor hulle ’n voertuig stilhou. Cynthia se “dokter” is hier. Sy luister angstig na die haastige voetstappe in die gang. Toe sy opkyk, staan Carlo in die deur.

Leila staar verdwaas na hom. Toe na pastoor Damons wat verby hom skiet. Tannie Hettie spring reguit in haar man se arms in.

“Hettie, wat het hier gebeur?”

“Die allervreeslikste ding het gebeur. Dino het net hier voor my oë aan ’n hartaanval beswyk.”

Leila staan soos ’n standbeeld. Sy sien dan die vraagteken op Carlo se gesig. Sy hoor haastige voetstappe in die gang. Dalk sal sy Carlo later vertel van die plan.

  • Vir eers moet sy sorg dat alles vlot verloop.Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters