14 dae gelede
Die voorbok sit sy voet neer: Mieta sál uitgevat word
 ~ 

DIÉ week lees ons verder aan nog ’n lekker storie van NICOLETTE­ FOULDIEN. Sy noem dit “Vloek”. Geniet nou hoofstuk 9.

BURGEMEESTER John Douries, Luke Venter en Dick Smit sit in eersgenoemde se kantoor. Hulle bespreek hul strategie.

“Wat dink julle is die beste manier om dit te doen?” vra Luke.

John en Dick kyk Luke net stom aan.

“Kom nou, ouens. Julle het dan self gesê daar is nie ’n ander uitweg nie. Mieta het mos gesê oor haar dooie liggaam. Nou ja. Dan het sy dit mos oor haarself gebring, of hoe?”

Dick skud sy kop. John sprak nog geen sprook.

“Kom nou, John. Onthou, Pa het jou betaal vir die job. En dink net wat sal gebeur as ons nie die papiere geteken kry nie en Pa besluit om die plaasboere te vertel. H’m?

“Wat gaan dan van jou word? En moenie van jou geliefde Sara vergeet nie. As Dina moet hoor van jul affair ... Reg onder haar neus! Ek kry jou maar jammer, ou pel,” vryf Luke dit in.

“Ek weet, ek weet.” John sug swaar en verwens meteens die dag dat hy dié mense ontmoet het.

“Ek sal stilbly oor die hele storie en doen wat ek moet, maar ek gaan nie vir Mieta doodmaak nie!

“As julle dit wil doen, doen dit, maar los my daaruit.”

“Onthou, jy sal steeds medepligtig wees,” gooi Dick olie op die vuur.

“Ons sal dit doen, maar jy is nog steeds verantwoordelik daarvoor dat die papierwerk moet reg wees.”

John knik. “Goed, maar asseblief, mense, Mieta is oud. Sy het nog nooit ’n vlieg skade aangedoen nie. Julle sal nie dat sy ly nie?”

Dick en Luke kyk na mekaar en knik.

“Dan sal ons aan iets moet dink. Sy is oud. Dalk as sy van ’n krans afval?”

“Nee! Is julle mal? Ek sê dan julle moet haar nie seermaak nie.”

John spring ontsteld orent.

“Bedaar, bedaar,” paai Luke. “Wat van ’n hartaanval?”

John en Dick kyk Luke met ’n frons aan.

“Hoe? Sy is dan blakend gesond?” vra John.

“Ek kan ’n inspuiting in die hande kry. Dit word in die are gespuit en die persoon sterf binne minute. Soortgelyk aan ’n hartaanval. Niemand sal tog iets vermoed en aandring op ’n nadoodse ondersoek nie. Mieta is oud. Ek moet net met een van ons kontakte reël, dan kan hy dit vir ons koerier.”

“Dit klink beter, maar hoe wil julle dit vir haar gee?

“Dink julle Mieta gaan sommer lê en sê ‘kom spuit my in’? Julle het gesien hoe op en wakker en sterk sy is.”

Luke en Dick kyk nou vies na John.

“Kyk hier, dis op die oomblik ons beste opsie en as dit moet, sal jy ons maar net moet help om Mieta in te spuit,” sê Luke beslis en daarmee is die saak afgehandel.

LUKE sit sy selfoon neer en draai na Dick. “Reg, die koerier sal die pakkie vroeg môreoggend kom aflaai,” sê hy.

Dick knik. Op ’n manier voel hy verlig. Dis asof Mieta se dood ook sy spoke sal besweer. Iets sê vir hom die skielike nagmerries – hy weet ook nie eintlik wat om dit te noem nie – is Mieta se skuld. Wanneer sy dood is, sal dit ophou.

Hy weet dit. Hy weet net nie hoe hulle Mieta ingespuit gaan kry nie, want hy wil nie eens met ’n tang aan daardie vrou raak nie. Sy gee hom die creeps.

JOHN sit en staar voor hom uit. Sy voete is voor hom op sy lessenaar uitgestrek. Hy dink aan gisteraand.

Hy weet nie wat met hom fout was nie. Hy wil Sara bel en om verskoning vra, maar hy weet nie hoe en vir wat nie. Hoe verduidelik jy aan iemand iets wat jy self nie verstaan nie?

Hy wens hy kan sê hy het gedroom, maar die boodskap op sy foon wys hy het nie. Sara wou al gisteraand weet wat aangaan nadat hy so haastig by haar weg is.

Hy sien nou nog Mieta se beeld voor hom. Die smalende eentand-Mieta wat so haar gul oumenslippe uitnodigend vir hom oopmaak. Hy ril en staan op.

Daar is ’n groot naar kol op sy maag. Hy kan nie eet nie, want dit voel heeltyd asof hy wil kots.

Ander tye wens hy die tyd om sodat hy net die aand saam met Sara kan deurbring, maar nie vandag nie. Hy kan mos nie met iemand liefde maak wat soos Mieta lyk nie.

LUKE lê skuins oor sy bed. Vir die eerste keer in sy lewe sien hy uit daarna om iemand dood te maak.

Ja, natuurlik sal dit nie die eerste keer wees nie. Moord word noodsaaklik wanneer jy in sy en sy pa se bedryf is.

Gewoonlik doen ander hul vuilwerk, maar hierdie keer sal hy dit self doen.

Hierdie antie bring die lelikste in hom na vore.

Hy het gedink dit was dalk sy verbeelding toe hy gister by haar was en die skokke so deur sy lyf getrek het, maar ná gisteraand weet hy dit het werklik gebeur.

Hy het vanoggend daarop aangedring dat die bestuur ’n gekwalifiseerde elektrisiën laat kom om na sy plugs te kyk. Hulle kon nêrens fout vind met dit of die bedrading nie. Vanoggend het die ketel ook normaal gewerk. Maar hy weet wat hy weet ...

Hy weet ook hy het nie gedroom nie, want daarvan het sy nat klere, die deurmekaar mat en vloer getuig. Niemand kan egter verduidelik hoekom die whiskey weg was en vanoggend terug is nie.

Hy weet Mieta het iets hiermee te doen. Hy is baie beslis nie mal nie.

Sy moet dood! Niemand speel met Luke Venter speletjies nie.

Sodra daai kapsule en spuitnaald môre hier kom, moet hy, Dick en John weer vir Mieta gaan kuier. John kan sê net wat hy wil, maar saam sal hy gaan.

Hy wil nie sukkel wanneer hy haar daai inspuiting toedien nie. Hy wil sien hoe haar hart sy laaste kloppe gee terwyl die lewe uit haar vloei. Sy moet voel hoe voel dit om ander mense te curse.

Sy verdien dit, want sy is niks anders as ’n gierige ou heks wat nie wil afstand doen van grond wat nie eens aan haar behoort nie.

MIETA trek die rook diep in haar longe. Sy het al heeldag so ’n vreemde moegheid oor haar. Vanaand moet die voorvaders haar aanraak. Haar oumenslyf het krag nodig.

Terwyl die kruierook stadig in die vertrek begin draal, begin sy haar prewelgesprek.

Dit duur etlike minute voordat sy opstaan en stadig in trance begin dans.

Dan, ál wilder en wilder, begin haar voete stamp en haar lyf krul. Al om en om die rokende vuur.

Vanuit die bosse kom die nagdiere nader. Die wildehonde, die tier met haar twee welpies, die troppie jakkalse, die rondloperluiperd en wildekatte. Die uil maak hom op sy gewone plek op die dak tuis.

Almal stil. Hul oë gloeiend in die donker.

Afwagtend.

Aan die luister na Mieta se gesprek met die voorvaders.

  • Môre: Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters