Verlede maand
Die uitspraak lei vir Andries tot ’n nuwe wending
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet nou die vyfde hoofstuk!

NÁ URE se gesukkel woel Andries Boggelblaar hom uiteindelik los. Hy haas hom tot by sy selfoon wat hy hoor lui het, maar nie kon antwoord nie. Drie missed calls van Carol Bonthuys ...

Hy bel dadelik om te hoor of iets verkeerd is. Geskok luister hy na wat sy te sê het. Hy skud sy kop in ongeloof. Tot watter uiterstes sal misdadigers nie gaan nie?

Hy meld sy vrou se ontvoering by die polisie aan. Hy laat weet ook vir Bianca van Eck, want hy het klaar besluit as die skurke famous wil wees, sal hy hulle famous maak. Hy kan net hoop en bid hulle doen nie sy Julia enige leed aan nie.

Die speurder wat sy verklaring kom afneem, stel homself as kapt. Wimpie Windmeul voor. Andries vertel in detail wat gebeur het.

“Hoe het hulle ingekom?” wil Windmeul weet.

“Dit slaan my ook dronk,” antwoord Andries. “Die deur was tog gesluit.”

“En jy sê hulle het niks gevat nie?”

“Niks. Ek dink iemand het hulle gestuur om my vrou te ontvoer.”

“Hou jou selfoon aan. Ek sal jou laat weet sodra daar nuus is.”

Maar die res van die dag hoor Andries niks van die polisie nie.

Hy’t al hoeveel keer Julia se nommer geskakel, maar haar selfoon is af. Dit raak aand en hy voel lus om in sy motor te klim, die strate in te vaar en self na haar te gaan soek.

Hy besluit daarteen, besef dis nie ’n goeie idee nie. Waar sal hy in elk geval begin soek? Dis erg frustrerend om so hulpeloos te wees. Hy sien Julia se gesig voor hom, haar glimlag, en hy hoor weer haar stem in nou die middag se gesprek: “Wat’s op die spyskaart?” vra hy. “My maag grom van hongerte.”

“Ek was nie lus vir kook nie, toe bestel ek sommer pizza. Hoop nie jy gee om nie.”

“Besige dag gehad?” wil hy weet.

“Jy kan seker so sê. Mense sit hul huis vir ’n plaas se prys in die mark en raak kwaad as niemand belang stel om te koop nie.”

“Het jul agentskap toe al ’n koper gekry vir daai huis in Clifton?”

“Daar het al ’n paar mense kom kyk, maar niks is nog amptelik nie.”

“Het jy dan jou touch verloor? Die huis is al twee maande in die mark en jy kon nog niemand oorreed om dit te koop nie? Dís nie hoe ek jou ken nie.”

“Ons leef in moeilike tye, Andries. Mense is versigtig met hul geld ...”

Andries gaan bed toe, maar hy weet hy gaan nie ’n oog kan toemaak nie. Julia is iewers daar buite en hy weet nie eens of sy iets te ete het nie. Hoekom het hulle hóm nie liewer gevat en haar gelos nie? Hy gaan hom die hele nag oor haar bekommer.

DIE dag van die uitspraak breek aan. Van vroeg af drom groepe mense buite die hof saam.

Aan die een kant is daar die Clayton Bonthuys-ondersteuners en aan die ander kant Carol s’n. Joernaliste en fotograwe maak ook stuk-stuk hul opwagting.

Bianca­ van Eck is ook daar, sowel as boeta Solly.

Deur die hofsitting is Andries se oë heeltyd op die vrou in die beskuldigdebank gerig. Hy is van niks en niemand anders om hom bewus nie. So erg op haar senuwees kom sy voor dat hy haar innig jammer kry.

Ál wat hy nou kan doen, is hoop vir die beste. Sy werk is afgehandel. Die finale besluit is in die regter se hande. Hy kan aan Carol se lyftaal sien sy is ook bang die saak swaai na die verkeerde kant en dat sy dalk tronk toe kan gaan ...

Regter Paulus Kabamba se uitspraak is hartroerend. Hy vertel van sy kinderdae en hoe sy pa alle vroue as minderwaardig beskou het. Hy laat niks uit nie.

“Ons het in een huis gewoon, maar ek was nooit bewus daarvan dat my pa my ma mishandel nie.

Sy’t nooit oor die mishandeling gepraat nie en ek het altyd gedink my ouers is die gelukkigste egpaar wat leef. Min het ek geweet ...”

Kabamba neem ’n slukkie water voordat hy verder praat: “Ons land se regstelsel faal ons vroue en kinders.’n Beskermingsbevel beteken niks vir ’n oortreder nie. Vir hom is die inhoud daarvan nie die papier werd waarop dit gedruk is nie. Polisielede is ook te traag om op te tree en al moet ek dit self sê, baie van hulle word omgekoop om anderpad te kyk. Kan jy dus iemand verkwalik wat die reg in eie hande neem?”

En so gaan regter Kabamba aan en aan en aan totdat hy sy besluit oor Carol Bonthuys bekend maak.

“Nadat al die feite in ag geneem is en ná deeglike oorweging bevind ek die beskuldigde, Carol Booysen, onskuldig aan moord. U is vry om te gaan.”

Carol se blydskap ken geen perke nie. Sy was onder die indruk dat sy tronk toe gaan. Sy omhels almal wat naby haar kom.

Aan die einde van die uitspraak sê boeta Solly vir Bianca: “Ek stel voor ons hou daai artikel oor regter Kabamba se skandes vir ’n volgende geleentheid.”

“Het ek jou reg gehoor?” vra Bianca. “Is jy besig om sag te raak?”

“All in good time,” sak boeta Solly af. “All in good time. Vir sy uitspraak verdien die regter ’n klop op die skouer.”

DIE dag is verby. Andries parkeer sy BMW langs Julia se Mini Cooper in die oprit voor hul siersteenhuis. Hy kyk in die truspieëltjie en glimlag trots. Nog ’n suksesvolle saak agter sy naam. Nog ’n tevrede kliënt. Hiervandaan kan dit net beter gaan.

Met sy aktetas in sy linkerhand loop hy tot by die voordeur.

Hy sluit oop, draai die knop en stap in.

Dié keer is Julia natuurlik nie daar om hom te soengroet nie. Wat het van haar geword? Hoekom hoor hy niks van kaptein Windmeul of die ontvoerders nie?

Hy haal ’n bier uit die yskas, gaan sit voor die televisie. Bianca van Eck wil hom môre sien. Is hy gereed vir haar vrae? Hy dink so. Hy het niks om weg te steek nie. As hy net geweet het hoe en waar hy sy vrou kan opspoor.

Dis laatnag toe Andries ’n gegil buite hoor. Hy spring op en loer deur die venster. In die helder lig van die maan sien hy ’n groepie mense in die straat staan. ’n Polisievoertuig maak ook sy opwagting. Andries gryp sy sweetpak en haas hom na buite. Iets het daar gebeur en hy wil weet wat dit is. By die toneel gekom, loop hy hom vas teen ’n polisielint.

“Wat gaan hier aan?” vra hy vir een van die omstanders.

“Dis ’n vrou se lyk wat daar onder die laken lê. Haar een hand is afgekap.”

Andries gly verby die polisieman en gaan lig die laken op. Die lewelose oë wat hom aanstaar, veroorsaak ’n lamheid in sy lyf. Dis Julia. Hy sak inmekaar. Net voordat ’n floute hom oorval, weet hy hy sal nie rus voordat hy sy vrou se moordenaars opgespoor en haar dood gewreek het nie ...

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters