Verlede maand
Die tyd kom om Ma uiteindelik vaarwel te roep
 ~ 

ONS tydjie met ESMÉ CUPIDO se “Joyride met Ma se As” kom nou tot ’n einde. Geniet nou die slothoofstuk van dié verhaal.

ANT Nonnie is vroeg die Sondagoggend besig om die hoenders kos te gee toe Ouboet-hulle regmaak om te ry. Die broers, Petie en Basjan, staan netjies in gelid, velhoede plegtig voor hul bors, so asof hulle die koningsgesin moet groet.

“Kom kuier gou. Het Petie die … Petieee! Waar’s die hoender wat ek va’more geslag en in die koelhouer gesit het?

“En Basjan, bring die eiers. Die hoender het ek klaar in ’n sousie gesit, dan kan julle dit sommer daar op die strand braai.”

Petie en Basjan kom ewe bedremmeld aangestap en oorhandig blosend die goed deur die venster aan Amanda.

“Petie en Bassie, kom kuier dat ek julle aan die Kaapse girls bekend kan stel!” sê Ouboet met ’n laggie.

“Ag, wat praat jy, Ouboet? Die twee is albei dikdood.

“Jy moet in gebaretaal met hulle kommunikeer as meisies naby is, want dan is hulle skielik doofstom.”

Net 2 km buitekant die dorp moet Ouboet skielik uitswaai vir ’n hond wat in die middel van die pad staan. Die kissie met die as val met ’n slag op die vloer. Edna en Amanda sien in afgryse hoe die as gestrooi oor die vloer lê.

“Ouboet! Stop! Die kissie het geval en die as lê die wêreld vol!” roep Amanda benoud uit.

Ouboet swets en stop op die skouer van die pad. Hy en Mario klim uit om te kyk wat die skade is.

Die vier staar in ’n halwe kring na die as wat wyd gesaai oor die vloer lê.

Toe hulle weer sien, hang die hond ook oor een van die sitplekke, pootjies oor die rugleuning.

“Voertsek! Jou brak!” Ouboet waai vererg en die hond spring met ’n tjank by die deur uit. Buitekant staan hy afwagtend, gereed om weer in te klim.

Nadat Mario ’n bladsy uit ’n ou tydskrif geskeur en die as daarmee bymekaargeskraap het, is die meeste van Ma terug in die kissie.

Net toe Ouboet wil ry, sê Amanda: “Ons kan nie die hond hier los nie. Kyk hoe maer is hy.”

“En vol vlooie en bosluise,” sê Edna afkeurend.

Mario maak die deur weer oop, en die hond spring dadelik in, snuffel onmiddellik die oorblywende as uit en lek die vloer silwerskoon.

“Maklik Ma se tong wat hy daar opgeslurp het ...”

“Ouboet!” sê Amanda met ’n sug.

Die 40 km na Hiepiesbaai glip verby.

As die hond nie halflyf by ’n oop venster uithang nie, lê hy op een van die leë sitplekke of snuif aan die koelsak met die hoender.

Nadat hulle by ’n gastehuis afgepak het, loop hulle met die braaigoed en die kissie af strand toe. Die hond hardloop vooruit en snuffel aan elke pol gras en bos.

Nadat hulle geëet het, lê hulle behaaglik agteroor op die sand, starend na die blinkblou water. Hier op dié einste strand het hulle as kinders kom baljaar toe hul pa nog geleef het.

Kaal lyfies die see ingestorm, nie ’n idee oor diepte gehad nie. Dis juis toe ’n brander Edna verder die see ingevoer het, dat Ma ingehardloop het om Edna te red. Aan die einde was dit Ma wat gered moes word toe Edna al gerus besig was om sandkastele te bou.

“Dis tyd,” laat hoor Mario ná ’n ruk. Hy staan op en skud die sand van hom af.

Na watter rooi ding Ma verwys het, het hulle nie geweet nie en hulle kon dit ook nie vind nie.

Hulle besluit om op ’n groterige rots te klim om die as van daar te strooi.

Mario het plegtig die kissie oopgemaak en die eerste handvol gestrooi. Daarna het elkeen ’n bietjie gevat en dit gestrooi. Sonder dat enige van hulle kon keer, het die hond per ongeluk die kissie met die laaste as van die rotse afgestamp.

Nadat hulle gestort het, sit hulle op die stoep van die gastehuis.

Die hond lê by Mario se voete.

“Ek het baie tyd gehad om te dink en … dit het my gehelp om sekere besluite te neem.

“Ek het besluit om te skei.”

Edna sug en skud haar kop.

“Dit baat nie jy bly in ’n gekkeparadys nie. As ek verandering in my lewe wil hê, kan ek nie verwag iemand anders moet verander nie. Ék moet die verandering begin.”

“Ek is só jammer, Sus.”

Amanda staan op en sit haar arms om Edna.

Ouboet kug. “Ek was nog altyd die een wat teen die karre geskop het as dit by aanneming kom, maar … ek dink ek en Jenny moet dit ’n go gee.”

“Jenny sal bly wees, Ouboet. Dis waarom sy in die winkels geboer het,” sê Edna sag.

“Terwyl almal iets sê, ek het besluit om volgende jaar Suid-Korea toe te gaan. Ek wil Engels gee. Ek’s eintlik reeds besig met die voorbereidings.”

“Dit klink goed, Amanda. Die wegbreek sal jou goed doen.” Mario gaan voort. “Ek gaan terug trek huis toe. Ek het genoeg geswerf. Dis tyd dat ek rustig raak en daar is nie ’n beter plek as by die huis nie.”

Die volgende oggend net ná drie val hulle in die pad.

Dis ’n blymoedige groep wat die terugrit aanpak. Hulle lag en gesels en die kilometers glip vinnig verby.

Op die stowwerige dorpie duskant Vredespoort, waar hulle die vorige keer ook gestop het, klim hulle by die Handelshuis uit. Toe Amanda ’n paar broodrolletjies vir middagete koop, sien sy dis dieselfde vrou wat by die garage en slaghuis werk.

“Kook en bak jy óók?” vra Amanda met ’n ongelowige glimlag.

“Jip, Mevrou. Mevrou moet my lekker hoender proe. Nounet uit die oond gekom.”

Hulle sit en eet die rolletjies en hoender sommer in die kombi. Die hond eet lustig saam.

Toe hulle die aand 22:00 by die huis se hek inry, is almal gedaan.

Dis ’n vrolike groepie wat die volgende oggend saam ontbyt eet.

Mario glimlag tevrede. “Dié joyride het ons almal goed gedoen.”

“Dis waar,” sê Amanda terwyl sy haar tee roer. “Wanneer laas het ons iets saam gedoen?

“Ons almal was so besig met ons eie lewens dat ons van mekaar en van Ma vergeet het.”

“Ja, waar is die dae toe ons elke Kersfees of Nuwejaar saam met Ma spandeer het? En Ma ons vergiftig het met haar kos wat altyd te sout of te soet of aangebrand was. En wie eet tamatiekos op Kersdag?” vra Ouboet met ’n glimlag en skud sy kop in herinnering.

“Ek moet sê ek was baie skepties en vies oor die verspotte rit met Ma se as, maar ek weet nou dat ons almal kans gekry het om ons kop skoon te maak ... om stock te neem van ons lewens.

Ma het dinge gesien waarvoor ons blind was,” sê Edna nadenkend.

Mario staan op en sit sy arms om sy sibbe.

“Ma sal altyd die gom wees wat ons bind en saambring. Ek weet hierdie samesyn is presies waarop Ma gehoop het.”

  • Die Einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters