15 dae gelede
Die twins se hulp word ingeroep
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nee, kyk, die vrou is op ’n mission, nè! Suster Ronelle, Cathy en Lientjie besef met ’n skok dat ’n spulse ou snags hul ondergoedjies van die wasgoedlyn steel. Hulle maak dit hul mission om die ou vas te trek, maar besef hulle need nog girl power. En die voorstel wat gemaak word, is dat die hulp ingeroep moet word van ’n tweeling, Merle en Merlene, vir wie die mans nogal baie skrikkerig is. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE­ JASON­ se “Die Online Shopper”.

SOOS eendjies in ’n ry drafstap die driestuks af na Merle en Merlene se huis.

Cathy voel nie te gemaklik met die storie nie.

Met Merle en Merlene het sy immers nooit oor die jare oor die weg gekom nie.

Die bose tweeling. Dis hoe almal hier na Merle en Merlene verwys. Natuurlik agter hul rûe, want niemand sal dit waag om dit vir hulle in die gesig te sê nie.

Vra maar vir die manne wat naweek ná naweek al ’n meire-pak by die twee gekry het.

Die oumense het jare gelede vertel die dag toe Merle en Merlene gebore is, het hulle baklei-baklei die wêreld ingekom.

Die see was daai selfde week só stormsterk dat die vissermanne nie see toe kon gaan nie.

Maar as daar gepraat word van skrille kontras, dan is dit die twee susters.

Merle is lank en skraal gebou, met die mooiste gladde hare waarvan Clicks gepraat het.

Merlene is die gufty ene met boomstompe vir arms en hare wat enige geselskap dry en dull maak.

Merlene is gewoonlik ook die een wat die meeste slae uitdeel as die twee susters iemand bepak en houe uitdeel.

Die twee is ná ál die jare steeds single, want niemand in Paternoster is lus vir ’n WWE-verhouding nie.

Toe hulle by die twins se huis kom, klop Lientjie versigtig aan die deur.

“Wie’s daar?” kom ’n stem grof deur aan die anderkant van die deur.

Cathy gluur Lientjie en suster Ronelle verwytend aan.

’n Kyk wat sê hierdie is nie ’n goeie plan nie.

Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar dan word die voordeur met mening oopgepluk.

Merlene staan die hele deur met kosyn en ál vol. Cathy sluk swaar aan die knop in haar keel.

Merlene gluur hulle om die beurt aan.

“Wie is daar?” skrou Merlene vanuit die huis.

“Die drie musketiers!” skree Merlene oor haar skouer. “Ook the Lord’s army, want suster Ronelle is ook hier.”

Cathy onderdruk met moeite ’n nervous giggel toe sy in suster Ronelle se gesig vaskyk.

Suster Ronelle lyk of sy ál die slange in ál die slangparke wil vang.

Maar voordat sy iets kan sê, staan Merle ook langs haar suster. Pan in die hand.

“Werk julle dan nou vir die Jehovah’s Witnesses?” vra Merle grof. “Vir julle het ’n mens mos op skool laas gesien.”

Suster Ronelle maak haar keel skoon. “Ek is nie hier vir lang stories nie. Ons het julle hulp nodig.”

“O?” vra Merlene.

Suster Ronelle loer oor haar skouer.

“Kan ons inkom, asseblief? Hierdie is nie iets waaroor ons in die straat kan staan en gesels nie.”

Sonder ’n woord draai die susters om en stap die huis binne.

Cathy, Lientjie en suster Ronelle volg hulle versigtig.

In die sitkamer deins hulle terug toe hulle die twee pit bulls op die rusbanke sien lê.

Die honde grom en wys hul slagtande vir die verskrikte vroue.

Suster Ronelle sê ’n vinnige skietgebedjie op wat selfs vir Google onmoontlik sal wees om te vertaal.

“Jacob! Zuma! Voertsek!” sê Merle­ kras. Die honde staan van die banke af op en loop stert tussen die bene kombuis se kant toe, waarna hulle deur die kombuisdeur na agter in die jaart loop.

“Ons kan aanbied dat julle sit, maar Jacob en Zuma hou nie daarvan dat mense op hul couches sit nie,” sê Merlene.

Sy bekyk Cathy op en af.

“Haai, is jy dan nie die girl wat Engels in die Kaap gaan leer het nie?”

Cathy gee ’n stram glimlaggie.

“Ons soek na ’n panty-dief,” sê Lientjie heel voorbarig.

Voordat enige van die vroue iets kan antwoord, gaan sy vinnig voort en blaker haar en suster Ronelle se ervarings uit.

Lientjie sluit uitasem haar vertelling af. Merle loer na Merlene en die twee bars uit van die lag.

“En julle wil nou detectives speel?” vra Merle­ en vee die lagtrane van haar gesig af. “Dit is nou mos regtig ridicu–”

“Dit het laas week hier by ons ook gebeur,” val Merlene haar in die rede.

“Sorry, ek weet jy hou nie daarvan as iemand in jou mond mors nie, maar noudat Lientjie dit noem... ek het eers gedog ’n wilde dier of ’n ding het dit van die wasgoedlyn geruk.”

Merle bal haar vuiste en kners op haar tande.

“Dan change dit alles,” sê sy. “Ek hang nie my panties op die lyn vir ’n ander man se plesier nie.

“Hierdie perv gaan k*k. Dit kan ek julle nóú al waarborg.

“Right, dan,” sê suster Ronelle senuweeagtig. Die twins se gevloekery ontstel haar altyd.

“Kan ons dan sommer môreaand by my huis byeenkom en die strate dan ’n bietjie patrolleer?”

“Om wat reg te kry?” vra Merle bars. “Nee, ons moet lokaas gebruik.

“Op een van ons se wasgoedlyne moet ons pantjies op die wasgoedlyn uitstal wat g’n pervert kan weerstaan nie.”

“Hoe ... hoe bedoel jy dan nou? vra suster Ronelle stamelend.

“Merle bedoel jy sal ál jou G-strings op die wasgoedlyn moet adverteer,” verduidelik Cathy.

“Dis nou as jy enige sulke onderklere het, en nie daai voëlpapmakers wat die manne by die tavern altyd van skimp nie.”

Lientjie bars uit van die lag, maar bly stil toe niemand saamlag nie.

Suster Ronelle, Merle en Merlene gluur Cathy beskuldigend aan.

“Wat?” vra Cathy en gooi haar hande in die lug. “Is dit nie waar wat ek sê nie?

“Hierdie ou het ’n voorliefde vir mooi, fyn onderklere. As ons ’n trap vir hom wil stel, moet dit met iets wees wat sy oog sal vang.

“Ek stel voor ons bring almal die mooiste van ons ondergoedjies en hang dit op die wasgoedlyn.

“Suster Ronelle moet dink aan haar reputasie, want wat gaan haar kerkmense sê as hulle ál die klomp G-strings op haar lyn sien hang?”

Cathy merk op hoe suster Ronelle ’n sug van verligting slaak.

“Oukei dan,” sê Merle ná ’n ruk. “Dan hou ons ’n stake-out, maar die panties moet môre al heeldag op die wasgoedlyne hang.”

“Gaan daar steak ook wees?” vra Lientjie.

“Jirre, dit gaan ’n lang stake-out wees,” antwoord Merlene.

Die ander is skielik haastig om te loop.

Môreaand gaan ’n lang aand wees van panties oppas ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters