23 dae gelede
Die situasie raak gou erger toe die buurvrou aanklop
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Intruder spoil ’n vrou se rustige aand tuis. Maar die onbeskofte ou is nie op steel uit nie; hy soek slaapplek vir ’n paar dae. Geniet nou hoofstuk 2 van ESME CUPIDO se “Vir ’n Dag of Drie”.

MIAAU!

Tussen die slaap­newels voel sy die kat se pels teen haar gesig.

“Wag eers, Frederik. Ek wil nog so bietjie slaap.”

Veraf hoor sy geluide wat sy nie dadelik kan plaas nie. Sy sit vinnig regop toe sy van laas nag onthou.

Die kat spring van die bed af, loop tot in die oop deur en kyk of sy kom.

Sy kyk vinnig op haar polshorlosie. Dis 07:49. Sy vee oor haar gesig. Hoe het sy in dié situasie beland? Sy hou ’n skelm, ’n dief, ’n watsenaam in haar huis aan. Of liewer, hy hou haar aan. Hy hou haar gevange. Wat gaan sy doen?

Gisteraand, nadat sy vir hom ’n kombers en kussing geneem het, het sy kom lê. Maar hy het eers kom seker maak dat sy nie iewers wegkomkans sal hê nie.

Sybil het drie jaar gelede dief­wering voor alle vensters laat insit.

Sy wou dit nie hê nie, want die huisie is reeds so klein. Maar Sybil het vasgeskop. Hier is te veel bergies en rondlopers in die dorp, het sy gesê. Met die diefwering op voel sy ingehok.

Haar selfoon het hy ook gevat.

Frederik “miaau” ontevrede in die deur. Hy wag vir sy kos.

Wat is die man se plan? Hy is duidelik nie haastig nie. Slaapplek vir ’n aand of drie. Vir wat? Sê nou maar hy doen haar leed aan. Sy ril. Nee, hy lyk nie soos iemand wat …

Sy sug. Dit help nie sy sit en dink en dink nie. Dít het sy reeds gisteraand gedoen. Heen en weer gedink. Miskien moet sy opstaan en kyk wat die man doen.

Sy voel met haar voete na haar slippers. Die kat hardloop nader asof hy haar wil help om gouer uit die kamer te kom.

Toe sy in die oopplandeel kom, kyk sy eers na die sitkamer. Hy sit op die bank, ten volle geklee. Sy krulkop van gisteraand lê nou in ’n deurmekaar nes op sy kop. Hy lyk sleg.

“Gaan jy iets eet?”

Hy kyk na haar. Hy kyk na haar verslete kamerjas wat sy styf om haar skraal lyf gevou het.

“Eiers en bacon. Toast met kaas op.”

Nogal. “Ek het peanut butter en hier is brood. Jy kan by jou huis gaan brekfis. As jy ’n huis het. Waar bly jy?”

Hy staan op. Gekreukeld. Tel die gun van die tafeltjie af op.

“Ek het mos gesê ek vra die vrae.”

“Gaan was jou gesig. Ek maak die koffie en brood.”

Sy beweeg na die kombuis, waar die kat kwaad vir haar by sy kosbak wag. Sy hoor die man verby haar slof, die gang in. Sy loer vinnig na die voordeur. Haar moed sak toe sy sien die sleutels is uitgehaal.

Sy haal melk uit en gooi daarvan in Frederik se bakkie. Die kat hou sy kop skuins, wagtend op ander kos. Toe niks gebeur nie, drink hy vies van die melk.

Toe die man uit die badkamer kom, wag sy toebroodjie en koffie op die tafel. Sy staan en eet hare in die kombuis.

“Ek gaan nou huis skoonmaak. Dis Maandag. Ek was wasgoed ook. Dan moet ek dit buite ophang.”

Sy loer vinnig na hom.

Hy sê niks en eet langtand aan die brood.

Hy eet eers die snytjie klaar en skud die krummels van sy hande voordat hy sê: “Jy was nie vandag wasgoed nie.”

“Maar my wasgoed het opgehoop. Ek moet …” Sy is desperaat.

“Ek sê níks wasgoed nie! Verstaan ons mekaar?!”

Sy ignoreer Frederik se gemiaau. Sy is woedend.

“Wie de duiwel gee jou die reg om hier in my huis vir my te kom sê wat ek mag en nie mag doen nie?! Jy kom waai hier in en … en kom neem my huis oor! Ek sál my wasgoed vandág was!”

Hy kom vinnig nader, gun weer op haar gerig.

“Vir die volgende paar dae gaan jy maak soos ek sê!” blaf hy. “En ek sê jy gaan nie jou wasgoed was nie!”

Sy gluur hom moorddadig aan en stap vinnig na haar kamer. Gooi die kamerdeur toe dat die kosyn bewe. Sy druk haar vuiste in haar oë en begin saggies huil. Hoe gaan sy hier uitkom?

Sy haal ’n tissue uit haar kerkhandsak en snuit haar neus. Sy gaan nie dat die situasie haar onderkry nie.

Sy maak haar bed op, skraap moed bymekaar en maak die deur oop.

In die kombuis weier sy om na sy kant te kyk.

Sy sien Frederik se katkos in die besemkas raak en gooi ’n bietjie in sy bakkie.

Die kat hardloop dankbaar na sy bak en eet gulsig.

Nadat sy gestort het, gaan sit sy weer in haar kamer. Sy probeer ’n boek lees wat sy reeds 4 000 keer gelees het.

Sy ken die dialoog al uit haar kop. Dis vandag bitter warm.

Haar wasgoed sou nou al droog gewees het. Sy mis haar geselsies met Ria wat langsaan bly. Hulle kuier nie juis oor en weer nie, maar Maandae gesels hulle graag so oor die wasgoedlyn.

Sy staan op, want die sweet maak dammetjies onder haar klere.

Hy lê op die bank. Sy linkerarm vorm ’n hoek oor sy oë.

“Waar’s die sleutel? Ek wil die deur oopmaak.” As nagedagte: “Dis warm in die huis.”

“Sit die fan aan. Die deur word nie oopgemaak nie,” antwoord hy.

“Watter fan? Sien jy ’n fan in die huis?”

Die kat kom skuur teen haar bene. Frederik kan ten minste uit, want sy het ’n klein deurtjie laat insit sodat hy sy ding buite kan gaan doen.

Miskien kan sy ’n briefie aan sy nekband vasspeld. Dan sal iemand dit lees en haar kom help.

Sy takseer die kat. Nee, wat. Hy verlaat nooit die erf nie.

“Meities! Is ek! Maak oop! Klop, klop!”

Sy het Ria nie in die tuinpaadjie hoor aankom nie.

Sy maak haar mond oop, maar soos blits is hy by haar, die gun teen haar keel.

“Bly stil.”

Sy sukkel die woorde uit. “Sy weet ek is hier. Ek moet oopmaak.”

“Meitieees! Jy kan maar oopmaak. Ek het jou nou-nou by die venster sien staan.”

“Ek is jou verlangse neef. Net een verkeerde woord of beweging en ek skiet jou én die vrou, verstaan ons mekaar?” sis hy by haar oor.

“E-ek kom, Ria. Ek soek net gou die …” Sy beduie na die slot. “Ek soek gou die sleutel.”

Hy druk die gun in sy belt en vou sy T-hemp daaroor. Dan haal hy die sleutels uit sy broeksak en druk dit in die slot.

Hy maak ’n beweging met sy kop na die deur. Sy sluit oop.

“ Mens! Ek was bekommerd oor jou, want ek vra vir Oujan, het Meities dan nie vedag gewas nie?”

“Hallo, Ria. Um, ja … ek …”

Ria sien die man agter Meities staan.

“O! Jy’t gaste?”

“Um, ja. D-dis my k-kleinneef.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters