23 dae gelede
Die pastoor wys presies wat sy naam beteken
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons lees vandag verder aan Pastoor Moenie Mors”, ’n lekker verhaal van SALMON SMITH. Geniet nou die vierde hoofstuk.

DAAR is ’n wrede grynslag op Boytjie se gangster-gevreet toe hy die gun span en die loop teen pastoor Maarman se voorkop druk.

“Ja, bars die ding se pet, my broe!” moedig sy twee gangster-brasse hom gelyk aan.

“O, jarra! Hy gaat daai man skiet!” gil iemand wat op die oomblik daar verbyloop. Hy draai stomp om en hardloop dat sy hakke so klap. Die omstanders spat in alle rigtings.

Maar die kalm en bedaarde houding op pastoor Maarman se gesig irriteer die stront uit Boytjie uit.

Hy het verwag dat die Godsman gaan begin bewe en soebat vir sy lewe. Maar die man lyk nie eens vreesbevange nie.

Dít laat Boytjie sy cool verloor en hy druk met mening die sneller. Almal verwag nou die harde knal. Maar daar is net ’n sagte klikgeluid.

Die skurke se oë rek pieringgroot.

Boytjie haal die vuurwapen weg voor Maarman se voorkop en kyk dit verbaas aan. “Hei, what kind dan nou met die gun?!” gil hy.

“Daa’s ’n stoppage! Cock die ding en skiet weer!” laat een van sy makkers hoor.

“Julle satanskinders het geen mag oor dié man van God!” sê Maarman.

Sy hand skiet uit en hy gryp die vuurwapen uit Boytjie se hand.

“Maak gou kennis met Voorberg!” Soos blits connect hy die jong met sy voorkop vol op sy lelike hekkiebek.

Die momentum lig Boytjie se voete van die sementblad af. Hy vlieg van die winkelstoep af.

Hy ploeg ’n ent verder in die stof neer en rol nog verder.

Voordat die ander twee skarminkels nog tot verhaal kan kom, klim Maarman verwoed onder hulle in.

Met goed gemikte vuishoue, akkurate skoppe en kopstampe wys hy gou hoekom hy in sy jong dae as die Noord-Kaap se karate-kam­pioen en bobaas-kopslaner gekroon is.

“Julle is lafhartige gemorste! Julle kan nie alleen staan vir jul ding nie! Dít is hoekom julle aan bendes behoort!” gil Maarman terwyl hy die houe laat reën op die drie skollies.

Later, toe die drie al kreunend daar op die grond lê, maak pastoor Maarman sy baadjie se knope los.

“Laat ek gou my bekeerbaadjie uittrek!” sê hy.

Hy gooi sy baadjie eenkant toe. “Ek is nog nie klaar met julle nie! Ek gaan dié Kleinvlei skoonmaak van julle gebroedsels!

“Niemand het dit nog durf waag om op te staan teen julle nie, maar ék is nie daai ‘niemand’ nie. Vandag slaan ek sewe soorte k*k uit julle uit!”

Met die laaste woorde loop hy hulle weer storm. Nou vee hy sommer behoorlik die grond met hulle.

Daar het toe intussen ’n skare rondom hulle gevorm. En hulle juig die pastoor opgewonde toe.

“Dis reg, die moegoes makeer lankal so ’n pak!” sak ’n antie in ’n lelike pienk gown af.

“Ja, hulle het nou hul moses teëgekom by dié pastoor!” laat nog een hoor.

“O, jarra, hou op, Pastor! Dis seer!” kerm Boytjie dit uit.

“Assamblieftog, pastor Moenie Mors! Ôs sallie weer met djou mors nie!” klink nog een se klaagliedere op.

Maar pastoor Maarman hou sy woord getrou gestand. Hy slaan hulle dat hulle letterlik in hul broeke ontlas.

“Siesa, wat stink so na poupou?” sak so ’n klein snotneusklonkie af toe die wind die klank in sy rigting dra.

Die jongens sien gou die gap tussen die skare.

Hinkepink mol hulle daarvoor en jy sien net stof staan soos hulle ooplê in Keeromstraat af.

“Jarra, kyk hoe hol daai jongens!” gil iemand laggend agterna.

“Dankie, Pastor!” prys die omstanders Maarman in ’n koor.

Toe hulle mol om sy hand te skud, staan hy gou eenkant toe en tel sy baadjie van die grond af op.

Hy skud dit vinnig af en trek dit aan.

Uit die hoek van sy oog sien hy hoe die eienaar van die winkel vir hom ’n thumbs-up wys.

Hy gaan staan toe daar voor die opgewonde skare.

Daar daal ’n stilte neer toe hulle sy koue, donker blik sien.

“Dit is julle wat vir die gangsters so baie draad gee!” bulder sy stem.

“Julle wys vir hulle julle is bang vir hulle. Dít gee hulle plak. Dan dink hulle dat hulle untouchable is!”

Hy beduie met sy hande oor die gebied heen.

“Toe ek so drie maande gelede uit die Noord-Kaap hierheen gekom het, het ek sommer onmiddellik gesien wat hier aangaan.

“Ek’t gesien in watter toestand hierdie gemeenskap is. Ek’t gesien hoekom die gangsters hulle so sterkgevreet hou!

“Dit is omdat júlle vir hulle op-cover­!”

’n Paar laities hier voor wip soos hulle skrik vir die pastoor se harde stem.

“Ek’t gesien hoe julle die polisie met klippe gooi as hulle die gemorste kom arresteer.

“Dieselfde gemorste wat so julle jong laities se lewens verwoes met hul dwelms.

“Dieselfde gemorste wat so jul jong dogters opmors. Dieselfde gemorste wie se dwaalkoeëls jul onskuldige kinders dood.

“Júlle beskerm daardie gemorste teen dié wat wet en orde moet handhaaf. Maar as die misdaad floreer, dan vra julle waar is die polisie dan?

“Julle bel dan daardie selfde polisie wat julle gister met die klippe gegooi het. Watter tipe mentaliteit is dit?”

Maarman skep asem. Hy laat sy woorde eers insink.

“Toe ek drie maande gelede die pos hier as pastoor by die Nuwe Hoop Ministries aanvaar het, het ek besef dat ek nie net siele vir die Here moet wen nie.

“Ek het besef dat ek ook weer ons gemeenskap moet terugwen van die gangsters! En ek gaan nie rus voordat ek my selfopgelegde taak suksesvol uitgevoer het nie!”

’n Luide applous klink op en dit irriteer pastoor Maarman.

“Julle kan vir my applous gee as die laaste Evil Kid geval het!” sê hy stroef en stap tussen die skare deur na sy huis in Namakwastraat.

DIT is net ná 23:00 daardie aand toe pastoor Maarman met ’n helse lawaai uit sy diep slaap geruk word.

Die klank van glas wat breek, weergalm deur sy huis.

Hy spring uit sy bed en mol voorhuis toe. Hy is net betyds om te sien hoe ’n helse klip deur sy voorhuisvenster trek.

Hy koes net betyds voordat die klip hom teen die kop kan tref.

Hy sien nog twee klippe in sy voorhuis en een klip in sy kombuis lê.

Hy storm voordeur toe, sluit dit haastig oop en storm na buite.

In die donker straat sien hy die jongens uitdagend daar staan.

Daar is so vyf van hulle en hul elkeen het ’n klip of twee in hul hande.

“Pastor Moenie Mors, vanaand vrek djy!” gil een van hulle.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters