24 dae gelede
Die pastoor loop hom vas in ’n vurige situasie
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons lees vandag verder aan Pastoor Moenie Mors”, ’n uitstekende verhaal van SALMON SMITH. Geniet nou die derde hoofstuk.

TOE die vent skielik ’n mes uitpluk, beweeg pastoor Maarman blitssnel. Hy skiet vorentoe en konnek die sleg jong een hou met die voorkop reg op sy lelike bek. Hy volg sommer onmiddellik op met twee dodelike houe vol in sy bendelidbakkies, dat sy neusbeen windskeef sit. Die momentum neem boef se kind deur die lug. Vir ’n oomblik ervaar hy gewigloosheid, maar koop ’n lappie grond ’n entjie verder. ’n Kruising tussen ’n hik en snorkgeluid ontsnap uit sy aaklige keelgat. Die bloed stroom uit sy neus en mond en die mes spat uit sy hande.

Die laaste gedagte wat deur die boef se kop gaan, is hoe ’n ou man dit regkry om met soveel spoed te beweeg... voordat die donkerte genadiglik oor hom toevou.

Maarman tel vinnig die mes op en druk dit in sy broeksak. Hy wend hom tot die jong meisiekind wat nog eenkant staan en tjank.

“My jirre, meisiekind, wat soek jy so laat op straat?! En wie is die blerrie gemors wat jou so rondklap?” raas hy met haar.

“Hy is my boyfriend, Pastoor,” snik sy.

“Jou boyfriend?!” hyg Maarman dit uit.

“Jy ruik nog na babapoeier, maar jy het al ’n boyfriend?! En dit nogal ’n skollie-gemors vir ’n boyfriend?! Watter ouer laat sulke stront toe?!

“Wat is jou naam en waar bly jy?”

“Candice, Pastor. En ek bly in Keeromstraat.”

Maarman gryp haar aan die arm. “Kom, ek neem jou nou onmiddellik huis toe. Ek wil bietjie met jou ouers gaan gesels en hulle met die tong tug!”

Die Sondagoggend daarna lewer past. Dawid Maarman, alias “Pastoor Moenie Mors”, ’n vurige preek. Hy tugtig die jongmense met sy vuurspuwende tong.

Sy preek gaan oor vandag se ongehoorsame kinders. Die vorige aand se voorval was sy inspirasie vir dié vurige boodskap.

“Kinders, julle moet jul ouers respekteer sodat jul dae verleng kan word. Luister na hul vermaning! Magtag! Jy’s noggie groot as jy 18 is nie! Nee, jy ruik nog na stront, kimbies en babapoeier!”

Nou spat die spoeg behoorlik.

“Terwyl jy nog onder jou ouers se dak bly, is jy onder hul orders! Maar, nee, julle hou julle mos groot en dink julle ken die lewe! Nee! Julle ken nog nie die lewe nie!

“Die wêreld is woes daar buite. Die wêreld wag om julle in te sluk – nes daai sleg etter-skollie-gemorste wat so daar oppie hoeke agter hul knieë wag om jul vars vruggies te proe! Om daai jong, stywe peertjies ryp te druk!”

’n Onderlangse gemompel klink in die kerk op.

“Asseblief, dierbares! Moetie in my bek mors as ek oor die waarheid preek nie!” vermaan hy ernstig.

Daar heers sommer onmiddellik ’n doodse stilte.

Sommiges kyk bangerig na die pastoor se voorkop. Hulle besef al teen die tyd dat dáárdie ’n dodelike wapen is wat jou sommer gou kan laat slaap as jy hom durf teengaan.

“Gisteraand moes ek ’n jong meisiekind red wat deur haar skollie-boyfriend geslaan is. Sy het laataand deur haar ma se venster gespring agter daai jong aan,” tier hy voort.

“Wat soek ’n skoolkind in die arms van ’n nuttelose etter? ’n Etter wat haar niks kan bied nie! ’n Etter wat haar sal aftrek tot in die diep, donker put van die hel?

“Jong mens, hoekom sal jy daardie ouer wat vir jou so swaar grootgemaak het, wil afstaan vir ’n sleg gemors wat niks vir jou voel nie?! Dáárdie ouer wat jou strontgat skoongemaak het, wat jou gedokter het wanneer jy siek was, wat jou gevoed het wanneer jy honger was, wat altyd vir jou bid en vir jou omgee. Nou wil jy daardie ouers verraai vir iets nutteloos.

“Dink mooi voordat jy val vir die mooipraatjies uit daardie boef se morsige, goue bek. Sy namelekkers en kwaai, gladde hare is niks nie! Sy tatoes issie cool nie!

“Die Here sê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie!’ Net so sê daai tikkop en button-kop ook: ‘Anties, laat djou jong meisiekinders na my toe ko’ en verhinder hulle nie!’”

’n Geproes klink op.

“Ja, julle kan maar lag. Maar dis die wrede werklikheid daar buite. Ons moet kyk na ons kinders voordat hulle val in die hande van Satan.

“Maar kyk hoe gaan ons toekoms aan, asof daar nie ’n toekoms is nie!

“Kom laat ons bid!”

Die Sondagagtermiddag loop pastoor Maarman na ’n winkel in Keeromstraat. Daar sit drie jongens op die winkelstoep en biere drink. Hulle is baie luidrugtig.

“Djy! Djou ma se...!” vloek een op ’n rondloperhond wat daar verby drentel. Hy tel sommer terselfdertyd ’n leë bierbottel op en gooi dit in die hond se rigting. Dit spat in stukke toe dit die teerblad tref.

Onder normale omstandighede sou dié lae daad pastoor Maarman se bloed gou laat kook het. Sy aandag is egter op die bloedjong meisiekind wat op een van die skarminkels se skoot sit. Sy is seker nog nie eens 16 nie. Sy giggel uitbundig toe hy met sy skurwe hande onder haar T-shirt vroetel.

“Ha-a-a, man, Boytjie. Los af my borste! Hulle pla nie vi djou nie!” berispe sy hom kamma-likes. Maar dit lyk eerder asof sy dit geniet.

Maarman se bors is by dié tyd al verby kookpunt.

Hy loop die groepie storm. “Meisiekind! Weet jou ma jy meng jou hier op winkelstoepe met die semels?” spoeg hy dit woedend uit.

Die meisiekind skrik groot toe sy haar kerk se pastoor herken. Sy spring so vinnig van die jong se skoot af dat hy agteroor tuimel.

“P-pastor... E-ek...” stamel sy verbouereerd.

“Maak dat jy by jou blerrie huis kom!” beveel hy haar kortaf.

Sy maak haar vinnig uit die voete.

Intussen het Boytjie en sy makkers op hul voete gekom.

Hulle staan nou dreigend die hele winkel se ingang vol en gluur Maarman aan.

“Kykie, ou man! Djy’t mos ’n k*k plak om vir ons semels te noem! Djysie ee’s bang ôs skop djou wind ytie!” sak Boytjie af.

Daar is nie ’n greintjie vrees op pastoor Maarman se gesig terwyl hy hulle terug aangluur nie. Hy herken twee van hulle as lede van die Evil Kids. Hulle was gisteroggend in sy kerk toe hy daai misgewas Kannie Dood begrawe het.

Twee herken pastoor Maarman en hulle kyk vlugtig na Boytjie.

“Hey, Boytjie. Dis daai pastoor Moenie Mors, wat gister ôs bra begrawe het,” sak een af.

Die ou se stem verraai sommer dat hy nou skrikkerig is. Maar diep in sy hart hou hy hom braaf, want hy is mos nou tussen sy brasse.

Boytjie kyk Maarman skeef aan.

“O, dissie jong van wie Misoes gepraat het! Die ou wat so k*k gepraat het van ôs gangsters!” spoeg hy dit uit.

Skielik pluk hy ’n vuurwapen uit.

“Ek dink ôs leer vir hom ’n les en stuur hom na sy pa!” sê hy, span die vuurwapen en druk die loop teen pastoor Maarman se kop.

Sy vinger vou om die sneller en hy trek dit met mening…

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters