21 dae gelede
Die ou verras haar en nou wil sy éérs die waarheid weet
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Meities weet nie hoe sy dit het met die man wat haar hostage hou nie. Die spanning loop veral dik toe haar buurvrou Ria kom inpop. Ria tjommel so dat sy nie eens agterkom dat die arme Meities in gevaar verkeer nie. Gaan redding Meities se kant toe kyk? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ESME CUPIDO se Vir ’n Dag of Drie”.

MEITIES skrik wakker. Die son skyn helder by haar kamervenster in. Sy kyk vinnig op haar polshorlosie toe sy geluide in die kombuis hoor.

Dis 08:17.

Sy is nog besig om haar kamerjas vas te knoop toe sy in die oopplandeel kom.

Regs van haar in die kombuis is die man besig om botter op brood te smeer.

Die kat is lustig besig om aan sy katkossies te eet.

Die man draai om. Hy lyk nog slegter as die vorige dag.

Die nes op sy kop het saamgekoek in ’n bol staalwol. Hy glimlag effens verskonend.

“Ek het vir my koffie gemaak. Gaan jy ook drink?”

Die kat lig sy kop op, staar ’n oomblik lank na haar asof sy ’n onbekende is en eet vinnig verder.

“Asseblief. Ek gaan net gou my gesig was en my tande borsel.”

Toe sy aangetrek weer in die sitkamer kom, staan haar beker koffie op die tafeltjie. Daar is ook twee snye brood.

“Dankie,” fluister sy.

“Luister, Antie, jy kan vandag winkel toe gaan.”

Meities glimlag dankbaar op na hom.

“Maar ek sal net ’n tree of twee agter of langs jou wees. Jy try niks.”

Hy voeg by: “Ons moet sommer nóú gaan, voordat dit te besig raak.”

“Dankie,” fluister sy weer.

Sy eet haar brood vinnig, sluk die vuurwarm koffie af en verdwyn by haar kamer in.

TOE hulle straataf dorp toe stap, voel dit asof sy op pad is na die een of ander fees of partytjie.

Sy voel skaars die vroegoggendhitte. Sy groet elke mens wat sy teëkom met ’n glimlag.

“Dit lyk my jy ken die hele dorp.”

“Eintlik ken ek min mense. Ek is ’n inkommer. Ek woon net meer as agt jaar hier in Bessiefontein.”

Sy waai vir ’n oompie wat by garage buite sy kar staan.

Hulle loop verby ’n stel landboukantore, die dorp se museum en Bessiefontein se apteek.

By die apteek kom ’n ouerige vrou uitgestap met ’n pakkie in haar hand.

“Môre, Meities. Warm vandag, nè?”

Die vrou lyk elegant. Haar groen sonrok sit perfek om haar ronde lyf.

“Môre, juf. Megda. Ja nee, ons braai vandag weer in die warmte.”

“En hierdie is ...?”

Juf. Megda kyk na die man wat langs Meities kom staan het.

“Dis John, my um ... verlangse familielid.”

Juf. Megda kyk na die man asof hy pas uit ’n asdrom gespring het.

Sy draai vinnig weer na Meities.

“O ... Nou ja toe. Ek het net gou vir Liesie ietsie by die apteek kom kry. Sien jou Donderdag by die koor!”

“Baai, juf. Megda.”

“Is dit die koor-antie met die skoolkind wat met die lyf is?”

“Sjuut!” Meities moet glimlag.

By die volgende straat draai hulle in. Hulle stap in stilte verby die drankwinkel en kom by die supermark uit.

Die winkel is heerlik koel. Meities neem net ’n mandjie, want met R200 kan jy net soveel goed koop.

Hy neem die mandjie by haar en hulle loop ry vir ry vir brood, melk, kaas en eiers.

Tot haar verbasing sien sy dat hy ’n koeldrank, sjokolade en sakkies piesangs en perskes ook inpak. Sy wonder of haar geld genoeg gaan wees. Sy het darem nog ’n paar los sente in haar beursie.

By die betaaltoonbank pak hy die goed uit. Die glimlaggende kassier het lus vir gesels.

“Hallo, Meneer. ’n Sakkie vir u?”

“Ja, asseblief.”

“Meneer is nie van hier nie … O, ek sien nou vir antie Meities. Is hy family?”

Sy glimlag op in sy oë.

“H’m. Ja, ja, hy is. Katie, kan jy twee sakkies gee, asseblief?”

“Maak so, Antie.”

Sy kyk weer op na die man terwyl sy die kaas probeer scan.

“Bessiefontein het nie baie jong mense nie. Jy moet Saterdagaand na die jol toe kom,” nooi sy.

Hy ignoreer haar en pak die goed in die twee sakke sonder om na haar te kyk.

“Dis R367. Kaart of kontant?”

Die kassier kyk na die man. Hy haal ’n rol note uit sy broeksak, haal twee R200-note uit en betaal.

Meities staar na die rol note, wat hy vinnig weer in sy sak druk.

Die kassier probeer weer.

“Baai, julle. Sien ek jou Saterdagaand?”

Die man neem die twee sakke en stap uit.

Hulle stap stil terug. Die kat is bly om hulle te sien. Hy loer in die sakke in wat die man op die grond neergesit het.

Meities is stil terwyl sy vir hulle middagete maak. Sy vat haar bord kamer toe en maak die deur toe.

Nadat sy geëet het, lê sy terug teen die kussings.

Só kan dit nie aangaan nie. Waar kry hy daai spul geld? Wie is hy?

Die kos en die stappie na die winkel het Meities lomerig gemaak. Sy maak haar gemaklik op die bed.

SY WORD wakker en sien op haar polshorlosie dis 15:28. Sy het lank geslaap. Sy voel moeg en tam en is sopnat gesweet.

Buite die deur hoor sy die kat miaau. Verder is die huis stil.

Die rol note in die man se besit, waar het hy dit gekry? Buig of bars, sy gaan nou uitvind wat aan die gang is!

Hy lê op die bank, oë toe. Sy gaan sit oorkant hom.

“Ons moet praat.”

“Waaroor?” vra hy sonder om sy oë oop te maak.

Sy voel sy kan ontplof.

“Waaroor? Regtig? Om te begin, waar het jy daai klomp geld gekry? Watse rol note is daai?”

“Wat traak dit jou?” Sy oë is nou oop. Hy kyk haar stip aan.

“Ek wil nóú weet wat jou storie is. Nóú. Wie is jy? Waar kom jy vandaan? Hoekom is jy hier? Antwoord my!”

Die laaste twee woorde gil sy amper uit.

Die kat laat spaander verskrik by die klein deurtjie uit.

“Sagter! Wil jy hê die hele buurt moet jou hoor gil? F*kk*t ...”

Hy sit nou regop en vee oor sy gesig. Probeer die knoes staalwol bo sy kop platdruk.

“Jy’t my nog nie regtig hoor gil nie.

“Ek sal gil totdat jou ore tuit, totdat jy my die waarheid vertel.”

Sy is wit in die gesig van woede. Hy kyk haar takserend aan en neem dan ’n besluit.

“Oukei. Wat wil jy weet?”

“Alles. Maar veral: Hou ek ’n misdadiger in my huis aan?”

Hy sug.

“Ja. Die polisie soek my.”

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters