Verlede maand
Die ou oom sê vir Liefde daar is g’n sein waar sy nou is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nadat Dino haar so disappoint het, besluit Liefde om ’n einde aan haar swangerskap te maak. Sy gaan besoek ’n sangoma ná skool, maar terwyl sy daar sit, begin die twyfel aan haar knaag. Het sy die regte besluit gemaak? Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se “Liefde”.

TOE dokter Abbu weer die vertrek binnekom, staan Liefde met haar skoolsak in die hand.

“And now?” vra dokter Abbu en trek sy gesig op ’n plooi.

“Where are you going? This is not going to take long and will not be painful, my friend.”

Liefde skud haar kop ferm.

“Ek het my mind gechange. Ek loop nou.”

Dokter Abbu kry haar aan die arm beet, maar sy ruk haar los.

“The forefathers won’t be happy with you,” sis dokter Abbu.

“Die forefathers se gat,” kap Liefde terug.

“Laas week was ’n vriendin van my by jou en toe het die voorvaders kamma-likes gesê hulle drink Jack Daniels en my vriendin bloei nou nog nadat jy met haar klaar is.

“My mind is opgemaak. Ek gaan die baby hou.

“Jy kan maar daai R500 hou. Dit is tog maar waaroor dit vir jou gaan, nie waar nie?”

Die oomblik toe Liefde by dokter Abbu probeer verbyskuur, kry hy haar weer aan die arm beet. Hierdie keer met ’n sterker greep.

Liefde ruk haar los, maar in die proses verloor sy haar balans.

Sy sien sterretjies in al die kleure van die reënboog toe haar agterkop kliphard met dokter Abbu se vuil vloer kennis maak.

Die laaste ding wat sy onthou, is die grimmige uitdrukking op die toordokter se gesig voordat die donker haar soos ’n langverlore vriend omhels ...

SY IS in ’n lang, wit gang. Iewers speel sagte klassieke musiek. Iewers hoor sy stemme.

“Hallo?”

Liefde se stem weergalm deur die hele vertrek. Sy wonder waar sy is. Dan besluit sy om in die rigting te stap waar sy die stemme kan hoor.

Maar om te stap is makliker gesê as gedaan. Die vertrek is enorm en dit voel dit vat haar ’n leeftyd om tot by die voet van die stel trappe te stap.

Vir ’n oomblik talm sy voordat sy die trappe bestyg. Weer vat dit lank – amper so lank soos wat dit vir die land vat om te besef korrupsie dryf ons almal oor die afgrond.

Liefde trek haar asem skerp in toe sy besef die trapreling is van pure goud. En verbeel sy haar of is daar klein diamantjies in die goud gegraveer? Watter plek is dit dan hierdie?

Dan hoor sy weer die musiek blêr. Hierdie keer klink dit vir haar asof ’n jukebox iewers aan’t speel is.

Ooh, baby, do you know what that’s worth?

Ooh, heaven is a place on earth

They say in heaven love comes first

We’ll make heaven a place on earth

Ooh, heaven is a place on earth ...

Vir ’n oomblik wonder Liefde of dokter Abbu skielik sy sukkelende sangoma-fabriek in ’n tavern omskep het, maar die plek lyk glad nie vir haar bekend nie.

Die laaste ding wat sy onthou, is dat sy dokter Abbu se plek wou verlaat.

En toe keer hy haar en toe val sy en ...

Wait a minute, dink sy. Is sy dood? Het sy maybe gesterf en in die hemel opgeëindig?

Maar iemand soos sy, wat haar babatjie wou doodmaak ... sal iemand soos sy in die hemel beland?

Iewers hoor sy iemand bo uit kraai van die lag.

Vinnig bestyg sy verder die trappe. Ietwat uitasem kom sy finally by die bopunt.

Sy sien ’n oop glasskuifdeur en stap daarheen. Die skuifdeur lei uit op ’n patio en sy snak byna dadelik na haar asem.

Dit voel vir Liefde of sy na die twee verste punte van die aarde se pole kyk.

Aan haar linkerkant sien sy ’n strand met klein laagwaterpoeletjies. Aan haar regterkant sien sy bergpieke wat met sneeu bedek is.

“Sou dit nie beter gewees het om ’n teleskoop te bou wat albei beelde nader aan mekaar bring nie?” wonder sy kliphard.

“Sy het nogal ’n punt beet. Ons kan nogal gebruik maak van haar,” bulder ’n stem van iewers.

Liefde swaai om. “Hallo?” vra sy bangerig.

Al antwoord wat sy egter terugkry, is die eggo van haar eie, onsekere stem.

Maar toe sy omdraai, skrik sy haar byna uit haar geloof uit. Voor haar staan ’n ouerige man met ’n grys bokbaardjie.

Daar is ’n goue chain om sy nek. Sy vingers is vol ringe. Hy het ’n luiperd-print vessie aan en sy een arm het ’n liederlike spykertjappie wat lyk soos ’n stokmannetjie wat aan ’n balk hang.

Sag op die oog lyk die oom beslis nie, maar daar is iets aan die ouman wat vir Liefde baie bekend lyk. Sy kan net nie haar vinger daarop sit nie...

“Lyk my jy het verdwaal, ousie,” antwoord hy in ’n krakerige stem.

“Wat sal jou dan nou besiel om hier so te staan en raas?”

Liefde wil haar vererg oor die man haar so oor die vingers raps, maar hou haar in.

Haar ma het haar immers mooi geleer om oumense met respek te behandel. Selfs al lyk die oom soos watse gangster uit Jan van Riebeeck se tyd.

“Kan uncle my sê waar ek is? Dit lyk my ek het by ’n verkeerde huis ingeloop.”

Die oom krap in sy Pepe-jeanssak en bring ’n pyp te voorskyn.

Vir ’n oomblik wonder Liefde of die oom haar ooit gehoor het.

Maar nadat hy ’n paar rookwolke die lug ingeblaas het, sê hy: “Daar is nie iets soos ’n verkeerde plek en tyd nie. Soms is ons presies waar ons moet wees.”

“Ek verstaan nie,” antwoord Liefde en frons.

“Ek hoort nie hier nie. Hierdie is iemand anders se huis en ek wil nie hê daar moet gesê word ek loop en breek by mense se plekke in nie. My ma het my nie so grootgemaak nie.”

Die man gee ’n aamborstige hoesie.

“ ’n Mens kan sommer sien wie jou ma is,” antwoord hy dan.

Liefde loer vraend na hom. “So, Uncle ken my ma? Was julle saam op skool? Of was julle in dieselfde WhatsApp-groep?

“Kan uncle vir my ma ’n Please Call Me stuur dat sy my kan kom haal? Ek weet nie wat van my phone geword het nie.”

“Hier waar jy nou is, is daar nie sein nie. Net die geleentheid om dit wat los is, vas te maak.”

“Hoe mean Uncle dan nou?” vra Liefde. En toe merk sy die lyne om die ou se nek op.

Die bloed vloei yskoud deur haar are toe sy besef sy het die man al gesien. Op ’n portret. In haar ma se voorkamer ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters