Verlede maand
Die moord op ’n sakeman verdeel inwoners in kampe
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis tyd vir ’n vars gesig. CEDRIC AFRIKA maak vandag sy Oom Sonnie-debuut met sy verhaal “Met liefde vir Mamma”. Geniet die eerste hoofstuk!

‘DIE hof spreek vandag vonnis soos volg uit: “Op klag nommer 1, roof met verswarende omstandighede, vonnis die hof u tot sewe jaar gevangenisstraf.

“Klag nommer 2, motordiefstal, drie jaar gevangenisstraf.

“En vir die moord op mnr. Daniel Britz, lewenslank. U kan maar afstaan, mnr. Van der Ross.”

Die streeklanddros se stem is eentonig.

“Soos dit die hof behaag, U Edele,” sê die jong regshulpprokureur en maak ’n ligte buiging voor die landdros. Sonder om weer na sy pas gevonniste kliënt om te kyk, verlaat hy die hofsaal op ’n drafstap.

Elton van der Ross staar ’n oomblik lank uitdrukkingloos voor hom uit.

Toe tik die hofordonnans hom liggies aan die skouer.

“Dit is tyd om te gaan, Ouboet.” In die beskuldigdebank draai hy om en sy blik dwaal soekend oor die volgepakte hofsaal totdat hy haar sien.

Hettie van der Ross staar met betraande oë voor haar uit en begin saggies snik, maar kan haarself nie sover kry om oogkontak met haar lieflingseun te maak nie.

“Ek het dit vir my ma gedoen, julle klomp skynheilige varke!” verbreek Elton van der Ross se skril stem meteens die plofbare stilte in die hofsaal.

Die hofordonnans het daarna moeite om die orde in die hofsaal te herstel.

Ou meester Connie Claassen maak sy notaboekie vinnig toe en glip ongesiens by die sydeur van die hofsaal uit.

As afgetrede laerskoolonderwyser, wyksdiaken en vryskutjoernalis vir die dorp se plaaslike koerant het hy hom die taak opgelê om die belange van die gemeenskap sy prioriteit te maak, maar vanoggend voordat die hofverrigtinge begin het, is hy reeds uitgekryt as dié Klein Karoo-dorp se grootste skinderbek.

Ou meester Claassen dra sy jare mooi en met sy grys hare en atletiese voorkoms verlaat hy die hofsaal op ’n drafstap met een doel voor oë – hy moet ’n indiepte-onderhoud met Hettie van der Ross, die ma van die pas veroordeelde moordenaar, voer. Dit gaan egter moeilik wees om haar alleen te kry.

Haar ondersteuners draai reeds die laaste paar weke so beskermend soos ’n hen om haar kuikens om haar.

Buite voor die hof heers daar groter chaos. Die gemeenskap is reeds die laaste paar maande ná die opspraakwekkende moord op Daniel Britz, die dorp se taxibaas en tavern-eienaar, in twee faksies verdeel.

Dis die Britz-kamp aan die een kant en die Hettie van der Ross- kamp aan die ander kant.

Verslaggewers van verskillende koerante stoei onder mekaar om alles op kamera vas te lê toe die twee strydende kampe daar buite op die sypaadjie in ’n bekgeveg betrokke raak.

“Hy was ’n gesins-man en die enigste man wat vir die gemeenskap opgestaan het,” laat ’n gryskop-tannie in haar mooiste kerkrok uit die Britz-kamp van haar hoor.

“Vertel hulle, ant Makkie,” moedig ’n jong meisie met ongekamde hare die ou tannie aan.

“Nou wil hulle nogal sê dat daai vuil gemors, Spokie, oom Danie se kind is. Sies vir hulle.

“Oom Danie was ’n gerespekteerde besigheidsman wie se hande vir almal oopgestaan het.”

Die volgende oomblik pak die twee kampe mekaar met vuishoue. klippe en koeldrankbottels.

Die polisie moet later versterkings inroep om die strydende partye onder bedwang te bring.

Meester Claassen het moeite gehad om sy weg deur die oproerige skare te baan en hou hulle nou van ’n veilige afstand by sy motor dop.

Hy ken hierdie gemeenskap en weet uit ondervinding dat die Britz- ondersteuners nie regtig vandag hier is as morele ondersteuning vir die familie van wyle Daniel Britz nie.

Hulle weet dat daar vandag ná die hofverrigtinge groot fees gevier gaan word by Britz se tavern om geregtigheid te vier.

Dit is met gemengde gevoelens dat meester Claassen later in sy benoude motortjie klim.

Wat het van ons gemeenskappe geword? Waar is die morele waardes en standaarde van ons mense?

Die mensdom vergryp hom deesdae aan drank en dwelms, en daaruit word moord, verkragtings en allerhande maatskaplike euwels gebore, dink die ou man met ’n diepe beklemming terwyl hy deur die dorp se besige hoofstraat ry.

Vandag is dit weer AllPay en die dorp wemel van ou en sieklike mense wat in lang rye by die OTM’s en plekke vir cash loans wag om hul geldjies te onttrek.

Hy het reeds vanoggend vroeg ’n paar onwettige loan sharks by die OTM’s gewaar waar hulle soos aasvoëls wag dat hul customers hul bankkaarte moet kom afhaal.

Die arme mensies het ook seker maar geen ander keuse as om onmiddellik weer ’n geldjie te leen tot die volgende AllPay nie.

Hy wag geduldig by ’n verkeerslig toe ’n paar voetgangers die besige hoofstraat oorsteek.

Dan gewaar hy haar. Hettie van der Ross en haar ondersteuners is op pad na die taxi rank.

Hy frons meteens toe die beeld van haar seun voor sy geestesoog opduik.

Kan die gerugte waar wees wat deesdae die rondte op die dorp doen dat Spokie van der Ross eintlik oorle Danie Britz se seun is?

Dat dit nie so is dat Spokie se pa êrens in die Kaap vermoor is soos wat sy hulle nog ál die jare laat glo het nie?

Daar is tog ’n sterk ooreenkoms, besef hy meteens.

Maar as Spokie regtig Daniel se eie seun is, hoekom sou hy hom dan koelbloedig vermoor?

Sy kop is ’n stuwende deurmekaarspul van onbeantwoorde vrae toe hy later die dorp verlaat.

Dit is Woensdagaand en ou meester Claassen staar bekommerd na die donker wolke wat vinnig besig is om die dorp soos ’n reuse-kombers toe te vou.

Die reën sal natuurlik welkom wees.

Dit het maande laas in hierdie distrik gereën en die damme is amper leeg.

Hy het dit juis so gereël dat die wyksbiduur vanaand by sy huis sal wees. Al reën dit ook klippe sal dit nie sy wyk se gemeentelede laat wegbly nie.

Die geur van lekker volstruis- vlerkpunt-kerrie kom lê tergend onder sy neus.

Inus, sy dierbare vroutjie wie se hande vir niks verkeerd staan nie, is ook reeds van vroegmiddag besig met soetgebak vir die gemeentelede ná die biduur.

Hy glimlag nadenkend.

Dit is ook maar ál rede hoekom die opkoms altyd so groot is wanneer die wyksbiduur by sy huis gehou word.

Niemand kan sy Inus se liplekker soetgebak weerstaan nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters