Verlede maand
Die kind se gehuil laat Mercia haar ore wil toedruk
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Tussen Drome en Die Werklikheid”, ’n splinternuwe verhaal van CHRISTO MEYER. Geniet nou hoofstuk 2.

DIS baie jare later. Mercia is nie meer die skraal meisietjie van lank ge­lede nie.

Sy het grootgeword en is nou ’n volwasse vrou met haar eie lewe. Sy het die platteland verlaat en haar in die stad gaan vestig.

Sy is ’n ondersoekbeampte in diens van die polisie en is getroud met Boontjies Bruinders, die bekroonde joernalis.

Ná die gesprek met haar ma daardie oggend voor skool was Mercia bitter spyt sy het ooit oor haar pa uitgevra.

Haar ma was reg: Dit sou beter gewees het om nie die waarheid te weet nie.

Die waarheid was aakliger as wat sy haar ooit kon voorstel. Haar ma het haar alles vertel sonder om enige detail uit te laat.

Uit haar ma se mond het Mercia verneem wie haar pa is, waar hy woon en wat hy vir ’n lewe doen.

Sy wou meteens niks met hom te doen hê nie, absoluut niks nie.

Haar droom om hom te ontmoet, is verpletter.

Tog het daar in haar agterkop ’n idee gebroei om hom eendag oor alles te gaan konfronteer.

Sy het ook besef daar is net een manier om van die seer in haar binneste ontslae te raak: Om vorentoe te kyk en van haar pa se bestaan te vergeet.

Hy was in elk geval nie werd om ’n man genoem te word ná die hel wat hy haar ma deurgesit het nie. Mercia se ma het nooit troos of liefde in die arms van ’n ander man gaan soek nie.

Sy was enkellopend tot die dag dat kanker haar na haar graf gestuur het. Op haar sterfbed het sy vir Mercia gevra om versigtig te wees wie sy in haar lewe vertrou.

“Die wêreld wemel van wolwe in skaapsklere,” was Anna se laaste woorde voordat sy haar asem uitgeblaas het.

Mercia het haar vriende met die hand uitgekies. Sy het nie eintlik meer kontak met haar ou skoolmaats nie, behalwe met Candice, haar beste vriendin...

TUSSEN lang, droë gras op ’n verlate stuk grond. Dít is waar Mercia Bruinders haar een middag bevind. Miskien teen haar sin, want sy is nie so seker of sy regtig daar wil wees nie.

’n Mens het mos keuses in die lewe en dit lyk asof dié besluit iemand anders s’n was.

Vir Mercia wil dit voorkom asof dit ’n ou sportveld is waarop sy staan. ’n Hele ent van haar af sien sy skewe rugbypale.

Sy kyk of sy nie ’n kleedkamer of ’n pawiljoen gewaar nie, maar daar is niks nie.

Die toeskouers het seker maar hul spanne van die kantlyn af aangemoedig, reken sy.

Die wind speel met Mercia se krullerige hare en ruk liggies aan haar dun somerrokkie. Om die een of ander rede het sy nie eens ’n trui aan om haar teen die koue te beskerm nie.

Dit is iets wat sy bitter moeilik vind om te verduidelik.

Sy sou tog nie die huis in hierdie tipe weer verlaat het sonder om iets warms aan te trek nie. Dis immers ’n ope uitnodiging aan verkoue of griep of iets erger.

Hoe op aarde sy hier beland het, is ’n vraag waarop Mercia ’n antwoord soek, maar nie dadelik kan vind nie.

Sy sou tog nie uit haar eie ’n mal perd opgesaal het om hierheen te kom nie ... of sou sy? Wat sou sy hier kom maak het? Dalk vir ’n kluisenaar kom kuier het? Of wou sy bloot vir ’n uitstappie gaan? Was sy té ingedagte dat sy nie besef het sy verdwaal nie?

Mercia skud haar kop. Onmoontlik. Hier is dan geen teken van lewe nie. Geen water- of toiletgeriewe nie. Geen geboue of voertuie nie. Nie eens ’n bouvallige huisie nie. Boonop lyk niks aan die omgewing eens vaagweg bekend nie. Sy twyfel of selfs ’n persoon wat wegvlug van die waarheid en van die wêreld daar buite afgesny wil wees, hom of haar hier sal wil kom vestig.

Mercia probeer vasstel wat presies hier aan die gang is, maar alles in haar kop is asvaal en dof.

Dis asof die ratte van haar brein nie bereid is om hul samewerking te gee nie. Asof hulle net besluit het om op te hou funksioneer.

Sy verstaan dit nie. Wat is fout met haar? Kan dit dalk wees dat sy aan geheueverlies ly?

Indien wel, hoe en waar het sy dit opgedoen?

Was sy in ’n skermutseling met iemand betrokke en is hierdie die prys wat sy moet betaal omdat sy die onderspit gedelf het?

Een ná die ander maal die vrae deur Mercia se gedagtes. Het iemand haar ontvoer en hier in die ver­latenheid kom aflaai? Moet sy nou op haar eie die pad terug huis toe vind? In watter rigting moet sy begin loop?

Met bang oë kyk Mercia om haar. Hier is nie eens ’n verdwaalde hond of kat in sig nie. Wat nog te sê van mense? Dit beteken net een ding: Sy is aan haar eie genade oorgelaat. Maar deur wie? En waarom? Wat het sy verkeerd gedoen om so iets te verdien?

Mercia skrik vir die gerommel van die wolke in die verte. Sy is op die punt om in trane uit te bars.

Nie dít ook nie, dink sy benoud. As dit nou moet begin reën, het sy nêrens om weg te kruip nie.

Hier is nie eens ’n boom waar­onder sy kan gaan skuiling soek nie. Sy gaan van kop tot tone onder water wees. Wat gaan dan van haar word? Sê nou dit reën vir dae aaneen? Sal sy dit oorleef?

’n Stormsterk wind slinger haar byna van haar voete af. Sy gee ’n tree vorentoe en sukkel om haar balans te behou.

Sy bibber van die koue. Haar maag grom van hongerte.

Wanneer laas het sy iets te ete gehad?

Dit voel soos dae gelede. Haar keel is ook kurkdroog. As sy net ’n bietjie water oor haar lippe kan kry.

Dalk is reënwater glad nie so ’n slegte idee nie.

Mercia verstyf. Verbeel sy haar of het sy sopas iemand hoor huil?

Dit het baie naby geklink. Te naby na haar sin. Sy trek haar asem diep in en blaas dit stadig uit. Wat is dit met haar? Hoekom laat sy toe dat wie dit ook al is, so met haar kop smokkel? Sy is mos nie mal nie.

Dis tyd dat sy haar regruk en uitpluis wat presies hier aan die gang is. Sy is oortuig daarvan dat daar ’n logiese verduideliking is.

Daar hoor sy dit weer: Die gehuil. Effens harder as die eerste keer. Dit klink soos ’n kind. Sy kyk bekommerd rond. Sien niks nie.

Versigtig loop sy verder. Die harde grond maak haar voete seer.

Hoekom is sy kaalvoet? Wat het van haar skoene geword? So baie goed maak nie vir haar sin nie.

Die gehuil word meteens so hard dat Mercia haar ore toedruk.

En tog kan sy haar nie indink dat hier iewers ’n kind kan wees nie.

Watter ma sal haar kind alleen hier tussen niks en nêrens los?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters