3 dae gelede
Die joernalis stel ’n paar taai vrae aan antie Koekie
 ~ 

HAAI Sonlanders! Antie Koekie Armoed werk nog kliphard aan haar verkiesingsplan toe ’n verslaggewer voor haar deur optrek. Die reporter wil graag weet wat haar planne vir die election is. Usain Boltman, haar kleinseun, sê vir sy ouma dié is ’n gulde geleentheid om op die politieke mêp te kom. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se Verkiesingskoors in Boksville.

DIT vat ’n paar oomblikke voordat antie Koekie snap wat Usain vir haar probeer sê.

Sy draai met die breedste van smiles na Sanele Mbakswe.

“Die Son-koerant, sê jy? Rate jou Raadslid? Kom binne, kom binne. Ek sit solank die ketel aan.”

Usain bid diep binne-in sy hart dat die ketelstorie nie weer soos met Oudie se besoek sal uitdraai nie.

Nadat Sanele hom in die sit­kamer tuisgemaak het, haal hy sy notaboekie uit en vroetel rond totdat hy ’n pen opgespoor kry.

“Wat kan antie Koekie my vertel van die huidige raadslid? As ek dit nie mis het nie, staan Johnny Baksteenhuis weer in hierdie wyk?”

Antie Koekie maak haar keel skoon. “As hierdie ’n wyk is, moet Johnny eintlik maar soos Satan wyk… Ver weg van hier.

“Wat kan ek van hom sê? Ons ouers het ons geleer om nie sleg te praat van mense nie, maar Johnny het homself sleg gemaak.

“Jy stem vir hom en dan speel hy vir vyf jaar lank wegkruipertjie met jou.

“Ek mean maar… wie speel nog in vandag se tyd wegkruipertjie?”

“So watter veranderinge gaan antie Koekie bring?” vra Sanele met sy hand gereed om te skryf.

Antie Koekie loer na Usain. Vir ’n oomblik is daar paniek in haar oë te bespeur. Usain se moed sak tot in sy kapalangs.

“Promises… promises is cheap,” sê antie Koekie. “Ons is nou al wat…? 30 jaar in ’n demokrasie, maar verligting van armoede word nóú nog soos ’n geelwortel voor mense se neuse rondgeswaai.

“Hier in Boksville skiet die gangsters nes hulle lus het. Die jong kinders maak matriek klaar, maar kry nie hier werk nie.

“Hulle staan soos ornamente by die kragboks, bak chips van hul ma’s se aartappels… Het jy gesien hoe duur is aartappels deesdae?

“Kry hulle ’n werkie, is dit om sypaadjies skoon te vee. Hoekom het hulle dan skool klaargemaak?

“Soek jy raadslede soos ou Johnny Baksteenhuis, is hulle in meetings. Hulle beantwoord nie jou phone calls of boodskappe nie.

“Kry jy hulle in die hande, is hulle haastig, want hulle is op pad na nog ’n meeting. Dit bly net meetings. Dis ’n meeting om nog ’n meeting te reël.

“Maar ek het gehoor dis eintlik al van kleintyd Johnny se droom om in ’n Ghostbusters movie te speel.”

“Antie Koekie beantwoord nie my vraag nie,” hou Sanele dik.

“Wat gaan Boksville anders maak as antie Koekie die raadslid hier is?”

Antie Koekie gooi nog ’n lepel suiker in haar koffie en roer dit so dat Usain sweer die teelepeltjie se kop draai al in die rondte. Sy vat dan ’n harde slurp-sluk van haar koffie voordat sy die koppie weer neersit.

“Ek wil weer ’n liefde vir werk by my Boksvillers kweek,” antwoord sy dan.

“Hier het elke Jan wat graag wil rap ’n disability gefake, maar eintlik makeer hy niks.

“Hier het Klimmetjie se meisiekind met die groot oë wat lyk of sy permanent skrik, ook nou kind gekry. Vandag se kinders is nou die ouers. Skaars 20 jaar oud en dan is sy al ’n ma van drie of vier. Werkskepping gaan die jong mense besig hou. Ook beter poliesmanne as Jan-Struis poliesman, wat heeldag by die polies­stasie slaap. En bel jy hom, sê hy daar is nie ’n vên nie.

“Ons Boksvillers moet weer trots wees op onsself en nie vullislorrie-dag in my vullisdrom kom krap en dan op Facebook eiers wil lê oor die ou bloomers wat ek weggegooi het nie.”

Sanele sukkel met groot moeite om ’n proes te onderdruk, maar vervolg dan: “Daar is ’n skills-oudit uit wat toon dat 62% van alle raadslede nie basiese rekenaarvaardighede het nie. Wat weet antie Koekie van Windows 10?”

Antie Koekie skuif ongemaklik op die bank rond en loer dan in Usain se rigting. Dié vermy oogkontak asof dit uit die mode is.

“Uh... seun, soos jy kan sien, het ek mos maar ’n klein huisie. Hier is beslis nie 10 vensters in hierdie huis nie.

“Maar wat wil ek nou gesê het... uh... Sommige mense raak mos naar van rekenaars.

“Tegnologie is ’n naarte. Van ons mense kry swaar. Kan Windows-watsegoeters geëet word? Sit dit kos op die tafel?

“Kan jy vir Windows 10... Dit is mos Windows 10, nè? Kan jy vir Windows 10 winkel toe stuur?

“Ek is nie geleerd nie, maar ek kan jou sê dat ek darem nie in sub A deur die venster gekyk het nie. Wat baat tegnologie vir Boksville se mense? Hier is ’n êp en ’n êppil dieselfde ding.”

Sanele maak hard keel skoon.

“Antie Koekie het seker gesien hoe vuil is die kar wat hier buite staan? Ek was vroeër in Monkey-See Village, waar hulle die raadslid nul uit vyf gegee het. Hulle sê hul raadslid wil net spoke opjaag met al die Ghostbusters movies wat hy kyk, maar verder beteken hy niks vir hulle nie. Hulle sê hulle soek nie meer vir Johnny Baksteenhuis nie, maar hulle ken ook nie vir antie Koekie nie.”

“Haai, skaam die mense hulle nie om so te lieg nie?” sê antie Koekie diep gegrief. “Ek gaan deel dan gereeld sop daar uit saam met die kerkmense en gaan gee ook ander donasies.

Hulle sing dan altyd: “Ha’ naam’s an Koekie, an Koekie mêrie lekke loepie, hou nie van ha’ soup’ie, van dissie wat ôs soekie...”

Sy sing dit met daai stem van haar wat haar nog al die jare uit die kerkkoor hou.

“Ek en Usain praat juis voordat jy hier gekom het van die vergadering wat ons daar gaan hou. Daar moet straatligte kom, want die gangsters rob die mense in die donker. Die kinders het nie ’n speelpark nie. Een waterkraan en ’n puttoilet is nie geskik nie.

“Hoe kan daar ná 30 jaar nog van mense verwag word om elke keer as hulle na die toilet gaan, in laas week se uitgewerkte goed vas te kyk?”

Usain gaap sy ouma verbaas aan. Vir iemand wat nou bietjie-dag die politieke arena betree het, vind sy gou haar voete in die realm van leuens, dink hy verwonderd.

Maar net toe hy dink die onderhoud is klaar, los Sanele Mbakwe ’n bom.

“Antie Koekie, is dit waar dat u mense aanraai om nie maskers te dra teen die corona-virus nie? Dat u sê die virus is ’n hoax?”

Usain sien hoe sy ouma begin sweet en besef hier is sommer ’n hele paar koeëls deur die kerk...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters