12 dae gelede
Die hof wil wel Will E. Hoorie se storie hoor
 ~ 

SONLANDERS! Die Lente is hier! Dis ’n nuwe seisoen en ook tyd vir ’n splinternuwe verhaal. Hierdie week skop ons af met ELDRIDGE JASON se nuwe verhaal, “Die Verhoor van Will E. Hoorie”. Geniet die eerste hoofstuk!

‘STILTE in die hof!”

Die bonkige, bleskop-hofordonnans se stem weergalm deur die klein hofsaaltjie.

Antie Magrieta Willemse skrik so groot dat sy amper verstik aan die bubblegum waaraan sy oomblikke tevore so lustig en valstandeloos agter haar gesigsmasker gekou het. Haar hand reik verskrik na haar boesem.

“Maar moet die klong my dan so ’n stroke wil laat kry?” sê sy kliphard. Die hofordonnans gluur streng in haar rigting.

“Sjuut, Ma,” fluister haar dogter Maggie benoud. “Wil Ma dan nou hê hulle moet ons uitsit nog voordat die hofsaak begin het?”

“Uitsit? Uitsit?” vra antie Magrieta skerp. En kliphard, hoe dan anders? “Dis nie net vir kom uitsit nie. Daar moet respek wees vir ’n vrou van jare soos ek. Vandag se jong kinders wil mos–”

“Almal staan op!” bulder die hofordonnans weer. Die landdros verskyn in die deur. Antie Magrieta beur swaar orent.

“Julle mag sit,” sê die hofordonnans in sy donderende stem toe die landdros sy sit gekry het. Antie Magrietjie gaan ook met ’n groot gekreun sit.

“Hoekom moet ons opstaan vir hom? Is hy dan ook nie maar ’n mens soos ek en jy nie?” vra die ouvrou weer aan haar dogter. Weens haar halfdoofgeit besef sy nie dat haar woorde klokhelder tot by die landdros getravel het nie. Dié loer in antie Magrietjie se rigting.

“Sien Ma nou?” fluister Maggie. “Dis Ma se eerste keer in ’n hof en soos wat dinge nou lyk, lyk dit asof dit sommer Ma se laaste keer ook gaan wees.”

“Dis julle kinders se skuld dat ek op my oudag hier moet sit,” braak antie Magrieta gal.

“Ek het julle nie só groot gemaak nie. Kyk nou vir Will. Ek sê mos dis omdat daai sleggat pa van julle my met daai van van hom gelos het.

“Oe, ek is diep spyt dat ek die dag my bene vir hom oopge–”

“Mevrou!” bulder die landdros. “Die hof is in sessie en hierdie is nie ’n skinderfabriek nie.

“Ek kan nie sien hoe hierdie hof enigsins belang hoef te stel in u oop of toe bene nie. Met alle respek gesê.”

Antie Magrietjie wil-wil iets sê, maar Maggie pomp haar ’n ligte houtjie in die ribbes.

Sy gee haar dogter ’n ou, klassieke dog skerp pangakyk. Maar wonder bo wonder sê sy niks verder nie. In in haar mind maak antie Magrieta egter ’n mental note sodat sy hierdie oomblik nie gaan vergeet wanneer Maggie weer as sy AllPay kry ’n pakkie entjies se geld wil kom loaf nie.

Of kimbies of melkgeld vir haar kinders kom soek nie. Of kraggeld nie...

Die landdros knik in die rigting van die staatsaanklaer, wat vinnig uit sy stoel vlieg.

“Edelagbare, ons is gereed om met die borgtogaansoek voort te gaan van die verdagte, Will E. Hoorie, saaknommer 112 van September 2021.

“Twee klagte van verkragting en een van die besit van tik. Die saak dien voor landdros QN Uys, met adv. VJ Knowles van die regshulpraad wat vir die beskuldigde verskyn.”

“Verkragting my gat. Tik my gat. Julle is almal van lotjie getik, ja.”

Die woorde is uit voordat antie Magrietjie haar kan keer.

Dis eensklaps so stil lat jy drie, vier spelde kan hoor musiek maak in die vertrek.

Die landdros se mond vertrek tot ’n dun streep. As Lady Justice ook nou in die vertrek was, sou sy sekerlik vir antie Magrieta te lyf gegaan het– en natuurlik daarvoor stelling in die beskuldigdebank moes inneem.

Die staatsaanklaer, ’n jong, tenger mannetjie met ’n swart dikraambril, staan met sy mond vol tande en loer half hulpeloos in die landdros se rigting.

“Gaan voort,” blaf die landdros kortaf.

Die staatsaanklaer knik in die rigting van die hofordonnans, wat dan tot by ’n stel trappe agter die beskuldigdebank loop.

“Will E. Hoorie! Will E. Hoorie!” gil hy dan na onder.

Daar is doodse stilte in die hofsaal. Dan word die geklingel van kettings gehoor.

Eers sien antie Magrieta en Maggie net ’n kop uitsteek, dan kom Will stadig te voorskyn.

Hy draai na die hofgalery en daar is verligting in sy oë toe hy sy ma en suster gewaar.

“Kyk hoe maer is hy,” prewel antie Magrieta en pink ’n traan weg. “Wat gee hulle dan vir die kinders in die tronk om te eet? Fi’bob-tjips?”

Will E. Hoorie maak met sy duim en eerste twee vingers ’n rook-sign.

“Waar moet ek rookgoed kry?” gil antie Magrieta. “Kyk hoe lyk jy al van die rook! Is van allerhande goed rook dat jy vandag hier in kettings staan. Nee, wag.”

Die landdros laat sak sy kop. As al die hofgangers se oë nie op antie Magrieta en haar uitbarsting gefokus was nie, sou hulle opgemerk het dat die landdros met groot moeite sukkel om nie uit te bars van die lag nie.

“Kom, kom, boeta,” sê die hofordonnans en kry Will E. Hoorie aan die arm beet.

“Hierdie is nie ’n entjiefabriek nie. Maak dat jy in die beskuldigdebank kom. En gaan staan daar by die mic sodat jy daarin kan praat.”

Will E. Hoorie hou met moeite by met die hofordonnans se vinnige gestap, want die voetboeie hou hom ook terug.

Onseremonieel word hy die beskuldigdebank ingelei en val amper toe die hofordonnans, sers. Wilfred Kapilfred, hom tot by die mikrofoon stoot.

“Will E. Hoorie,” sê landdros QN Uys en maak hard sy keel skoon. “Hierdie is jou tweede verskyning en jy is voorheen ingelig oor die klagte teen jou.

“Soos by jou vorige verskyning genoem is hierdie klagte van ’n ernstige aard. Jy het by monde van jou regsverteenwoordiger aangedui dat jy onskuldig op al die aanklagte gaan pleit. Is dit steeds die geval?”

Will E. Hoorie knik.

“Jy sal moet ja of nee antwoord,” maan landdros QN Uys hom. “Hierdie hof werk nie met kopknikke nie.”

“Ja... um... Your Honesty,” praat Will E. Hoorie in die mic in asof hy ’n number wil druk.

“Reg dan,” antwoord landdros QN Uys. “Ek gaan dan oorgee aan die staatsaanklaer om met die borgtogaansoek-verrigtinge te begin. Jy mag maar sit.”

Die staatsaanklaer, Dicky Lake, vlieg weer op toe die landdros in sy rigting knik. Hy trek ’n dik lêer van ’n klagstaat nader – een wat te kenne wil gee dat Will E. Hoorie sommer ál die sondes van die lewe gepleeg het.

“Edelagbare, die eerste getuie wat ek gaan roep, is kapt. Suzie Mapimpi.”

“Wat!?” gil antie Magrieta uit die bloute. “Dáái t**f?”

  • Lees more verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters