13 dae gelede
Die groep gieriges se tyd loop op die ergste manier uit
 ~ 

DIÉ week se lekker storie kom uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem haar verhaal “Vloek”. Geniet nou die slothoofstuk.

DICK Smit maak hom reg vir die bed. Hy is bang. Bang vir die nag en sy drogbeelde.

Dit is al verby sy slaaptyd, maar steeds ontwyk die slaap hom. Hy voel lewensmoeg. Hy gaan lê met klere en al op die bed. Sy gedagtes is ’n warboel.

Hy dink hy is klaar met Peet Venter. Wanneer hy terug is in die Kaap, gaan hy dadelik bedank. Peet weet dit nie, maar oor die jare het hy genoeg geld na ’n geheime rekening oorgeplaas om die res van sy lewe gemaklik te lewe.

Dis asof hy geweet het sy en Peet se paaie gaan eendag skei. Hy weet daai dag het nou aangebreek.

Dick ruk van die skrik. Hy moes ingesluimer het.

Hy spits sy ore. Vanaand is dit donkermaan. Hy kan niks in die vertrek sien nie, maar hy kan aanvoel hy is nie alleen nie.

Sy hart begin verwoed klop, maar hy roer nie.

Hy probeer uitpluis wat dit is wat hier saam met hom is en waar dit is. Hy kan swaar asemhaling nou duidelik hoor. Hy voel hoe die hare oor sy hele lyf regop staan.

Dan, skielik, is dit bo-op hom. Die ding is swaar op sy borskas. Dit druk hom vas.

Die gloeiende oë staar woedend in syne en kwyl drup op sy gesig.

Die stink asem blaas Dick tot beweging.

Hy probeer verbete die ding van hom afkry. Dit begin hap na sy nek. Hy stoei en gryp die kussing raak. Hou dit voor sy gesig terwyl hy hom onder die pote begin uitwurm.

Die gladde duvet help sy beweging aan en hy val op die grond.

Hy kruip na die deur terwyl die dier na hom hap. Hy hoor sy klere skeur, maar hy voel nie die pyn toe die sterk kake repe vleis uit sy bene skeur nie.

Hy moet by die deur kom. Dis net genade wat maak dat hy die deur oopgesluit kry.

Hy het dit juis gesluit om hom veilig te hou en nou val die dier hom van binne af aan. Hóé weet hy nie. En hy kan nie nou logies dink nie. Hy wil net buite kom. Weg van die monster.

Hy besef eers sy fout toe hy op die gras neerval. Die wildehonde vorm ’n kring rondom hom. Dick Smit se doodskreet gaan verlore toe hulle op hul aas toesak.

LUKE Venter verbeel hom hy het iets gehoor. Hy staan op en stap na die venster. Hy kan weer nie slaap nie en verlang na sy bed in die Kaap.

Sodra Mieta môre haar laaste asem uitblaas, skud hy dié plek se stof finaal van sy voete af. Sy pa kan maar mal genoeg wees om hom hier te kom begrawe.

Luke merk ’n beweging in die veld oorkant hom, maar dis te donker om te sien. Moontlik weer daardie troppie honde van gisteraand?

Hy sug en trek die gordyn toe. Hy weet nie hoe hy vanaand geslaap gaan kry nie, maar hy sal moet probeer. Môre gaan ’n lang dag wees en hy het sy krag nodig vir die groot taak wat voorlê.

Luke gaan lê op die bed en maak sy oë toe. Hy verbeel hom hy hoor iemand skree, maar hy ignoreer dit. Hy probeer slaap.

Skielik bevind hy hom in ’n koue wit vertrek. Hy is weer nege. Sy pa hou sy hand vas en ’n verpleegster sit elektrodes langs sy slape.

Die dokter staan links van hom en sê hy moenie bang wees nie. Hulle gaan hom help om al die slegte goed te vergeet.

Hy wil vra watter slegte goed, maar sy pa wys hy moet stilbly. Sy pa glimlag vir hom en hy glimlag bang terug.

Dan begin die skokke. Dit ruk met soveel krag deur sy klein lyfie dat hy snaarstyf trek en sy liggaam met ’n boog regop skiet.

Gelukkig is sy hande en voete stewig aan die bed vasgeanker.

Die pyn in sy kop is ondraaglik, maar hy kan nie skree verby die skerm in sy mond nie.

Dit voel soos ure voordat die marteling ophou en sy lyf moeg en slap op die bed bly lê.

Luke skrik natgesweet wakker. Hy hou sy kop tussen sy hande vas. Dit voel of sy brein wil oopbars.

Hy besef hy het gedroom, maar hy weet opeens met ’n helder wete: Dit hét gebeur!

Wat het sy pa met hom gedoen? Hoekom moes hulle goed uit sy brein wis? Dít is hoekom hy so ’n vrees het om deur elektrisiteit geskok te word. Hy gryp na sy selfoon. Dis morsdood.

Verdomp! Hy het vergeet om dit op charge te sit. Hy druk die charger in die kragprop en tik op sy pa se nommer. Hy weet dit is laat, maar hy soek nou dadelik antwoorde.

Luke lig die foon na sy oor. Die elektriese lading is so hoog, dit ruk hom van die bed af.

Sy kop kap met ’n harde slag teen die rand van die bedkas en die impak kloof sy slaap oop. Sy liggaam val rukkend op die mat neer.

Sy brein is meteens helder. Hy sien hoe sy pa die pille in sy ma se keel afdwing.

Hy wil sy pa keer, sy ma probeer help, maar hy kan nie.

Hy staan net daar en toekyk hoe sy ma se lyf saamtrek.

Haar hand is smekend na hom uitgesteek totdat haar oë glasig word. Glasig soos syne, wat nou blind die donker instaar.PEET Venter hoor deur ’n waas sy selfoon lui. Hy kyk vlugtig daarna voordat Lea dit uit sy hande neem. Dis Luke, sien hy, en glimlag. As sy seun net moet weet hoe gelukkig sy pa op die oomblik is.

Hy glimlag vir Lea, en verstar. Dis dan Doreen wat langs hom sit!

Doreen, sy tweede vrou, wat so baie gedrink het. Ag, hy self het vandag een te veel in. Wie is hy om Doreen te oordeel?

Hy weet nie hoe hy in sy kar gekom het of wat hy presies die laaste paar ure gedoen het nie.

Hy weet net hy was saam met Lea en hulle het gedrink, gedobbel en dwelms gebruik.

Alles wat hy verafsku – maar in almal se lewe kom daar ’n tyd van verandering.

Nou is hy saam met Doreen en ook dit voel vir hom reg. Hy draai na haar en glimlag.

Dis Elna, sy eerste vrou, wat nou smalend na hom kyk. Hy skrik en verloor beheer oor die kar.

Hy hoor ’n slag en probeer die stuurwiel terugruk, maar dis te laat. Sy kar bars deur die reling en stort oor die krans by Gordonsbaai.

JOHN Douries kyk oudergewoonte op sy horlosie voordat hy opstaan. Hy sluip stilletjies gangaf en maak die deur saggies oop.

Dina is verbaas toe die hand aan haar heup raak. Sy draai na hom en verwelkom hom met ope arms... en dye.

John kyk na Dina, wat vanaand op ’n druppel water na Sara lyk en verlustig hom aan sy wettige vrou se oorgewig liggaam. Hulle maak liefde soos op hul huweliksnag.

In haar kamer pak Sara die laaste van haar goedjies in. Die tyd het aangebreek dat sy haar ouma Mieta Booi gaan groet. Dis tog die rede dat sy hier is.

Die kloof en berge hier duskant Springbokkloof is mos darem haar erfnis en geboortegrond. Dis tyd dat sy besitreg neem.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters