Verlede maand
Die gesinnetjie se road trip vat ’n slegte draai
 ~ 

DIS weer tyd vir ESMÉ CUPIDO se “Joyride met Ma se As”. Geniet nou hoofstuk 3 van dié verhaal.

OUBOET stop halfpad na Vredespoort in ’n klein dorpie om petrol in te tap. Behalwe vir ’n handvol mense en ’n paar skroppende hoenders is die stofstraat doodstil. Edna het haar nie verwerdig om uit te klim nie, maar Amanda rek bene om toilet toe te gaan.

In die badkamer sit ’n vrou op ’n drom, besig om iets uit ’n koerant op haar selfoon in te tik. Langs haar staan ’n emmer water en ’n mop. Sy skrik effens toe Amanda inkom en spring regop.

“Toemaar, ek wil net die toilet gebruik,” glimlag Amanda gerusstellend.

“Nee, dissie dit nie. Ons het lanklaas mense hier gehad.”

Sy druk die foon in haar roksak en gooi die koerant in die drom. “Alles is spic andspan, Mevrou.”

Toe Amanda later in die kafeetjie ingaan om koeldranke te koop, staan dieselfde vrou agter die toonbank.

“So, jy maak skoon én jy help hier in die winkeltjie?”

“Ja, en partykeer as Anneries nie kom werk nie, gooi ek petrol ook in.”

Sy pak die koeldrank in ’n plastieksak en stoot dit oor na Amanda.

“Sjoe, jy’s omtrent handig. Werk jy hier oorkant by die slaghuis ook?” maak Amanda ’n grappie.

“Hoe’t Mevrou geweet? Ek maak die beste wors hier in die dorp.”

Sy tel sorgvuldig die kleingeld in haar hand, ruk die strokie uit die masjien en oorhandig dit saam met die kleingeld aan Amanda.

“En ek moet namiddag gaan help om ’n graf ook te grawe. Oorle Karel se mense wil hom eintlik veras het, maar toe sê ek dit voel nie reg nie. Sien Mevrou?”

“Ons ry ook juis om my ma se as daar by die see te gaan strooi,” sê Amanda terwyl sy aanstaltes maak om te loop.

Die vrou gaap haar verbaas aan. “En hoe gaan Mevrou se ma dan opgestaan kom eendag?”

“Wat bedoel jy?”

“Oordeelsdag, Mevrou. As alle stukkies die hele wêreld vol waai en die see hom wegvat?”

Amanda sien deur die venster almal is terug in die kombi.

“Ons sal maar moet sien. Lekker grawe vanmiddag.”

Met ’n handwaai is Amanda uit.

Hulle kom net ná 17:00 in Vredespoort aan. Ouboet ry reguit na die Railway Hotel, ’n netjiese gerestoureerde gebou uit die vervloë era. Hulle het twee kamers bespreek.

Edna kan nie wag om uit die warm sweetpak te kom nie, want dis aansienlik warmer as gister. Toe alle tasse buite is en Ouboet die kombi wil sluit, beduie Amanda na iets binne-in.

“Ma se as.”

“Gaan ons dit hier los? Dis tog veilig hier.” Ouboet kyk op en af in die straat.

Edna haal haar skouers argeloos op en stap die trappies op na die ingang.

“Oukei, ons kan dit seker hier los,” antwoord Mario, nie heeltemal seker nie.

Die warm sweetpakke laat hulle gou besluit om Ma tog agter te laat.

Ná ’n lekker stort en aandete, sit hulle op die hotel se stoep.

“Dis heerlik. Hierdie verposing in die middel van die alewige gejaag na geld, is … hemels.” Ouboet sit behaaglik agteroor in sy stoel.

“Moenie verspot wees nie! Ek sou veel eerder by my huis wou wees.”

“Natuurlik, Edna. Jy weet mos dat jou man op hierdie oomblik by sy ander vriendin kuier,” sê Ouboet smalend.

“Wat insinueer jy? Selwin en Katie is vriende. Sy het deur ’n moeilike tyd gegaan en hy ondersteun haar. Wat doen jóú vrou terwyl jy hier sit en wyn suip? Lê in die winkels tot toemaaktyd om nóg klere te koop?

“Kom nou, julle. Geniet in hemelsnaam tog net die rustigheid van die dorp,” sê Mario geïrriteerd.

Amanda sit skielik regop. “Hoor julle die alarm wat afgaan?”

“Dis seker een of ander kar in die straat se alarm,” sê Ouboet terwyl hy ’n teugie van sy wyn neem.

“Daar wás nie ander karre in die straat geparkeer nie. Ouboet, jy moet gaan kyk.”

Ouboet staan lusteloos op en verdwyn na binne. Edna staan ook op, haal haar selfoon uit haar handsak en loop ’n entjie van hul tafel af weg.

“Is jy oukei, Manda? Het jy nog nie weer van Noah gehoor nie?”

Amanda sug saggies. “Nee. Hy beantwoord ook nie my oproepe nie. Ek–”

“Kom gou! Kom kyk! Hulle het by die kombi ingebreek!” Ouboet is spierwit in die gesig. Hy draai weer om en hardloop na binne.

Edna hou die foon ’n entjie weg van haar oor en frons. “Wat sê hy?”

“Kom! Daar’s blykbaar by die kombi ingebreek.”

Toe hulle hul by Ouboet en ’n kring nuuskieriges aansluit, sien hulle die ruit aan die bestuurderskant is flenters en een van die deure staan wawyd oop.

Die bestuurder van die hotel kom ook uit en klik sy tong.

“Ons het las van ’n spul kwaaddoeners hier in die dorp. Die polisie kry hulle net nie in die hande nie.”

Hy beduie na ’n maer mannetjie wat eenkant staan. “Banie, sê Elrise moet die polisie bel.”

Dis sterk skemer, maar die groepie nuuskieriges staan vas.

“Gelukkig was hier niks van waarde in die kombi wat hulle kon steel nie,” sê Ouboet, effens verlig.

“Ma se as!” sê Amanda en tree vinnig nader om deur die agterruit te loer. Dis egter te donker om enigiets te sien.

Mario klouter haastig in die kombi in, skakel die kajuitliggie aan en tel die kombers op. Hy buk om onder die sitplekke te voel.

“Dis weg! Ma se as is weg!” roep hy verslae uit.

Een van die mense in die kring vra nuuskierig vir ’n ander: “Soek hulle die ma se das of jas? Ek kannie lekker hoorie ...”

“Vir my klink dit soos “tas”. Miskien is jongens weg met die ma se tas klere. Dís nou vir jou ’n ding.”

“Nee,” sê ’n ander een. “Is julle onnooslik. Hulle soek die ma se as.”

Toe die polisiemotor uiteindelik voor die hotel stilhou, is die groepie nuuskieriges driekwart minder.

Nadat Ouboet verslag gedoen het en die beampte met sy flitslig geloer en gekyk het, skud hy sy kop.

“Menere, ons sal ’n paar rondtes ry, maar ons sal eers in heller daglig verder kan soek. Hoe sê Meneer dis net ás wat weg is.”

“ ’n Kissie met ons ma se as, ja.”

“Righto.” Die sersant stap na die polisiemotor en praat oor die radio.

“Een kissie met as vermis. Ry ’n paar draaie en rapporteer terug, Wessie.”

Hy luister ’n oomblik. “Nee, wie ry met daai soort as in ’n kissie? Dis die ma of pa se as. Oor en uit.”

Die sersant groet en ry weg.

Amanda se skouers ruk en trane stroom warm oor haar wange. “Ma is gesteel! Gaan ons haar ooit in die hande kry?!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters