Verlede maand
Die gesin moet ’n onverwagse U-draai maak
 ~ 

DIE nuwe week het afgeskop met Esmé Cupido se “Joyride met Ma se As”. Geniet nou hoofstuk 2 van dié verhaal.

DIS ’n bedremmelde groepie wat die volgende oggend in die kerkie bymekaarkom. Die vorige dag se warm sonskynweer het oornag triestig geword en almal verras.

Edna sit bibberend in haar swart somerrokkie terwyl haar man die kerkie verveeld deur sy sonbril bespied.

Amanda wou een van Ma se baadjies uit haar kas haal, maar kon dit nie oor haar hart kry om by Ma se kamer in te gaan nie.

Ouboet het toe darem ’n kerriegeel trui vir haar aangebied en dit het sy bo-oor haar wit bloesie aan.

Oom Joseph, ’n ouderling van die kerk, lei die kort diens. Hy het seker gemaak dat net die naaste groep mense wat hul ma geken het, die diens bywoon.

Amanda kyk na die kissie met haar ma se as op die vierkantige tafeltjie voor in die kerk. Sy kan nie glo dat alles so gou afgehandel is nie.

Haar blik verskuif na die goue raam met ’n foto van haar ma. Wie hierdie foto gekies het, weet nugter. Ma staar boos na die kamera, asof sy iemand wil vermoor.

Ná die diens, terwyl die broers en susters nog weifel of hulle Ma daar moet los of saamvat, kom ’n antie na hulle aangestap. Haar kleredrag is amper te vrolik vir die geleentheid – ’n uitspattige mengelmoes van rooi en pienk en geel.

“En daar is Helen nou dood!” sê sy asof dit iets goeds is.

Sy sien die vraende uitdrukkings en gaan voort. “O, ja. Julle ken my nie. Ek is Tina April. Jul ma het my alles van julle vertel. Ek en sy het vriendinne geraak toe sy my uit daai man se kloue gered het. Ook net betyds, want nou sit sy tweede vrou met hom opgeskeep, koolkop ná vier beroertes.”

Die vrou klad met ’n sakdoek die sweet op haar gesig. “Soos ek sê …”

“Aangename kennis, Antie,” probeer Mario die vrou se geselserigheid kortknip.

Edna tel haar swart handsakkie op en stap na haar man, wat ongeduldig by die deur wag. Amanda knik ook net in die vrou se rigting en stap na die kissie met haar ma se as. Agter haar hoor sy die vrou in ’n hoë stem voortborduur oor haar en hul ma se vriendskap.

Sy kyk na haar ma se woedende uitdrukking in die foto, en warm vogtigheid dam in haar oë op.

Haar ma was streng en reguit, hard en soms onbeskof, maar haar sagtheid het sy diep binne versteek. Sy voel ’n hand op haar skouer.

“Sy was enig in haar soort. Kom ons gaan huis toe,” sê Ouboet sag.

Hy tel die kissie op en haak by Amanda in. Mario sluit ook by hulle aan, neem die blomme en die foto.

Buite het die reën opgehou, maar ’n mistigheid hang in die lug. Amanda se mooi krulhare van vroeër die oggend het in ’n groot afro verander en die geel trui hang nou amper tot op haar knieë.

Sy klim by Ouboet en sy vrou in hul kombi, terwyl Mario nog met oom Joseph op die kerkie se stoep staan en gesels.

Ouboet gee Ma se as vir sy vrou aan, wat dit gou aanskuif na Amanda skuins agter haar.

By die huis is alles rustig, want oom Joseph het dit duidelik gemaak geen tee sal bedien word nie. Een van Ma se orders. Toe Mario ook later kom, sit hulle almal koulik in die sitkamertjie. Edna se man sou later die namiddag weer stad toe vertrek en sommer Ouboet se vrou saamneem en by hul huis aflaai.

Mario en Ouboet ry later na ’n garage sodat die kombi net die broodnodigste diens kan kry.

Later, toe Amanda en Edna elk met ’n beker warm koffie sit, is daar ’n klop aan die deur.

Ma se buurvrou ouma Kosie kom sukkelend die sitkamer ingestap met ’n bossie laventel in haar hand.

“Naand, julle. Ek verstaan van Joseph dat julle môre met Helen se as ry om dit daar in die see te gaan gooi.”

Die vroue groet en Amanda staan op om nog koffie te maak.

Ouma Kosie haal ’n opgefrommelde sakdoek uit haar bors en vee oor haar oë.

“Ek het hier ’n bossie lavender gebring. Vat dit maar saam, van my af. Gooi dit ook saam. Jul ma was lief vir lavender. Bosse daarvan geplant hier voor by die stoep.

“Toe steek die bye haar mos, hele swerm het op haar toegesak toe sy die bosse op ’n dag snoei. ’n Wrede spulletjie, die bye.”

“Ja, ek onthou. Ma het toe die lavender laat uithaal en toe stinkafrikaners daar geplant,” sê Amanda toe sy inkom met die koffie.

Ouma Kosie klik spytig haar tong.

“En dié het toe allerhande peste en plae na die tuin gelok.”

Sy gooi ’n bietjie van die warm koffie in haar piering en slurp dit op. Toe vang haar oog die kissie met die as.

“Is dit die …?” verder kom sy nie, want die koppie kantel in haar hand en die warm koffie val netjies in haar skoot.

Voor Amanda en Edna kon help, is ouma Kosie met haar nat plooiskirt vinnig by die deur uit en met ’n laaste vlugtende omkyk by die hek uit.

Almal gaan kruip die aand vroeg in, want Ouboet het uitgewerk as hulle vyfuur in die pad val, kan hulle die middag vieruur op Vredespoort aankom, hul eerste stop op die roete wat hul ma uitgewerk het.

Die Vrydagoggend is almal warm in sweetpakke uitgevat vir die langerige rit na Vredespoort.

Edna lyk stylvol soos altyd en Amanda het Ouboet se geel trui om haar lyf geknoop, vir ingeval.

Net 7 km buitekant die dorp kom Ouboet met ’n ruk langs die pad tot stilstand.

“Ma se as”, sê hy terwyl hy ’n U-draai maak.

Edna klik haar tong.

“Wat Ma besiel het om hierdie verspotte rit te forseer, weet ek nie. Hoekom kon ons nie haar as be­grawe het of … of in die dorpsdam gaan gooi het nie. Water is water.”

“Jy weet tog Ma het altyd gesê die dam stink. Die bergies gebruik die dam as drinkplek, wasplek en toilet,” sê Mario.

Ouboet hou voor die donker huis stil. Mario klim uit om die kissie te gaan kry. Ná ’n kort rukkie is hy terug.

“Weet enige iemand waar die kissie is? Ek het dit gister op daai ronde tafeltjie neergesit,” sê Mario.

“Kyk in Ma se kamer. Op die vloer by die deur. Ek … wou nie dieper die kamer ingaan nie en toe sit ek dit sommer daar neer. En ek was bang iemand stamp dit om as dit op daai ronde tafeltjie staan,” antwoord Amanda met ’n skuldige uitdrukking op haar gesig.

Mario verdwyn weer in die huis en kom met die kissie en ’n kombersie uit.

Die kissie word sorgvuldig in die kombersie toegedraai en op die heel agterste sitplek neergesit.

“Right, nou is ons weer op pad. Mario, ek het ’n CD van Frank Sinatra hier in my cubby-hole. Dit was mos Ma se favourite.”

Ná ’n ruk vul Sinatra se “My Way” die kombi. Goue strale kruip stadig oor die randjies en almal sit met hul eie gedagtes.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters