Verlede maand
Die evangelis kry Oros eenkant en maak ’n aanbod
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Mary Borchards sê vir Oros haar skraps geklede dansery was deel van ’n toets. Die belangrikste deel is egter die toets of hulle hom wat Oros is, kan vertrou. Oros kry die idee dat hy gevra gaan word om van Mary se man ontslae te raak. Maar toe hy die meeting verlaat, konfronteer evangelis Jenneker hom en smeek hom om nie die grootste fout van sy lewe te maak nie. Geniet nou hoofstuk 8 van ELDRIDGE JASON se verhaal “O. Phillip­”.

VOORDAT Oros iets kan sê, kry evangelis Jenneker hom aan die arm beet en trek hom in ’n ander vertrek in.

Oros wonder vir ’n oomblik paniekerig of die evangelis ook ’n strip show vir hom op die menu het. Sy vrese word darem egter gou besweer.

Toe hy in die kamertjie om hom kyk, sien hy die groot TV-skerms teen die muur. Veral die een wat die vertrek wys waar Mary Borchards hom minute gelede probeer verlei het.

’n Lig gaan by Oros op en hy besef die evangelis het hulle die hele tyd dopgehou. Hy draai hom na die godsman.

“Perv of security?”

Evangelis Jenneker gaap hom verbaas aan, draai dan na die skerm en besef waarop Oros sinspeel.

“O, nee,” gooi hy wal. “Dis nie wat jy dink nie. Ek ... ek is nie ’n afloerder nie. Daai gees is nie in my nie.”

“Nou watse gees is dan in jou, liewe evangelis?” vra Oros. Sy stem drup van sarkasme.

“Want as jy nie ’n kick daaruit kry om jul moeder van die huis in daai fishnet stockings te sien ronddans nie, dan wat is jy besig om hier te doen?”

Evangelis Jenneker trippel ongemaklik rond.

“Broer ... ek weet nie mooi hoe om dit te verduidelik nie, maar ja, ek het alles gehoor en wil jou eintlik net waarsku.

“Pa Richard het ons al maande gelede probeer waarsku dat sy vrou nie meer uh ... nie meer so lekker in haar kop is nie.

“Tot my skaamte moet ek bieg dat ek hom nie aanvanklik geglo het nie. Toe kom Ma Mary met ’n visioen van hoe sy gedroom het hoe Pa Richard die kerk verraai en onder ons uitverkoop.”

Die evangelis stop en haal eers weer diep asem.

“Lang storie kort, ek het hierdie kamer opgestel omdat ek nie meer so seker was van dinge nie. Veral nie nadat ons Pa Richard moes ontvoer ...”

Hy bly eers weer stil. “Hierdie bly tussen ons, nè?”

Oros gluur hom net aan.

“Ma Mary was die laaste mens wat haar man gesien het nadat ons hom voor daai onheilige kroeg opgelaai het.”

Oros kan nie anders as om ’n bietjie snaaks te kry nie. Kry ’n mens dan ’n heilige kroeg? Een waar daar ná ’n paar doppe net heilige dinge plaasvind?

“Ek het intussen uitgevind Ma Mary is die een wat die kerk gaan verkoop en dat haar man in die pad gestaan het. Daarom moes sy hom uit die pad kry, sien.

“Nou ... as jy my help om hom op te spoor ... ek het met die ander kerkraadslede gepraat. Ons is bereid om jou R100 000 vir jou dienste te betaal.”

Oros frons. “Ek is dan net ’n arme ou met huweliksprobleme. Hoe kan ek–”

“Asseblief,” val die evangelis hom in die rede, “laat ons nie langer mekaar se tyd mors nie. Nie ek of my medebroers is onder ’n kalkoen uitgebroei nie.

“Ek het die background check gedoen, onthou?

“Nog Bill van Gatesville? Hoe dom dink jy is ek?”

Oros sug. Wat anders het hy dan ook nou expect? Leuens het immers vervaldatums.

“R100 000 sê jy?”

Evangelis Jenneker knik. “Die geld is gereed en sal nie ’n probleem wees nie. Maar tyd is teen jou, want Ma Mary beplan om die kerk binne die volgende 24 uur te verkoop.”

“Maar is dit so erg om die kerk te verkoop?” vra Oros. “Is dit dan nie ’n way om sommer dan van haar ontslae te wees nie?”

Die evangelis gluur hom aan.

“Weet jy hoeveel sacrifices ons gemaak het vir hierdie geboue?

“Weet jy hoeveel mense het hul pensioen en jaarlikse bonus in hierdie projek gestort? Om nie eens te praat van die eindelose kerrie-en-rys-etes en sangaande wat ons voor Covid moes hou nie.

“Ma Mary gaan R10 miljoen uit die deal score.

“En ons wat selfs tweede verbande op ons huise uitgehaal het, gaan met niks anders sit as die bank wat in ons nek blaas nie.

“Jy het dalk nie geloof nie, meneer O. Phillip. Dis mos nou naam, nè?

“O. Phillip. Oud-speurder. Die man wat religiously drink.”

Oros gee ’n verleë laggie. “Wat kan ek sê? My naam is nie eens ’n chaser werd nie, so ek drink my dop met Coke. Én ys. Met ys, ja.”

Evangelis Jenneker staar hom uitdrukkingloos aan. “Hoe jy oor sonde kan brag, gaan my verstand te bowe.”

“En hoe julle kan val vir ’n vrou wat hou van kaalgat dans, gaan mý verstand te bowe,” kap Oros terug.

“Mense wat in glashuise bly, moenie kaarte try skiet met klippe nie.”

“Oukei, oukei,” sê die evangelis. “Ek kry jou picture en ja, ek is jammer. Ek behoort ook ’n lat vir my eie stert te pluk.

“Maar daar is nie nou tyd vir daai dinge nie. Pa Richard word iewers aangehou totdat die deal deurgaan. Kan jy hom betyds opspoor?”

“Vir R100 000? Nee. Maar vir R200 000 beslis,” antwoord Oros. Hy weet hy vat nou ’n vet kans maar wie nie waag nie, wen nie.

Evangelis Jenneker blaas sy asem hard uit.

“Kry jy nie skaam om gelowiges ’n kop aan te sit nie?”

Oros kan nie anders as om te lag nie. Hý sit húlle ’n kop aan?

“Beggars en bergies kan nie die berge van hul keuses uitklim nie,” antwoord Oros dan.

“Dink jy is slim,” brom evangelis Jenneker en sug dan weer swaar.

“Oukei. Ek dink nie die res van die kerkraad sal ’n probleem daarmee het nie. Maar geen resultate, geen geld nie.

“As hierdie deal van Ma Mary nie gestop kan word nie, het ons nie ’n ooreenkoms nie.”

Oros trek sy skouers op. “Dit werk vir my,” antwoord hy dan non­chalant.

As hy nou in ’n spieël moet kyk, weet hy sommer hy sal net dollar-tekens in sy eie oë sien. Finally sal hy in staat wees om Mandy darem iets ordentliks in haar hand te stop.

“Ek wil hê jy moet my alles vertel wat jy weet van hierdie deal én jul sogenaamde Ma Mary,” sê Oros aan evangelis Jenneker.

“Ek wil alles weet. Álles. Laat geen detail uit nie.”

“Alles soos wat?” vra die evangelis oorbluf.

“Alles,” antwoord Oros kortaf. “Selfs tot op wat jou kamstige Ma Mary se gunsteling-panty is.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters