Verlede maand
Die drie sit af na Ouma se plek om die mert te stuit
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Met behulp van Miemie en broer Andy wil Frokkie die mert-ouma laat les opsê. Broer Andy het reeds die ou wat Frokkie gewerf het, goed gekarnuffel vir info oor hoeveel manskappe Ouma saam met haar het. Maar gaan die drie van hulle genoeg slaankrag hê om Ouma vas te trek en haar vir haar dade te laat boet? Geniet hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON se “Ou Krismis”.

BROER Andy grawe in die Lexus se boot en kom dan vinnig orent.

Hy druk ’n vuurwapen in Frokkie se hand. Frokkie skrik toe hy die koudheid van die vuur­wapen se loop teen sy hand voel.

Broer Andy is so opgewonde soos iemand wat die PowerBall gewen het.

“Die Beretta 92FS is maar nou eenmaal ’n mooi baby,” sê broer Andy en streel liefderik oor die loop.

“Sien jy die knoppie hier langs die kant? Dis vir safety en om te de-cock.

“Jy druk net daai knoppie af... Só. Dan mik jy... Ba-ba-ba!

“Hierdie beauty skiet 17 keer, maar dit beteken nie jy kan vir die fun mis skiet nie.

“Ouma se manskappe oefen gereeld by ’n shooting range naby Durbanville.

“So, as daai ouens jou gaan skiet, gaan hulle skiet om dood te skiet.”

Voordat ’n oorblufte Frokkie iets kan sê, prop broer Andy ook ’n handvol magasyne in sy hand.

“Ek neem aan jy het al previously geskiet?”

Frokkie skud sy kop.

“Lord, have mercy,” sê broer Andy en draai na Miemie.

“Ons kan nie afford om met ’n ou met ronne hanne oorlog toe te gaan nie.

“Hierdie ou gaan so bewe dat jy ons sommer gaan afhaal. Lyk my ek sal moet bid soos nog nooit vantevore nie.”

Miemie giggle. “Die gun is daar vir just in case, broer Andy. Kom ons hoop hy kry dit nie nodig nie. Ek het nou net gedink aan ’n plan en as dit werk, dan sal dit nie nodig wees om een skoot af te vuur nie.

“Maar ons sal slim te werk moet gaan. Luister mooi, julle …”

AS BANG Jan ooit ’n persoon was, dan was dit nou hy, dink Frokkie terwyl hy na Ouma se huis stap.

Vannie Delft, tot die Elsies, vannie Lavis tot innie Belhar is mense nou besig om na Judy Boucher se polse-afbyt-music te luister terwyl hulle afkoel.

En hy? Pleks van met ’n koue bier kaal bolyf sit en afkoel, stap hy nou die duiwel se nes binne.

As Miemie se plan nie werk nie, lê hy op Krismisdag innie morgue en koud kry. Dit help ook nie die Beretta-watsegoeters waaroor broer Andy so aangegaan het, sit soos ’n Judas langs sy sy nie.

Nog nooit in sy lewe het hy al ’n vuurwapen afgevuur nie.

Hy dink nie daai cowboys en kroeks wat hulle kleintyd gespeel het, tel hier nie.

Frokkie loer vinnig rond en sien twee ouens staan en gesels onder ’n boom nie ver van hom nie.

Dis dieselfde twee ouens wat hy vroeër gesien het.

Net toe hy die voorhekkie wil oopstoot, kom die twee vinnig in sy rigting gestap. Die een se hand mik-mik so na sy sy toe. Frokkie besef onmiddellik dat hierdie ou sy wapen wil uithaal.

“Ek het my phone hier iewers by Ouma laat val,” sê hy.

“Ek was net op pad om die pakkie te gaan drop toe ek realise my phone is nie by my nie en julle ouens weet mos hoe verlore ’n man sonder sy phone kan wees.”

Frokkie probeer smile, maar hy voel hoe ’n straal sweet teen sy rug afloop.

Die ouens lyk nie juis vriendelik nie. Om die waarheid te sê, as sales persons sal hulle nie eens bompies in Alaska verkoop kry nie.

“Wat maak djy hiesa?” vra die een. “Is djy nie suppose om–”

“Dankie, Menere, ek sal nou verder die vrae vra.”

Die twee draai verbaas om. Agter hulle staan broer Andy. Met twee pistole in die hand, wat hy sekuur op die mans rig. Agter hom tree Miemie na vore.

“Ouens, as julle Krismis wil sien, stel ek voor julle gee jul samewerking,” sê sy.

“Julle kan sien hoe excited broer Andy lyk. Sê as julle hom ’n rede wil gee om julle vol lood te blaas.”

Die een man vloek kliphard.

“Jy gaan nie hemel toe nie,” sê broer Andy. “Nie met daai bek nie.”

Miemie stap tot by die mans, trek hul jackets eenkant toe en haal hul vuurwapens uit. Dan gooi sy twee pare boeie na Frokkie.

“Maak die goed vas,” gebied sy. “Maak seker hulle kom nie los nie, want ek gaan hulle gou hier om die draai bêre, dan stap jy solank na Ouma toe.”

Frokkie gee met bewende hande gehoor.

“Jy bewe soos ’n girl,” fluister die een ou in sy oor. Voordat Frokkie egter iets kan sê, kry broer Andy die ou aan die oor beet en trek hom onseremonieel op.

“Dit is net ornaments dié wat jy het,” sê broer Andy. “As jy jou ore gebruik en kerk toe gegaan het, was jy nie nou in hierdie predicament nie. Kom! Op!”

Broer Andy stoot die mans vorentoe. Hul panga-kyke deurboor hom, maar hy is min gespin.

Toe Miemie saam met die mans wegstap, draai hy na Frokkie.

“Ek kan jou nou al sê die res van die ouens wat saam met Ouma is, gaan nie so maklik ge-overpower kan word nie. Hierdie battle het nog lank nie begin nie.

“Maak dat jy daar binne by Ouma kom en hou haar so lank moontlik aan die praat. Toe! Waarvoor wag jy? ’n Invite?”

Frokkie maak die hekkie haastig oop en stap die jaart binne.

Ná ’n entjie se stap, merk hy verbaas op dat Ouma steeds met haar breërandhoed op in die tuin besig is. Hy maak keel skoon om haar aandag te trek. Hy sien die verbasing op haar gesig toe sy omdraai en hom herken.

Ouma kom swaar orent. “Nou toe nou, jy is darem haastig vir jou geld, nè?”

“Dis Oukrismis,” antwoord Frokkie in ’n skor stem. “Ek het shopping om te doen.”

Ouma lag en vee haar hande aan haar voorskoot af. Dan kom sy stadig nader gestap.

“Ek neem aan dinge het goed afgeloop?”

Haar oë trek op skrefies soos wat sy hom op en af beloer.

Frokkie trek sy skouers op. “Dit was nogals maklik. Seker die maklikste way om soveel geld te maak.

“Die traffic was ’n bietjie heavy, so ek moes toe met ’n ompad Delft toe ry.

“Volg my,” antwoord Ouma en stap in die rigting van die huis.

Frokkie volg die ou vrou, wat van ouderdom vooroor en krom loop.

Nou hoe kan so ’n vrou dan ’n hele sindikaat bedryf? wonder hy.

Toe hulle by die huis instap, beduie Ouma hy moet met die gang af loop tot in ’n skraps gemeubileerde sitkamer. Frokkie draai om en skrik toe hy die kilheid in Ouma se oë sien.

Sy het nie vir sy liegstorie geval nie, dink hy benoud.

“Dink jy regtig jy kan my met daai liegstorie flous?” vra Ouma. Toe krap sy in haar voorskoot en bring ’n vuurwapen te voorskyn.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters