Verlede maand
Die cops soek nog na die klong wat Lena so bang het
 ~ 

GENIET vandag hoofstuk 3 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep hom “Die Vreemde Klong”.

LENA Karbonkel voel hoe haar hart ’n beat mis toe sy die klein seuntjie hier voor haar reg bekyk.

Sy trek haar asem skerp in en haar mond gaap van skok. ’n Ysige rilling hardloop teen haar rug af.

Hier voor haar staan ’n kind wat wragtig nie van dié wêreld is nie. Die klong het sulke diep, ingesonke oogkasse met donker kringe daarom. Sy donker kraalogies loer uit die dieptes vir haar.

Sy slordige hare hang in slierte oor sy voorkop en tot op sy skouers. Maar dis nie ál wat haar asem wegslaan nie ...

Die klong het nounet daar buite voor haar deur in die gietende reën gestaan, maar hier staan hy nou voor haar, kurkhoringdroog. Daar is nie ’n druppel water op sy klere nie.

En gepraat van klere … Die seuntjie se kleredrag is nie van die hedendaagse tydperk nie. Dit lyk soos klere wat mense in die Bybeltyd gedra het. ’n Soort vaal lendekleed is om die heupe gedraai en hy dra ’n bokleed van kameelhaar.

En aan die voete is verweerde sandale wat beslis nie van hierdie tyd is nie.

Vir ’n wyle staar Lena en die kind na mekaar. Buite gaan Pluto soos ’n mal ding te kere. Hy krap verwoed aan die voordeur.

Lena besef sy het ’n groot fout gemaak om die vreemde, spookagtige kind by haar huis in te nooi.

Toe die klong skielik sy wys­vinger na haar uitsteek, wil sy byna ’n oorval kry.

“Hiert, jou satanskind!” gil sy. Sy retireer verskrik, gryp die voordeur se handvatsel krampagtig vas en pluk die deur oop. Pluto kom staan in die oop voordeur en blaf in die rigting van die klong.

Skielik steek die klong sy vinger na die hond uit en skree iets in ’n vreemde dialek. Die hond draai stomp om en verdwyn al tjankende en stert tussen sy bene na sy hok agter die huis.

Lena mik om ook uit te hardloop, maar die deur klap met ’n harde slag toe. Sy val agteroor.

Grootoog kyk sy van die vloer af na die klong, wat haar roerloos staan en dophou. Sy besef die klong is van bose geeste besete.

“Wat soek jy hier?! Gaan weg, Satan!” sê sy vreesbevange.

“Sh’lam lek! (Hallo) Aloho amich (Mag God met jou wees),” sê hy en maak ’n waai-gebaar.

Lena skud haar kop. “Ha-a, man. Ek verstaan nie vir jou nie. J-jy praat s-snaaks!” stotter sy. “Waar kom jy vandaan, seun?”

Sonder om op haar vraag te reageer, draai die klong skielik om en loop na die een hoek van die voorhuis. Hy gaan sit plat op die vloer en staar met sy donker, yskoue ogies na haar. Tóé weet Lena vanaand gaan die langste aand van haar lewe wees.ADJT. Geswindt en sy spannetjie fynkam in die gietende reën die bosse in Duiwelskloof vir die sogenaamd vermiste seuntjie.

Hy en sers. Parring het die bosse aan die linkerkant van die pad deursoek. Hy’t konst. Oranie en sers. Masinga die bosse aan die regterkant ingestuur.

Sers. Parring lyk later moedeloos oor hulle geen spoor van die vreemde kind kry nie. “Adjudant, ek is al deurnat. Kan ons nie maar met dagbreek verder kom soek hier nie?” soebat hy.

“Oukei, Parring, kom ons soek nog so 10 minute, dan kan ons terugry stasie toe,” sê Geswindt en swaai sy flitslig weer met mening tussen die bome deur.

Skielik hoor hulle ’n geskree in die bosse aan die ander kant van die pad. Hulle skrik hulle yskoud en vries onmiddellik in hul spore.

Parring skuifel tot teenaan Geswindt en gryp sy arm vas. Sy oë is pieringgroot toe hy opkyk in sy bevelvoerder se gesig.

“W-wat w-was nou daai?!” stotter hy beangs.

Geswindt lyk ook verskrik. “D-dit het geklink soos sers. Ma­singa. D-dit klink of hulle in die moeilikheid is,” fluister hy. “E-ek dink ons moet gaan kyk!”

Vinnig beweeg hulle tussen die bome deur. Parring sorg dat hy teenaan Geswindt bly.

“M-moetie onder my uitloop nie, A-adjudant,” fluister hy. Die vrees is hoorbaar in sy stem.

Hulle bereik die teerpad, waar hul voertuie is, en staan ’n oomblik stil. Beide se ore is gespits.

Alles is skielik doodstil. Hulle kom agter dit het opgehou reën.

“Watter snaakse weer is dié?” sê Geswindt.

Albei kyk op. Bokant hulle trek die wolke weg. Die maan is weer sigbaar en plek-plek kan die sterre gesien word.

Weer bepaal die twee polisielede hul aandag by die bosse voor hulle.

Steeds heers ’n doodse stilte.

“E-en nou, A-adjudant? Dink jy daai s-spookklong het hulle gevang?” fluister Parring. Die wit van sy gesperde oë is duidelik sigbaar.

Geswindt kyk Parring ernstig aan. “Moetie vir jou kom snaaks hou nie, Sersant!” sê hy en tuur die bosse in.

Hy probeer iets uitmaak in die ligspikkels wat die maanlig tussen die bome gooi.

Geswind skyn sy sterk flits tussen die bome deur. Hy maak sy een hand bak om sy mond. “Ma­singa! Waar’s julle?!” roep hy. Weer ’n doodse stilte.

“Parring, kom!” beveel Geswindt kortaf en kies ’n rigting tussen die bome deur.

’n Groterige duiker spring skielik agter ’n groot bos uit en laat spaander tussen die bome deur.

“O, Jarraaa!” gil Parring en val op die naat van sy rug.

Geswindt kyk hom woedend aan.

“Kykie, Boeta, jy’s stadigaan besig om op my gat te werk! Staan op van die grond af, jou banggat, en ruk jouself reg! Magtag!”

Parring spring op en skud hom vinnig af. “Sorry, AO!”

Hulle hoor skielik ’n geluid aan hul regterkant.

“Masinga, is dit julle?!” roep Geswindt. Daar is ook nou on­sekerheid in sy stem.

“Ja, Adjudant, kom diékant toe!” skree Masinga van iewers tussen die bome deur.

Geswindt-hulle sien die lig van Masinga-hulle se flitse tussen die bome deur speel soos hulle hul ligging aandui.

“Oukei, ons kom!” skree Geswindt terug en gaan op ’n vinnige drafstappie.

Die onfikse Parring doen sy bes om by te hou, want hy wil nie in die donker bos agtergelaat word nie – veral nie met ’n moontlike spooklaitie in die omtes nie.

Hulle bereik ’n oop kol tussen die bome. Sers. Masinga en konst. Oranie staar na iets voor hulle. Masinga wink hulle woes nader. “Kom kyk hier, Adjudant!” Daar is paniek in sy stem.

Toe Geswindt en Parring by hulle aansluit, rek hul oë ook pieringgroot toe hulle sien waarna hul kollegas so staar.

Geswindt se mond hap oop en toe soos hy na woorde soek. “W-wat de hel!” hyg hy.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters