28 dae gelede
Die bebloede Spokie gee sy ma skokkende nuus
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Hettie het gister vir Oumeester Connie Claassen in detail vertel van die liederlike dinge wat met haar gebeur het, insluitend ’n ver­nederende verkragting.

Geniet nou hoofstuk 4 van CEDRIC AFRIKA se “Met Liefde Vir Mamma”.

SPOKIE van der Ross was inderdaad nooit weer dieselfde nie.

Die eens voorbeeldige leerder en sy juffrou se witbroodjie het oornag verander ... in ’n skoolboelie. Hettie moes gereeld met ’n skaam gesig saam met hom in die hoof se kantoor gaan staan.

Klagtes oor aanranding en roof op die skoolterrein wanneer hy sy vreesbevange medeleerders van hul brood of snoepiegeld besteel het, was skielik aan die orde van die dag.

Die raadop skoolhoof, mnr. Norkee, het uiteindelik g’n ander keuse gehad as om die toe gewelddadige Spokie te skors nie.

Dit was nadat hy een middag net voor sluitingstyd sy klasonderwyseres se hare uit haar kop getrek het.

Die erg geskokte juffrou het net daar in die klas ’n senuwee-ineenstorting gehad.

Hettie van der Ross is ’n vrou van inbors en ’n versinnebeelding van onbaatsugtige liefde.

“As ek net tot hom kan deurdring sodat hy kan oopmaak en sê wat hom pla. Ek het hom mos nie so grootgemaak nie,” het sy gemoan.

Dit was laat Sondagnag toe sy ’n harde gehamer aan haar voordeur hoor.

’n Gespanne Hettie het traag uit die bed geklim.

Vanaand keer hy weer die huis op sy dak, maar hy moet maar maak soos hy lus het, ek gee nie meer om nie, het sy moedeloos gedink toe sy voordeur toe sukkel om vir Spokie oop te sluit.

“Waar draai die hoer van ’n ma van my wat haar so kerklik hou! Maak oop hierdie deur of ek skop hom oop!” hoor sy hom histeries bulder.

“Ag, Here, asseblief tog, nie dít ook nie,” stuur sy ’n spoedgebed op en versnel haar pas. Sy moes net verlede week twee ruite vervang wat hy in een van sy woedebuie stukkend geslaan het.

Dis dae soos dié dat sy haar enigste kind dood wens.

Spokie van der Ross glimlag leedvermakerig, maar in sy donker lewelose oë merk sy iets anders.

Haar seun se oë is gevul met haat en woede.

’n Dun bloedstroom kronkel moeisaam uit die hoek van sy mond.

Sy let ook ’n paar vars krapmerke aan sy nek.

Haar oë skiet meteens vol trane. “Boetie, my kind, wat het gebeur?! Hoekom lyk jy so?!”

“Hou jou bek!” maak hy haar stil met ’n kilheid in sy stem dat dit voel asof haar bene onder haar wil meegee.

Hettie gryp betyds aan die reling van die rusbank om haar ewewig te behou toe hy haar uit die bloute met geweld uit die pad stoot.

Sy gaan sit op die naaste stoel en staar geskok na haar seun wat nou dreigend nader staan.

“Wil jy so wragtig by my weet wat gebeur het?!”

Hy draai om en kyk haar stip aan, sy gesig uitdrukkingloos.

“Jy het ál die jare vir my gelieg! My laat verstaan die pa wat ek nooit geken het nie, is in die Kaap vermoor!”

Hy bly ’n oomblik stil om te sien watter uitwerking sy woorde op haar het.

Sy antwoord egter nie en staar net strak voor haar uit. Die dag waarvoor sy nou al 20 jaar vrees, het uiteindelik aangebreek, maar hoe het hy uitgevind? Haar kop is ’n warboel van gedagtes.

Asof Spokie haar gedagtes gelees het, antwoord hy haar vraag.

“Jy het seker gedink ek sal nooit uitvind dat daai uilskuiken met sy etter-ogies my pa is nie?!”

Sy vermy sy vurige blik op haar en laat sak haar kop in albei haar hande. “Ek dink ek verdien die waarheid uit jou bek uit, Ma!

“Om nou met daai God-vergeef-my-sondes-gevreetjie daar te sit gaat jou niks baat nie! Hoekom het jy my ál die jare belieg?!”

Hettie kyk op … haar oë vol trane. Sy het hom ’n onreg aangedoen, maar watter keuse het sy gehad?

“Ek het dit vir jóú gedoen, my kind. Ek wou jou beskerm teen daardie gewetenlose vark.

“Ek … ek het dit gedoen omdat ek jou so oneindig lief het, my seun. Ma is jammer …”

Spokie se woede maak uiteindelik plek vir simpatie vir sy dierbare moeder.

Die vrou wat deur die genade­lose Klein Karoo-hitte en ál die koue wintersoggende vir hom opgestaan het. Toe die lokasiemense draaie om hom geloop het.

Mal Spokie, onbeskofte, vuilgat Spokie, wat elke dag op die winkelstoepe vir ’n five­ bob skarrel en die kinners se geld afvat wanneer hulle nie wil gee nie.

Sy gesig verstrak effe van pyn toe hy langs haar gaan sit en haar klein, bewerige handjies in syne neem.

Daar is selfs ’n gerusstellende glimlaggie op sy mond. Die wond aan sy onderlip waar die bloed netnou vrylik uitgeloop het, is ook nou duidelik sigbaar.

Dan sug Spokie swaar, asof hy die laaste bietjie asem uit sy longe wil uitblaas.

“Ek weet ál die jare dat daai werf-etter my pa is …”

Hy sien nie hoe Hettie ruk soos sy skrik dat haar skouers nóg krommer trek as wat dit reeds is nie.

Hettie laat sak haar kop weer. Wat weet die kind alles? Is my geheim dan nie veilig saam ousie Emma na haar graf nie?

“Hoekom lyk jy dan so, my kind?” hakkel sy verbouereerd.

Sy oë vermy haar jammerlike blik. Niemand in dié dorp kan Spokie van der Ross baasraak nie, maar vanaand is ’n ander storie.

Hulle het my gepak; hy en sy vuilgat trawante, maar ek gaan terug vir hulle, dink hy hatig.

“Vanaand was nie die eerste keer dat Britz sy vuil pote op my sit nie. Hy en sy guards het my van agter bekruip.”

Hettie frons verward, te bang om te vra hoe en wanneer.

“Ek het vandag bietjie daa’ by die winkelstoepe gaan skarrel. Toe ek sien ek het genoeg vir ’n 2F, toe gaan sit ek daar in sy tavern.

“Die vark het nogal net gewag totdat ek klaar gesuip het, toe laat hy sy guards eerste met my kom k*k soek.”

Hy beduie met sy vuiste hoe hy die eerste twee platgeslaan het.

“Die anner het my gepak en my vasgehou sodat daai etter-ogies my met die aapstert kon bykom.”

Hettie snak hoorbaar na haar asem toe hy sy hemp verder van sy lyf skeur en haar sy rug wys.

Strepies bloed is duidelik sigbaar waar die sambok sy vel geskeur het.

“Dit was sy tweede en laaste keer dat hy aan my geraak het. Die eerste keer was eendag ná skool.

“Ek en my tjommies het daar voor sy winkel rondgehang toe hy daar stop met sy nuwe bakkie.

“Almal het na die bakkie gaan kyk, maar toe ek my hande daaraan sit, toe gryp hy aan my nek.

“Hy’t my met een hand aan my gorrel beetgekry. Toe sê hy vir my: ‘Dan wil jou ma nog wragtie sê dat jy my kind is, ’n f*kk*n klein Boesmantjie. Loop sê vir haar sy moet jou pa op ’n anner plek loop soek.’

“Nou soek ek die waarheid by jou, Ma. Die hele waarheid ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters