Verlede maand
Die army daag op en skielik is dit ’n ander ball game
 ~ 

GENIET vandag hoofstuk 5 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep hom “Die Vreemde Klong”.

AO Geswindt en sy spannetjie staan nader toe die spesialiseenhede tussen die bosse deur aankom. Daar is lede van Oudtshoorn se forensiese afdeling, speurders en polisiefotograwe.

’n Groot weermaghelikopter dreun oor hul koppe verby en land eenkant op die rand van die kol.

Tien manne in swart kamoefleerdrag spring uit en kom met afgemete treë deur die lang gras na hulle toe aangestap.

“Wie is in beheer hier?” vra een van hulle sommerso kortaf.

Geswindt staan vinnig nader. “Ek is AO Leon Geswindt van die Rustenville-polisiestasie. Ons het die verskynsel hier ontdek. En wie is u?” vra hy formeel.

Die man haal ’n vreemde badge uit sy sak en toon dit aan almal.

Hy wys vlugtig na die nege manne by hom.

“Ek is kol. Van Deventer van PI 17. Dis ’n nuutgestigte elite-eenheid van die weermag.

“Ons is in Pretoria gebaseer. Ons ondersoek paranormale verskynsels of enige vreemde, onverklaarbare gebeurtenisse binne ons landsgrense.

“Genl. Sithole, die hoof van die weermag, het ons gestuur kort nadat dié ding onder sy aandag gebring is.

“Ek neem nou beheer van die hele toneel oor en almal rapporteer aan my. Is dit duidelik?”

Almal knik gelate.

Van Deventer kyk na een van sy manne. Dié het so ’n snaakse koffertjie in die hand.

“Kapt. Pool, stuur daai remote control radiation detector na daardie gat en kyk of jy enige bestraling daar optel!”

Kapt. Pool spring op aandag. “Reg so, Kolonel!”

Terwyl Pool doening raak, neem kol. Van Deventer vir AO Geswindt eenkant toe.

“Adjudant, vertel vir my alles wat hier gebeur het, van die begin tot die einde!”

Geswindt spring weg en vertel van die skielik weerlig en gerammel van donder uit ’n wolklose hemel die vorige aand. Die skielike wind wat opgesteek en die donderwolke wat hier van die kloof se kant af oor die berge aangerol het Rustenville toe en die reën wat toe kort daarna op die aarde neergestuif het.

Toe vertel hy van die vreemde seuntjie wat sers. Bruwer op die pad tussen die bome gesien het.

“Dis hoekom ons hier in die bosse was. Ons het na daardie verlore seuntjie kom soek,” sluit Geswindt sy vertelling af.

Kol. Van Deventer frons. “Ek neem aan julle kon toe nie daardie seuntjie opspoor nie?” vra hy.

Geswindt knik. “Ja, Kolonel.”

Baie dinge maal deur Van Deventer se kop. Hy kyk in die rigting van die toneel.

Kapt. Pool kom nader gestap. “Kolonel, die area om die gat is beslis radioaktief. Ek tel ioniserende bestraling daar op.”

“Wat is ioniserende bestraling?” vra Geswindt.

“Dit is ’n tipe energie wat deur radioaktiewe atome afgegee word. Dit bevat genoeg energie om elektrone te verwyder uit atome in die materiale wat dit binnedring,” begin Pool verduidelik.

“Die bestraling se vermoë om te ioniseer maak dit potensieel skadelik vir enige vorm van lewe. Ionisasie laat chemiese verbindings opbreek. En dit kan nie geruik, gevoel of geproe word nie.”

“Ons het vroeër ’n swaelreuk hier in die bosse opgetel,” sê Geswindt terloops en snuif. “ ’n Mens kan dit nog ’n bietjie ruik.”

“Ons weet nie wat die reuk veroorsaak en of dit verband hou met die fenomeen nie,” sê Pool. “Ek sal voorstel dat almal wat op die toneel doenig was, onmiddellik onder kwarantyn geplaas word. Die gebied moet afgesper word.”

“Ek reël dit dadelik,” sê Van Deventer. Hy klim op sy selfoon. “Generaal, dis kol. Van Deventer. Ons sit met ’n situasie. Ons sal die weermag onmiddellik in Duiwelskloof moet kry.”

Van Deventer verduidelik in detail wat aangaan voordat hy die foon dooddruk. Hy staan ’n hele rukkie en dink en draai dan na Geswindt. “Een van my manne gaan sers. Bruwer hierheen bring. Jy sal moet verduidelik waar jul polisiestasie geleë is.”

Toe draai hy na die span. “Mense, ons sit met ’n hoogs geheime situasie. Ons weet nog nie wat die oorsaak is van wat hier gebeur het nie. Die gebied is radioaktief.

“Julle almal sal onder kwarantyn geplaas moet word en ons sal op jul selfone beslag moet lê, want niemand van julle mag nou met die buitewêreld kontak hê nie!

“’n Konvooi weermagvoertuie sal binnekort hier toesak en die hele Duiwelskloof en Rustenville sal ’n no-go zone wees vir die buitewêreld.”

Almal kyk verslae na hom terwyl die nuus insink. Terwyl sy manne die fone konfiskeer, kyk hy Geswindt vas in die oë. Daar is ’n vreemde uitdrukking op sy gesig. “Adjudant, daardie seuntjie moet so gou moontlik gekry word!”

LENA en Nelie staar grootoog na die seuntjie wat doodstil in die middel van Nelie se voorkamer staan. Hy gluur hulle aan.

Nelie se oë gaan oor sy outydse klere.

“W-wie is jy, seuntjie? W-wat wil jy hê?” stotter Nelie.

Die klong babbel iets.

Nelie draai na Lena. “Lena, dit lyk asof die klong in tale praat. Ek het al my pastoor ook so gehoor praat!” hyg sy.

“Is dit nie miskien ’n Bybelse taal nie? Hy het klere uit die Bybelse tyd aan!” fluister Lena.

Skielik wys die seuntjie met sy wysvingertjie na die muur agter hulle.

Lena en Nelie swaai om. Hulle kyk na die portret van die Laaste Avondmaal wat daar hang.

Die klong loop nader en staar intens na die portret van Jesus en sy dissipels om die tafel. Hy babbel opgewonde terwyl hy na die portret beduie.

Lena en Nelie kyk betekenisvol na mekaar. Die klong staan met sy rug na hulle. Hulle knik vir mekaar, spring op en nael vir die oop voordeur.

Hulle storm by die huis uit tot in die straat.

Toe lê hulle oop in die straat af – in die rigting van die polisiestasie. Skielik is die hele wêreld vol weermagvoertuie en helikopters. Iemand met ’n mikrofoon staan agterop een van die voertuie en basuin ’n boodskap uit.

Lena hou sommer haar hand op om een van die voertuie te stop. Sy sukkel om haar asem terug te kry toe die voertuig langs hulle stilhou.

“Daar is ’n vreemde klong in my huis!” gil Nelie toe Lena te lank vat om te praat. Die weermaglede is duidelik geskok toe sy dít sê. Die army-latte kyk grootoog na mekaar. Hulle is soos een man van die voertuig af.

Die een sersant gryp Nelie wild aan die arm. “Kom, gaan wys my waar jy bly!” beveel hy haar dringend.

  • Lees Maandag verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters