11 dae gelede
Die ander meisies weet presies wat vir Katie voorlê
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Donker Geheim is Esme Cupido se jongste skryfstuk. Geniet die derde hoofstuk!

KATIE skrik toe die kamerdeur oopgestoot word en sy sit vinnig regop.

“Môre, my kind.

“Dis amper sesuur en uncle Leon sê julle ry sewe-uur van die huis af. Maak gou klaar, dan kom eet jy iets.”

Katie gooi die warm komberse van haar af.

Sy sien die pienk geskenkpakkie op die vloer lê waar sy dit gisteraand van die kassie afgestoot het. Sy skop dit driftig onder die bed in.

Sy trek vinnig haar vaal sweetpak aan.

Sy het gisteraand, of was dit vanoggend, nadat hy uit haar kamer is, ’n besluit geneem.

Ant Mary het gesê haar ma het nie met haar laat mors toe haar werkgewer se man vatterig was nie,

Sy sal ook nie met haar laat mors nie.

Sy het gisteraand ’n knipmes uit ant Mary se messelaai gehaal.

Dit steek sy in haar warm jacket se sak. Tog draal sy voordat sy kombuis toe stap.

Uncle Leon is besig om nog toerusting by die rugsakke in te prop.

Hy kom regop en kyk haar met ’n wye glimlag aan.

“Lekker geslaap? Toe ek vannag toilet toe gaan, hoor ek jy vroetel nog in jou kamer.”

Hy kyk haar uitdagend aan en sy laat sak haar oë. Ant Mary sit koulik by die tafel en koffie drink.

“Ek hoop daai jacket is warm genoeg, want dis bitter koud bo-op die berg. Jy was nog net in die somer daar,” sê ant Mary besorgd.

Sy staan op en skink koffie in ’n beker. “Ek sweer daar het kapok op die berg geval.”

Sy sit die koffie en ’n bakkie beskuit voor Katie neer.

“Ag, Mary. Ek is ook mos daar. Ek sal sorg dat sy nie verkluim nie.”

Hy trek ’n wolmus diep oor sy ore en kyk ongeduldig op sy horlosie.

“Ek kan na myself kyk, ant Mary,” sê Katie ferm en sluk die koffie warm af voordat sy haar rugsak oor haar skouers swaai.

Uncle Leon kyk met ’n effense glimlag na haar.

“Nou toe, kom. Die ander wag al vir ons.”

Hy buk en tel behendig sy rugsak en ander toerusting op.

“My kind, wees versigtig. As jy nie meer kan stap nie of te koud kry, moet jy vir uncle Leon sê.

“Wag, ek bring gou ’n mussie vir jou.”

Ant Mary slof weg kamer toe. Uncle Leon kyk haar stadig van kop tot toon aan.

“Vanaand kan ek en jy ’n bietjie close raak,” sê hy saggies. “Jy’t gehoor jou ant Mary sê ek moet jou warm hou. Dis presies wat ek gaan …”

“Hierso.”

Ant Mary hou ’n heldergeel mus na Katie uit. “Anders vries jou ore van jou kop af.”

Groepies kinders wag hulle voor die kerksaal in. Twee ooms staan en gesels onder ’n peperboom, maar kom vinnig nader toe hulle uncle Leon se bakkie sien.

Twee bakkies staan gereed om die kinders na die voet van Ouberg te neem. Sy voel almal se oë op haar toe sy uit die bakkie klim.

“Luister, julle, dis Katie. Sy het uit die Kaap vir ons kom kuier.”

“Hallo, Katie,” sê een van die jong seuns. Sy maat stamp hom in die sy en hulle lag proestend.

Die meisies kyk haar van kop tot toon aan en sy hoor die een fluister: “Nogge een.”

Nadat uncle Leon almal bekend gestel het, durf hulle die berg aan.

Een van die seuns, ’n rooikop met die naam Jacques wat blykbaar goeie kennis van die berg het, stap voor teen ’n gemaklike pas. Plek-plek rus hulle om asem te skep en water te drink, maar voor elf se kant is hulle bo-op die berg.

’n Laag mis hang oor die berg en toe die twee jagtershutte voor hulle opdoem, is almal dankbaar.

Die meisies verken die hut wat uncle Leon aan hulle toeken en pak hul goedjies uit.

“Is uncle Leon familie van jou?” vra die skraal meisie, Thea, nuuskierig terwyl sy ’n worsie uit haar ice- cream-bak vol kos haal.

“Nee, ant Mary is my ma se suster. Hoekom vra jy?” Katie gaan sit op die enigste bed in die hut, ’n bed wat net so wel ’n plat klip kon gewees het, so hard is dit.

“Vra maar net.”

Uncle Leon kom die hut binne en sit twee kerse op die tafeltjie neer. “Dis vir vanaand.”

“Uncle Leon!” roep die ander meisie laggend uit toe uncle Leon na haar gryp en sy keer vir haar boude.

“Waar is Michelle dan? Sou sy nie saamgekom het nie?”

Die twee meisies kyk vir mekaar en daar is ’n oomblik stilte.

“Sy… sy wil nie meer aan die jeuggroep behoort nie.”

“ O… dis haar loss,” sê hy skouerophalend. “Die mis behoort nou-nou weg te wees, dan kan ek en jy die Kolmansgrot aan die een kant van die berg gaan verken, Katie.”

Hy kyk haar opsommend aan en wink haar nader. “Kom hier.”

Sy ignoreer hom en buk om haar tekkies uit te trek. Sy gaan nie saam om die grot te verken nie.

Haar ma wou destyds nooit hê sy moes soontoe stap nie. Met twee treë is hy by haar en druk haar aan die skouers regop.

“As ek vir jou wink, dan kom jy. Moet my nie ignoreer nie,” sis hy.

“Sorg dat jy netnou gereed is.”

Katie sien hoe die meisies hulle aanstaar en sy sluk die woorde terug wat sy hom wou toevoeg. Hy los haar skouers en stap vinnig die hut uit.

“Uncle Leon vattie ‘nee’ vir ’n antwoord nie. Ons almal was al by die Kolmansgrot. Dis hoeko hy jou allien niem,” sê Thea.

“Kom ons gaan staan buite,” sê sy vir die ander meisie.

Katie haal later warmer sokkies uit haar rugsak. Sy voel na die knipmes in haar jacket se sak.

Sy gaan nie met haar laat mors nie. Sy stap nader waar al die kinders rondom die vuur staan en gesels.

Toe hulle haar sien aankom, sê Thea iets onhoorbaars en die ander lag luidrugtig.

Sy sien uncle Leon by die ander hut uitkom en die groepie word skielik stemmig.

“Katie, is jy reg? Ouens, ek en Katie gaan gou eers op ons trippie.

“Jacques, hou jy die fort hier,” sê hy vir die rooikop-seun. In die 20 minute se stap, ontpop uncle Leon in ’n gids wat haar interessante plante en fynbos uitwys.

Sy sien geen teken dat hy iets sinisters beplan nie. Sy hou elke beweging van hom met ’n valkoog dop en haar hand op die messie in haar jacket se sak.

Hy stop meteens in sy spoor en wys na ’n gapende donker rotswand wat voor hulle lê. “Hier is ons.

“Die grot word vandag nog gebruik deur mense wat met hul vee oor die berg trek.

Dis die eerste keer dat Katie in ’n grot kom. Sy sien die oorblyfsels en roet van vure wat in die grot gemaak is.

’n Kort gangetjie loop uit die bek van die grot en sy loop nuuskierig verder. Daar skok sy tot stilstand. Voor haar lê ’n matras en toe sy omdraai, is uncle Leon al halfpad besig om sy hemp uit te trek.

“Dis ons geheim, Katie, my meisie…”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters