27 dae gelede
Die aantreklike ou neem Maria op ’n koffie-afspraak
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! “Die Geheimsinnige Skrywer” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet nou hoofstuk 2 van hierdie verhaal.

OP ’N dag daag ek uit desperaatheid by Jaap se huis op. Sy vrou het gaan tee drink by ’n kerksuster en dit pas my soos ’n handskoen. Ek het skrywersblok en die deadline vir die skryfkompetisie oor spookstories is om die draai.

Ek wil bitter graag deelneem, maar ek het nie ’n idee waaroor om te skryf nie.

Jaap Bollenhoven is my laaste hoop.

Toe ek my situasie met Jaap bespreek, bied hy my dadelik ’n sitplek aan.

“Spookstories is wel nie my sterkste punt nie, maar vandag gaan ek jou iets vertel wat die hare op jou arms gaan laat rys.”

Ek dog eers hy maak ’n grap, maar daar is skielik ’n ernstige uitdrukking op sy gesig.

“Dit wat ek jou vandag gaan vertel, is die reine, reine waarheid.

“Dit het werklik gebeur. Dit hang van jou af hoe jy die storie gaan skryf.”

Oor hoeveel waarheid (of leuens) daar in daardie vertelling steek, wou ek my liewer nie uitlaat nie.

Daar is hopeloos te veel los stukkies wat sukkel om in die legkaart te pas. Ek het maar my bedenkinge oor Jaap se storie.

Ek is nog nie so lank in die dorp nie en sal beslis nie enige wolhaarstorie glo nie, veral nie van iemand wat niks anders as ’n vreemdeling is nie.

Sommige mense hou mos maar van kanse vat en poetse bak.

Hulle geniet dit om van ’n muggie ’n olifant te maak of om groot vlamme te sien waar daar eintlik net ’n ligte rokie trek.

Hulle suig goed uit hul duim en hou dit dan as die werklikheid voor.

En glo my, as ’n storie eers van deur tot deur versprei, word daar elke keer meer en meer stertjies aangelas. Jy weet later nie meer wat is feit en wat is fiksie nie.

Ek kom gelukkig dadelik agter as iemand my ’n gat in die kop probeer praat.

Ek is nie meer vandag se kind nie. Soms hou ek my net onnosel in ’n poging om agter die kap van die byl te kom.

Ek was nie verniet op my dag een van ons land se topspeurders nie. Hoeveel misdadigers, veral verkragters en moordenaars, het ek nie uit hulle skuilplek gaan haal nie?

Korrupsie en ’n gekonkel onder my kollegas het my genoodsaak om my bedanking in te dien.

Ek het later nie meer geweet wie om te vertrou nie.

Nadat Jaap my die storie ’n tweede keer vertel het, wonder ek of dit die moeite werd sal wees om die verhaal in my eie woorde te vertel.

Uiteindelik besluit ek daar behoort seker mense te wees wat sal brand om meer oor Maria Droogenbroek uit te vind. En natuurlik sal ek my eie stukkie drama inwerk.

LAATAAND op ’n dorpie tussen naby en ver sit daar ’n jong vrou net in haar nagrok buite op die stoep. Die vrou is so opgewonde dat nie eens die snerpende koue vatplek aan haar kry nie.

As sy kon, sou sy graag iets meer betaamlik aangetrek het, maar daar was nie tyd om in die kaste te krap vir klere nie.

Sy moes gou uitglip voordat haar ouers agterkom sy voer iets in die mou. Haar ouers dra nie kennis van haar planne om saam met haar ridder op die wit perd Johannesburg toe te gaan nie. Vir haar is dit beter so.

Sy is mondig en moeg daarvan om soos ’n tiener behandel te word.

Sy voel ook sy is groot genoeg om haar eie besluite te neem.

In die verte hoor sy die kerkklok lui. Twaalf keer ná mekaar.

Sy draai haar kop. Dis middernag. Die oomblik van waarheid het aangebreek.

“Sodra jy die kerkklok hoor, moet jy dadelik rivier toe loop. Ek sal daar vir jou wag.

“Jy hoef niks saam te bring nie, sorg net dat jy daar is,” het haar ridder vroeër vir haar gesê.

Sy kon nie wag om die res van haar lewe met hom deur te bring nie.

’n Doodse stilte sak oor die dorpie neer. Nie eens die geblaf van ’n hond kan gehoor word nie.

Die inwoners is in droomland. Die jong vrou, Maria Droogenbroek, staan op, maak die hekkie oop en loop in die pad af.

Die straatligte is buite werking, maar sy is nie bekommerd nie. Hulle woon in ’n rustige buurt.

Sy hoef vir niks bang te wees nie.

Maria onthou nog hul eerste ontmoeting. Hy was die vierde kliënt in die ry.

Dit was ’n stillerige Woensdagoggend.

In sy mandjie was brood, melk en appels. Of was dit

lemoene? Sy is nie meer seker nie, maar sy weet dit was vrugte.

Sy’t opgekyk, gegroet en net daar haar hart verloor.

Is so iets ooit moontlik ? wonder sy agterna. Sy ken die man skaars, maar daardie eerste kyk in sy heuningbruin oë het haar oortuig dat daar iets soos liefde met die eerste oogopslag is.

Daardie aand kon sy nie slaap nie.

Sy’t rondgerol in haar bed soos ’n matrikulant wat die volgende dag ’n belangrike eksamenvraestel moes skryf, maar nie voorbereid was nie.

Sy het gewonder of hy ’n vrou en kinders het.

Die Donderdag was hy weer in die winkel. Dié keer in sy polisie-uniform.

Die eerste ding wat sy opgelet het, was sy ringlose trouvinger. Dit het haar hoop gegee; haar laat glo sy staan ’n kans.

Hy moes agtergekom het sy hou van hom. Waarom anders sou hy ’n geselsie aanknoop?

“My naam is Andrew,” stel hy hom voor. “Ek sal jou graag die een of ander tyd wil uitneem vir koffie.”

So vinnig as wat sy kon, skryf sy haar naam en kontaknommer op ’n papiertjie.

“Bel my,” fluister sy toe hy vir sy aankope betaal.

’n Week later gaan drink hulle koffie. Hulle gesels land en sand en begin mekaar beter ken.

Dit pla haar glad nie dat Andrew 12 jaar ouer is as sy nie. In haar hart weet sy een ding: Hy verdien ’n regverdige kans in haar lewe.

Toe hy ses maande later voorstel sy moet saamkom Johannesburg toe, is Maria oorstelp van vreugde.

“Kom ons gaan weg, net ek en jy. Kom ons gaan maak ’n nuwe begin in Johannesburg.

“Kom ons gaan trou en begin ’n gesin.”

Haar hele lewe lank het Maria na haar ouers se pype gedans.

Hier het sy skielik die geleentheid gehad om haar eie ding te gaan doen. Dis ’n kans wat sy nie deur haar vingers kan laat glip nie.

Hulle maak planne en spreek af om op ’n bepaalde datum kort ná middernag by die rivier te ontmoet.

Ai, as Maria maar net nugter gedink het. As sy maar net nie toegelaat het dat die verliefdheid haar so blind maak nie.

Watter ordentlike man loop in die nag saam met jou weg? Hy het nie eens jou ouers ontmoet nie.

Sy moes tog agtergekom het daar is iewers ’n slang in die gras...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters