Verlede maand
Devan loop hom twee keer vas met sy vrot speurwerk
 ~ 

DEVAN probeer nog uitpluis wat van die vermiste Sammy geword het, maar die cops bly op sy case. Hier’s hoofstuk 4 van “Op ’n Dag Soos Dié” uit die pen van GWENDOLINE KORDOM.

‘WAARVAN praat jy, broe?” vra Devan.

“Van jou manewales by my plek!” sê Tiekie. “Ek hoor jy het jou way in geforce toe jy agterkom ek is nie hier nie. Blykbaar van my huis ’n hoerhuis gemaak. Nogal met ’n Gina. Haar berk, Oupatjie, soek jou nadat hy die video gesien het.”

Devan se hart klop woes. “Watter video?”

“Van julle twee op mý bed. Die een wat ek met my vrou deel, jou gemors.”

Toe Tiekie hom wil hom gryp, spring Devan vinnig agteruit. Dan voel hy hoe een hom van agter beetkry. Dis Winegums, een van Tiekie se ouens.

“Dis ook nie ál nie, Boss T,” sê Winegums.” Hy en Gina het vooraf tog te lekker op Master KG se tunes gedans. Toe besluit een of ander moegoe om vir Judy Boucher te druk. Drie keer agter mekaar nogal. Dis tóé dat die twee mekaar gryp, want wie kan dan nou vir antie Judy weerstaan?” Winegums lag vir sy eie joke.

“Ek het lus en moer jou,” sê Tiekie en mik weer na Devan.

“Wag eers,” keer Devan.” Ek is in groot moeilikheid. Voor jy iets doen, luister asseblief eers na my. Die ou wat gisteraand saam met my hier was, is weg. Weet enigeen dalk wat van hom geword het?”

Devan kyk vraend na die res wat nou nader staan.

“Jy worry oor jou tjommie? Worry eerder oor oulike Oupatjie. Hy’t gesê hy maak mincemeat van jou,” sê Winegums en slinger weg toe ’n nuwe lagbui hom oorval.

“Dié is ’n ernstige saak, Tiekie. Die polisie is op soek na hom en die laaste plek waar hy gesien is, was hier,” sê Devan.

“Nuh! Nou het jy boonop die gattas op my plek gesit. Vat hom in. Vandag slat ek daai drankduiwel uit jou uit,” sê Tiekie woedend.

“Tiekie, wag,” pleit Devan, maar dis te laat. Twee ouens het hom stewig beet. Devan skop hoog en laag, maar die twee sleep-dra hom die tavern in.

“Hie’ kommie boere!” skree een skielik. Devan ploeg teen die grond neer toe die twee hom summier los en verdwyn. Terwyl hy op sy bene kom, herken hy tot sy ergernis vir Spier agter die stuurwiel.

“Twee keer op een dag?” vra Spier toe hy binne hoorafstand van Devan is. “Speel jy speurder of suip jy weer?”

Devan snork onderlangs. Hy het nog nooit so lus gehad om iemand ’n snotklap te gee nie. Hy staar vererg na Spier, wat met hoë skouers rond paradeer. Dink seker die son skyn uit sy agterent uit.

Toe AO Jonas op hom afstuur, het Devan geen ander keuse as om te bly staan nie.

“Hoekom is jy nie by die huis nie, meneer Maars?” vra hy. “Dis die beste plek vir jou om te wees totdat Sammy gevind is. Of het jy intussen iets onthou?”

“Hoekom kom julle nóú eers hier aan? Dis die éérste plek waar julle moet kyk.”

“Tiekie se tavern was die derde plek op ons lys. Ons werk volgens hoe mev. Wilgers die storie aan ons deurgegee het. Sy werk was eerste op die lys. Of wil jy ons sê hoe om ons job te doen?”

“Nee, ek sê sommer. Jy moet net weet jy gaan niks uit hierdie ouens kry nie,” sê Devan.

“Amper soos ons niks uit jóú gekry het nie,” sê Spier skielik agter Devan. “Moenie worry nie, my maat. Ons het ways en means. En jy bly suspect nr. 1, so los maar jou windgat maniere.”

Devan kyk vraend na Jonas, maar toe hy niks sê nie, draai Devan om en stap weg. Hy voel Spier se oë in sy rug brand. Sy besoek aan Tiekie was ’n doodloopstraat. Gisteraand se gebeure klink soos iemand anders se storie, nie dié van Devan Maars nie.

Hy is glad nie trots op homself nie. Gina van alle mense! Hy sweer iemand moes sy drank gedokter het.

Dalk was dit Gina, of Sammy. Wag, daar was nog iemand ... ’n Vrou. Hoekom ken hy haar nie? Haar gesig wil nie deurskemer nie.

Is sy agter Sammy se verdwyning? Of is sy en Sammy kop in een mus? Wie is sy? Gina sal weet.

Maar hoe gaan hy by Gina uitkom sonder dat Oupatjie uitvind? Hy hoor hoeka die man baklei met ’n knopkierie, vandaar die naam Oupatjie.

Hy sal ’n way moet vind. Hoe moeilik kan dit wees? Gina bly hier naby, in Komeetstraat. Hy stap met nuwe ywer daarheen.

DEVAN staan al ’n rukkie op die hoek van Komeetstraat en wag.

Dalk stuur die gode­ vir Gina op sy pad. ’n Uur sleep traag verby terwyl die son neerbak. Daar’s g’n teken van lewe by Gina se woning nie.

Hy weet Gina is ’n haarkapster. Dalk is sy by die werk. Wat baat dit om in hierdie versengende hitte te staan en wag?

Op daardie oomblik sien hy ’n seuntjie in die straat afgehardloop kom. Hy skat hom omtrent vyf jaar oud. Devan wink in sy rigting.

Die outjie kyk eers agtertoe, dan na Devan en kom sku nader.

Devan hou ’n R10-noot in die lug. “Ken jy my?” vra Devan. “Ek bly hier onder in Kosmosstraat. Die geld is vir jou. Maar eers moet jy iets vir my doen. Sal jy?”

“Wat?” vra die kind wantrouig.

“Gaan kyk of antie Gina by die huis is. Dan sê jy haar oom Devan wag vir haar hier onder in die straat. Dè, vat dié vir jou.”

Die kind laat hom nie twee keer nooi nie en gryp die noot uit Devan se hand. Toe laat spaander hy.

Devan se hart sink. Is hy wragtig ingeloop deur ’n vyfjarige? Is die hele wêreld daarop uit om hom vandag vir ’n gat te vat?

Maar dan sien hy die laitie swenk na regs en pyl op Gina se huis af. Devan wil byna huil van verligting. Kort daarna kom die kind soos die wind aangehol.

Hy beduie wild agtertoe.

Toe sien Devan vir Oupatjie aangehardloop kom, knopkierie en ál. En Gina met groen krullers agterna. Devan laat nie op hom wag nie. Hy slaan voet in die wind.

Devan hardloop so vinnig as wat hy kan huiswaarts. Hy hoor gillende stemme agter hom, maar kyk nie om nie. Iewers hoor hy ’n sirene, maar nie eens dít laat hom staan nie. Binne ’n japtrap is hy by die huis.

Hy sluit elke deur en venster. Dan sit en wag hy met ’n kloppende hart in die voorhuis.

As Oupatjie darem vandag sy luck try, bel hy die polisie.

Die harde klop aan die deur laat hom orent vlieg. Hy loer deur die venster na buite, maar kan slegs die agterkant van die persoon sien. Dan besef hy dis ’n vrou. Hy haas hom na die deur, pluk dit oop en staar onseker na die vrou.

Haar donker hare is in ’n stywe bolla bo-op haar kop gestapel. Hier en daar skemer grys hare deur. Harde ouderdomsplooie kruip langs haar mond verby en donker oë boor koud in syne in.

“Waar is my man?” vra sy.

Toe eers tref dit Devan. Dis Sammy Wilgers se vrou, Lettie, op sy drumpel ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters