Verlede maand
Devan bevind hom skielik in ’n vreeslike penarie
 ~ 

SONLANDERS, vandag skop ons af met “Op 'n Dag Soos Dié” uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Geniet nou hoofstuk 1 van dié nuwe verhaal.

DIT is ’n vae gevoel wat aan jou knaag en naamloos bly totdat die ding gebeur. Iets ondenkbaars wat jy nie in ’n miljoen jaar sou kon raak raai nie.

Devan se stem bewe toe hy vra: “In verband waarmee?”

“Dit sal ons by die stasie verduidelik,” antwoord die Spier-mannetjie met ’n diep stem.

“Kan ek ten minste iets aantrek?” wil Devan weet.

“Natuurlik,” antwoord die kort een. In sy donker oë lees Devan simpatie wat hom ’n dun straal van hoop gee. Intussen staar Spier dwarsdeur Devan en dwing hom met sy kyk in die gang af. Hy wonder waaroor die polisie met hom wil gesels.

Dit beteken mos niks goeds as die polisie jou vir ondervraging inneem nie. Hy sien sy selfoon op die bedkassie en raap dit op. Tot sy ergenis sien hy dis morsdood. Tipies. Hoe gaan hy nou vir Janice in die hande kry? Terwyl hy na die charger soek, tref ’n gedagte hom. Die vrou met wie hy seks gehad het ... Wat as sy nou beweer dis verkragting?

Maar dan sou hulle hom gearresteer het. Wat bly oor?

“Hoe ver is u, meneer Maars?”

“Ek is byna klaar.”

Toe hy klaar is, stap hy met ’n swaar hart in die gang af. Die twee beamptes trap ongeduldig by die voordeur rond.

Dan beduie die Spier-vent hy moet agter inklim. Tot sy geluk sien hy dis ’n kar. As dit ’n polisie-vên was, was die hele buurt teen dié tyd reeds buite, veral antie Tina van oorkant die straat.

Hy sien haar kombuisgordyn vinnig sak toe hy in daardie rigting loer. Mooi. Teen vanaand weet die hele Kosmosstraat hy lê in die selle. Daarvoor sal die besige antie sorg. Sou sy dalk ook gesien het hoe Janice en die tweeling douvoordag die pad vat?

Hy hoor al die gerugte. Eers verdwyn die vrou en kinders. Toe word die man deur die polisie opgeskep. Wat daar gebeur het, kan ’n mens net raai. Die arme Janice. Daai armgat van ’n Devan het haar nooit verdien nie. Haar soort is yl gesaai. Altyd op haar plek en by die huis soos wat dit ’n goeie vrou betaam. En hy? Die sleg ding hou dronknes by Tiekie se tavern.

Antie Tina sal aan die woord wees en die res van die straat se vroue sal alles beaam.

Hy wonder of dié Danie al getroud is. As hy darem sy luck met sy vrou try ... Maar Janice is nie daai tipe nie. Kyk hoe lank moes hy wag om haar bed toe te sleep. Daai vergunning is hom eers toegelaat op hul huweliksnag. Hy was nog nooit so lief vir iemand soos vir Janice nie.

Hoe kon hy so onnosel wees? Hoekom het hy nie aandag gegee toe Janice hom voortdurend gewaarsku het oor sy suipery nie? In die laaste twee jaar van hul getroude lewe het dinge lelik agteruit gegaan en dis alles sy skuld. Hul Hop-huis hier in Vleiland is ál wat hulle besit. Nadat hy met ’n lening die eenvertrekhuisie groter gemaak het, het Janice dit leefbaar gemaak en met liefde gemeubileer.

Hulle was vol drome. Hy sou met tyd sy eie besigheid begin en later uitbrei. Janice sou die administratiewe deel van die besigheid hanteer en later haar eie koffiewinkel begin. Maar eers moes die lening betaal word.

Toe kom die tweeling en Janice los haar werk as kok by die plaaslike kleuterskool. Die finansiële druk op sy skouers het verdubbel. Pleks van soek na ’n oplossing en met sy vrou daaroor gesels, begin hy toe te suip. Die dop ná werk het later ’n instelling geword totdat Tiekie een aand aan sy deur kom klop het. Sy drankskuld van R3 000 moes betaal word. Janice het byna ’n oorval gekry. Dinge het vererger. Hy het laatnag tuisgekom om haar woede te ontsnap.

Eendag het Janice voor hom kom staan. Hy het geskrik toe hy dieper na haar kyk. Wat hy daar gesien het, het sy hart gebreek. Die blink was uit haar swart hare, haar bleek gesig ouer met ekstra kraaispoortjies langs die oë. Haar eens liefdevolle bruin oë het dof en afwesig gelyk.

“Ek is moeg van die lewe, Devan. Jou leë beloftes hou net tot die volgende dop. Jy sal moet klaarkry met jou dinge. Op die ou end was my ma toe reg oor jou. Eendag gaan jy wakker skrik en sien ek is nie meer daar nie.”

Toe het sy omgedraai en van hom weggestap.

Jody en Jamie het na hom gestaar asof hy ’n vreemdeling was. Toe sak Jody af met: “Daddy is alwee’ dronk.”

Devan se oë skiet vol trane. Hy mis die tweeling. Hy mis sy vrou. Hy mis die reuk van groen appels en kaneel in haar hare nadat dit gewas is. Hy mis ...

“Ons is hier, meneer Maars,” onderbreek Jonas sy gedagtes.

Devan kyk op en sug. Dan klim hy met jelliebene uit die voertuig. Die afstand na die ingang is veels te gou verby. Hy weet hoe die plaaslike polisiestasie van buite lyk, maar was nog nooit aan die binnekant nie.

Dié is nie ’n plek wat hy ken nie en hy was nog altyd ’n wetsgehoorsame burger. Hy hoop dít tel darem vandag vir iets.

Voor ’n bruin houtdeur kom hulle te staan. Dan beduie Jonas hy moet in.

“Sit,” sê Jonas terwyl Spier hom teen die muur tuismaak en van daar na Devan staar.

Nadat Devan gaan sit het, probeer hy kalm bly. Hy is skytbang. Die stiltes tussen die twee beamptes werk op hom.

“Wanneer laas het jy jou kollega Sammy Wilgers gesien?” kom die vraag uiteindelik van Spier.

“Gister by die werk. Hoekom?”

“So, dis jou weergawe en jy hou daarby?” vra Spier.

“Ja,” sê Devan en kyk verward na die twee. “Wat gaan hier aan?”

“Dis wat ons vir jóú vra,” sê Jonas. “Sammy Wilgers word vermis. Sy kollegas het hom laas gister by die werk gesien.”

Devan skud sy kop in ongeloof en vra: “Sammy is vermis?”

“Volgens die inligting wat ons sover bymekaargeskraap het, was jy die laaste persoon in Sammy se teenwoordigheid,” sê Spier.

Die lag borrel spontaan uit sy Devan se keel.

“Wat is so snaaks?” vra Spier.

“Die feit dat Sammy saam met mý was. Die man kan my skaars verdra. Is dié een of ander grap?”

Toe die twee na hom bly staar, voeg hy by: “Wat ek eintlik bedoel is, ek en Sammy het gereeld koppe gestamp. Work politics.”

“Indien jy nie jouself wil impliseer nie, beter jy ons vertel wat gisteraand gebeur het. Hoe Sammy Wilgers uit jou geselskap verdwyn het.” sê Jonas.

Toe eers besef Devan die erns van die saak, veral toe Spier na hom staar asof hy hom al reeds agter tralies sien ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters