Verlede maand
Devan begin die taak om uit te vind oor Sammy
Oom Sonnie  ~ 

DEVAN skrik toe die cops hom kom optel oor ’n vermiste kollega. Geniet nou hoofstuk 3 van “Op ’n Dag Soos Dié” uit die pen van GWENDOLINE KORDOM.

‘KOM ek verduidelik aan jou wat ons reeds weet, meneer Maars,” sê Spier. “Jou vriend Sammy Wilgers is nie gisteraand huis toe nie. Sy ontstelde vrou het die polisie gekontak.

Volgens haar is dit nie hoe Sammy operate nie. Hy kom blykbaar elke aand klokslag by die huis aan. Dié dat sy ons so vinnig betrokke gekry het.”

“Sammy klink nie na ’n ou wat sommer die pad sou vat nie, so ons vermoed ’n misdaad.”

Devan se oë rek, maar hy roer nie. Hy het uitgevind hoe minder hy sê, hoe beter.

“Die bestuur by JJ Woodworks het ons min of meer dieselfde prentjie oor ou Sammy geskets. Jaco Brits, jul bestuurder, het bevestig jy en Sammy is gister saam by die hek uit. Die res van jou kollegas het julle kort daarna by Tiekie se tavern gesien.

“So, hou jy steeds by jou weer­gawe, meneer Maars?”

“Cleophas Moerbei is ’n kollega en iemand saam met wie ek gereeld kuier,” sê Devan. “Vra hóm of ek saam met Sammy was.”

Dié keer bars Spier uit van die lag. “Ons hét Cleophas ondervra. Jou tjommie eet omtrént suur druiwe.”

“Wat bedoel jy?”

“Ou Cleophas is glad nie ingenome met jou en Sammy se nuutgevonde vriendskap nie. Hý het bevestig dat julle ’n lekker tyd by Tiekie se tavern gehad het. Só lekker dat hy vroeg daar weg is. Sy karakterskets oor jou plaas jou in ’n moeilike situasie. Volgens hom moes hy telkemale by jou hoor hoe jy Sammy wegwens.”

Die oorwinningsgloed in Spier se oë laat Devan se hare rys.

Die bleddie Cleophas! Hoekom moes hy dié dinge aan die gattas vertel? Ja, hy het Sammy weggewens. Wys hom ’n ou in daardie fabriek wat nie dieselfde wens gehad het nie? Nou klink hy na die enigste een. Klomp huigelaars. Cleophas is seker die grootste een.

Spier sak soos ’n roofvoël op hom neer, sy gesig nou net sentimeters van Devan s’n.

“Het jy Sammy Wilgers vermoor, meneer Maars?

“Nee, ek het nie,” antwoord Devan. In sy ore klink sy stem onoortuigend.

“Ontken jy wat die res sê?”

“Ek weet nie waar Sammy is nie. Ek kan nie onthou wat gisteraand gebeur het nie. Wat ek wel weet, is dat ek nie aan Sammy geraak het nie. Ek is nie ’n moordenaar nie. Ons is nie vriende nie. Nog minder drinkmaats.”

“So, die res lieg?” vra Spier.

“Dis nie wat ek gesê het nie. Ek het net my kant gestel.”

“Jy kan kwansuis nie onthou wat gisteraand gebeur het nie. Tog was jy die laaste persoon by hom.”

AO Jonas het oorkant Devan ingeskuif en kyk nou met simpatie na hom.

“Dinge lyk nie goed nie, meneer Maars. As ons enige bewys van ’n misdaad kry, staar jy tronkstraf in die gesig. Besef jy dit?”

Hy kug hardop en voeg by: “Die soektog na Sammy duur voort. Ek stel voor jy probeer onthou wat gisteraand gebeur het. Jou lewe en toekoms hang daarvan af. Moet dus nie weghardloop nie. Jy is vry om te gaan.”

Hy staan op en maak die deur oop.

Devan vlieg op en strompel verby hom in die gang af. Sy kop is deurmekaar en sy keel droog.

Die son bak warm op hom neer toe hy buite kom. Hy strompel huiswaarts.

Terwyl hy stap, is sy gedagtes by Sammy. Hy kan nie glo waar sy lewe vandag staan nie. Gisteroggend dié tyd was hy kliphard aan die werk. Devan steek vas.

Sammy het hom skuins voor 12:00 laat inroep. In die klein kantoortjie by die onderpunt van die trap het hy en Sammy woorde gehad oor ’n vrag. Volgens Sammy was die bestelling verkeerd en Devan besig met bedrog.

Toe Devan die bestelling nagaan, moes hy tot sy skok ontdek Sammy is reg. Iemand wou hom soos ’n dief laat lyk. Óf hy het genuine net ’n fout begaan. Wat baie gebeur wanneer hy babelas is. Dit was immers Maandag.

Hy het toe aan Sammy erken dit was ’n fout. Dié wou toe met alle mag na die base hardloop en Devan moes omtrent vure doodslaan. Hy was later op sy knieë en het tyd gevra om die fout te herstel. Sammy het uiteindelik ingewillig en besluit om dit daar te laat.

Devan het Sammy voor tjailatyd bedank en op die ingewing van die oomblik vir ’n dop genooi. Sammy se oë het geblink toe hy die uitnodiging aanvaar. Toe hy Cleophas inlig oor die gebeure, het dié hardop gesnork en sy kop geskud. Devan was seker die wêreld was op sy einde toe hy en Sammy by die hek uitstap. Stukkies onthou breek nou soos sonstrale deur sy deurmekaar brein.

Sammy het later in sy dronkenskap erken dat hy nog altyd jaloers was op Devan. Devan is almal se gunsteling. Hy was ook jaloers op hom en Cleophas se vriendskap. Sammy het selfs snot en trane oor sy huwelikslewe gehuil.

Hy is blykbaar vasgevang in ’n huwelik met ’n ouer vrou wat hom mishandel. Die kinders is nie syne nie en is gebore uit haar eerste huwelik.

Haar vorige man is dood. Dít is die rede hoekom hy so streng by die werk is. In sy huis het hy nie ’n sê nie. Al hierdie dinge laat hom waardeloos voel. Hy wou net vir een aand in sy lewe van alles vergeet. Devan het vir hom daai geleentheid geskep.

Devan het besef dat hy die arme Sammy verkeerd opgesom het. Hy het hom toe voorgeneem om in die toekoms ’n beter verhouding met Sammy te probeer bou.

In daai oomblik is ’n splinternuwe vriendskap gebore ... en dis hoe ver hy onthou.

Hy en Sammy wás toe saam. Dit was nie ’n leuen nie. Hy probeer onthou wat van hom geword het, maar tevergeefs. Hy weet egter met sekerheid dat hy nie ’n vinger op Sammy gelê het nie. Devan is verlig toe hy tuiskom. Ná ’n koue stort besluit hy ’n besoek aan die tavern is ’n goeie idee.

Iemand daar sou iets gesien het.

Hy sien nou sy lewe deur die oë van ander. Hy is teleurgesteld in Cleophas – die manier hoe hy hom onder die bus kon gooi.

Soveel vir lojaliteit. Devan het die meeste vriende oor sy beursie altyd so oop is. Hoe meer biere hy kon teken, hoe groter het sy drankskuld geword.

Nie een van die sogenaamde drinkebroers is vandag aan sy kant nie. Dis juis hulle wat nou die slegste van hom praat.

Hy steek voor Tiekie se tavern vas. Dan ruk hy van die skrik toe Tiekie langs hom verskyn.

“Jy het ’n bleddie nerve om jou gevriet hier te wys ná al die stront wat jy gisteraand aangevang het.”

Devan hou nie van die kyk in Tiekie se oë nie ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters