21 dae gelede
Daar's 'n heerlike hartsfladdering vir 'n jong man
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Vandag gaan ons voort met dié lekker verhaal, “Die Geheim”, uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Geniet nou die tweede hoofstuk.

TOE ek seker is die mans is almal weg werk toe, staan ek traag op. Mandy het haar intussen by Donna aangesluit en ek skud maar net my kop.

Die twee is weer besig om te suip. Ek het reeds besluit as dít is waar ek vir ’n onbepaalde tyd gaan bly, sal die plek moet skoon kom. Of die twee suiplappe my gaan help of nie, skeel my min.

Ek begin in die kamer waar ek geslaap het en tot my verbasing spring die twee ná hul derde bier ook in. Ons vervang die vuil beddegoed en gordyne met skones.

Cinda sluit haar later by ons aan. Hulle koop nog bier. Donna en Cinda was die vuil wasgoed terwyl ek en Mandy die huis van hoek tot kant blink skrop.

Dis só vuil, dit wil amper voorkom asof ons dit nie in een dag gaan maak nie, maar nét voor vyf kan ons terugsit en ons handewerk geniet terwyl Donna aandete kook.

Met die huis silwerskoon begin ek vir die eerste keer tuis voel.

Nadat die mans die aand almal gebad en geëet het, gaan Dawid weer by sy meisie kuier.

’n Stiller Charl gaan kruip voeg in. Russel en Shaun kom sit by ons. Ek drink ses biere saam met hulle voordat ek nagsê.

Die volgende oggend staan ek uit my eie vroeg op en begin die mans se kos inpak terwyl Donna lê en snork. Sy kom ingestrompel terwyl ek besig is en draai dan dankbaar in haar spore om.

Aan die inhoud van hul koskas is dit duidelik dat die mans goed verdien en mooi vir die huis sorg. Ook die meubels lyk duursaam en kort net ’n bietjie aandag.

Donna het waarskynlik nie meer die krag om haar hand op alles te hou nie en ek weet hoekom. Al ons harde handewerk van die vorige dag is ongedaan gemaak.

Hul klere en skoene lê orals rond. Die badkamer is ’n gemors en die teëlvloere besmeer. Die huis is nie soseer vuil nie, dis net dat as almal agter hulle optel, sal dinge beter en makliker vir Donna wees.

Ons maak maar weer skoon. Nadat ek die bier bedank het, besluit die vroue om op ’n ander plek te gaan kuier. Dis nogal lekker om alleen te wees. Ek vat ’n heerlike lang bad voordat ek een van Charl se boeke neem en my op die rusbank tuismaak.

Dis al vyfuur en die vroue is nog nie terug nie, so ek besluit om met die aandete te begin.

Ná vanoggend weet ek Donna is meer as gewillig is om van haar huishoudelike pligte in ons hande te laat. Ek gun haar ook ’n ruskans omdat ek duidelik kan sien sy het dit nodig.

Ek besluit om tamatiebredie met baked beans en hoender te maak.

Die vorige twee aande was dit duidelik dat die mans ’n gesonde aptyt het en kan doen met meer vullende geregte as dié wat Donna vir hulle voorgesit het. Die mans is al tuis toe is daar nog g’n teken van die vroue nie.

Ek skep later vir die mans op en kyk met genoegdoening hoe hulle aan die kos smul. Soos gewoonlik loop Dawid net ná ete en Charl verdwyn kamer toe.

Russel kruip deur die heining na wie weet waar en Shaun lê op die bank en kyk TV.

Ek besluit om die skottelgoed te was en tot my verbasing sluit Shaun hom later by my aan en tel die afdroogdoek op. Terwyl hy afdroog, begin hy my nuuskierig uitvra en ek omseil ongemaklik sy vrae met vae antwoorde.

Ek het geen behoefte om oor myself te praat nie. Ek swaai die geselskap om sodat ek meer van húlle te wete kan kom.

Ek kan in sy oë sien dat hy weet ek doen dit doelbewus, maar wat is daar wat ek hom kan vertel? Dat ek weggeloop het van my ouerhuis? Dat ek van 16-jarige leeftyd vasgevang was in ’n verhouding met ’n getroude man? ’n Man wat my só mishandel het dat ek byna by die dood omgedraai het en van hom moes wegvlug?

Ek dink nie dis iets wat ek met hierdie pragtige jong man sal wil deel nie.

Hy vertel my van Dawid, wat al vier jaar met Pam uitgaan en ’n tweejarige seuntjie het.

Charl, wat die stil een is, maar blykbaar was dit nie altyd so nie. Sy meisie met wie hy van skooldae af uitgegaan het, het ’n jaar tevore voor ’n trein ingespring. Ses maande swanger en verslaaf aan tik.

Charl het geweier dat sy dit tydens haar swangerskap rook en blykbaar het dit haar daartoe gedryf.

Sedertdien verkies hy maar om so op sy eie aan te gaan.

Russel is ’n haan onder die henne. Sy verloofde het hom drie jaar gelede gelos nadat sy hom met Mandy gevang het en van toe is daar ’n los-en-vas-verhouding tussen dié twee. Behalwe Mandy sien hy egter steeds sy eks-verloofde en nog vele ander meisies.

Shaun is nog besig om te vertel toe Russel terugkom en hom na buite roep.

Ek hang die vadoeke op en gaan sluit my by hulle aan waar hulle onder die afdak sit met ses biere.

Ons het skaars gaan sit toe ’n onaardse rumoer buite losbars.

Ons vlieg gelyk op en steek verbaas in die deur vas.

’n Stormdronk Mandy en Donna kom bymekaar ingehaak, al singend en slingerend die paadjie af gestrompel. Hulle vorder ’n paar treë en slaan neer toe Mandy se knieë skielik onder haar knak.

Hulle kom wonderbaarlik weer regop, maar vorder net twee treë voordat hulle op hul rûe in die blombedding beland waar die laaste drie verlepte jakobregops platval en kragteloos bly lê.

Russel en Shaun kom tot hul redding, dra die poepdronk vroue kamer toe en gooi albei op Donna se bed neer.

Mandy is sommer verby dronk.

Ek trek die kamerdeur toe en drink eers die bier saam met die mans klaar voordat ek gaan inkruip. Dat Russel nie vanaand kans sien om by Mandy te slaap nie, is verstaanbaar, dink ek voordat ek aan die slaap word.

Ek is weer vroeg op om kos in te pak. Shaun sluit hom by my aan. Hy maak vir ons koffie wat ons buite in die vars oggendlug drink terwyl ons ’n sigaret rook.

Ek vind ek kan gemaklik met Shaun gesels. Ek sal egter versigtig moet wees. Hy’s nie net aantreklik nie, hy’s ook baie volwasse in sy optrede vir ’n ou van 23.

Die feit dat ek hom nie ken nie, is genoeg om gevaarligte te laat flikker. Ek wil nie moeilikheid van watter aard ook al optel nie en sal my afstand moet hou. Vir solank as wat ek hier is, sal ek net ’n gewone kuiergas bly en klaar.

Hy gesels oor die sekuriteits­firma waar hy ná matriek begin werk het en hoe hy nagskof haat.

Russel, wat reeds 10 jaar daar is, het die werk vir hom gekry.

Die komende naweek is juis hul af-naweek en Maandagaand begin hul nagskof-week. Ek luister belangstellend en is teleurgesteld toe dit tyd is dat hy moet gaan.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters