18 dae gelede
Daar’s dalk net ’n groot deurbraak in die ondersoek
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Mense en hul Dinge” is CHRISTO MEYER se nuutste skryfstuk. Geniet nou gerus hoofstuk 7.

ONS verlaat Charmaine se woning met meer vrae as die oomblik toe ons daar opgedaag het. Dit voel vir my ons het in werklikheid net ons tyd kom mors.

Ek was nie van plan om te loop alvorens ek tevrede was ons het ál die antwoorde waarvoor ons gekom het nie, maar het nie veel van ’n keuse gehad nie.

Charmaine het ons duidelik laat verstaan ons is nie meer welkom nie. Sommer net so, asof ons inbraak gemaak het op haar privaatheid.

Ek wou bly sit, maar toe Mercia met haar kop na die voordeur beduie, het ek teen my sin opgestaan.

Hoekom het Charmaine haar so vererg toe Ricky Grootboom se naam ter sprake kom?

Hy is immers haar man se broer. Wat kon hy gedoen het wat haar so omgekrap het?

Dit moet iets onvergeefliks wees, want waarom mag sy naam nie voor haar genoem word nie?

Ek het so gehoop as ons by daardie huis uitstap, sou ons ten minste ’n idee hê waar om na Shireen Grootboom te begin soek.

Die kind kon tog nie net spoorloos verdwyn het nie.

Iemand moes iets gesien het.

Charmaine het nie eens vir ons die name en adresse van Shireen se beste vriende gegee soos wat ek verwag het nie. Dis altyd ’n goeie plek om te begin as jy na iemand soek.

Dalk, net dalk, het sy een van haar vriendinne in haar vertroue geneem en iets laat glip wat kan help in die ondersoek. Elke bietjie help, hoe gering dit ook mag lyk.

Miskien moet ek weer by die skool ’n draai gaan maak; weer met die hoof gaan gesels. Charmaine het aanvanklik heeltemal te kalm voorgekom na my sin.

Is dit normaal vir ’n ouer om so op te tree? Sy hou vol haar dogter word aangehou deur mense wat ’n losprys wil eis. Hoe kan sy so seker daarvan wees?

Die kind kan enige plek wees.

Hoe langer daar getalm word om ’n vermiste persoon op te spoor, hoe skraler raak die kanse dat sy gevind sal word.

Baie mense verkeer onder die indruk dat speurders harteloos is en nie werklik omgee wat met ’n slagoffer gebeur nie, maar dis nie waar nie.

Ek het juis hierdie beroep gekies omdat ek ’n verskil in die gemeenskap wil maak.

Dit is nie altyd maklik nie, maar ek probeer my bes.

Ek onthou nie wanneer laas ’n ondersoek my so verward en on­seker laat voel het nie. Dit frustreer my so dat ek lus is om ’n duik in die kar te skop.

Hoekom is dit so ’n gesukkel om by die waarheid uit te kom?

Ek en Mercia het hierheen gekom in die hoop dat Charmaine meer lig op haar dogter se verdwyning kan werp en ons dalk kan help om op die spoor van die ontvoerders te kom, maar ons is nie ’n enkele tree nader aan ’n deurbraak nie.

Daar is so baie wat ek nog wil weet, so baie dinge wat nie sin maak nie. Charmaine se uitbarsting ’n oomblik gelede sit my gedagtes op loop.

Die noem van Ricky se naam het haar erg ontstel. Ek kon dit duidelik op haar gesig sien.

Ek sal graag wil weet wat hy aan haar gedoen het, maar dit lyk nie asof sy bereid is om daaroor te praat nie.

“Ons sal Ricky moet begin dophou sonder dat hy iets vermoed,” stel Mercia voor.

“Hier is heeltemal te veel los stukke in dié legkaart. Maar kom ons gaan drink eers iewers ordent­like koffie.

“Daai suikerwater van Charmaine het beslis ’n naar kol op my maag gebring.”

“Ek stem. Ek wil definitief deur die loop van die dag probeer om juffrou Taylor in die hande te kry.

“Ek kry net die gevoel ons gaan verras wees as ons die waarheid hoor oor daardie middag saam met Ricky in haar klaskamer.”

“Dis nou as sy bereid is om te praat en jou nie ook wegjaag soos Charmaine gedoen het nie.”

“Dit kan seker nie skade doen om te probeer nie. So maklik gaan ek nie tou opgooi nie.”

Terug by die Stelrivier-polisiestasie is kolonel Mbeki briesend.

Hy trap my en Mercia van ’n kant af uit.

“Van wanneer af teister julle ’n vrou wat reeds getraumatiseerd is oor die verdwyning van haar dogter?

Julle, van alle mense, behoort van beter te weet.”

“Teister?” vra Mercia geskok. “Ons het niks van die aard gedoen nie, Kolonel. Ons sal mos nooit so iets ...”

“So, jy wil vir my sê Charmaine Grootboom lieg?! Het sy of het sy nie vir julle gevra om liewer haar huis te verlaat nie?!

“Julle het die arme vrou so ontstel dat sy julle nooit weer naby haar huis wil sien nie!”

Vraend gluur hy ons aan.

Ek verstaan dit nie. Wat het Charmaine dan alles vir die kolonel gesê?

Ek het hom lanklaas so kwaad gesien. En om te beweer ons het haar geteister, is nie naby aan die waarheid nie.

“Nes ek gedink het! Julle het nou niks vir julself te sê nie, maar julle kan so maklik ’n onskuldige vrou met ongemaklike vrae gaan sit en peper. Ek is diep teleurgesteld in julle twee.”

As daar nou een iets in die lewe is wat ek haat, is dit om vals beskuldig te word.

Nie ek of Mercia het Charmaine Grootboom geteister nie. Dis tog nie asof ons haar as ’n moontlike verdagte beskou nie.

Dis ons werk om lastige vrae te stel. Hoe anders moet ons agter die kap van die byl probeer kom?

Ek wil eerder nie met die kolonel argumenteer nie, veral nie as hy so omgekrap is nie. In sulke tye kan ’n mens so maklik iets kwytraak wat jy nie moet nie.

Ek besluit om klein te speel en is op die punt om verskoning te vra toe die deur oopbars.

’n Ent van ons af staan ’n bleek konstabel Lourens. Hy lyk soos iemand wat ’n spook gesien het.

“Wat is dit, Lourens? Kan jy nie sien ek is besig nie? Net omdat ek ’n open door policy het, beteken dit nie jy kan tydig en ontydig hier ingewals kom nie.”

“Jammer, Kolonel, maar ek het gedink Kolonel sal die volgende wil weet ...”

“Praat, Lourens! Wat is dit wat ek moet weet?! Ek het nie die hele dag tyd nie, man!”

“Kolonel, ons het sopas ’n oproep van ’n security company ontvang.

“Ja?! En?!” blaf kolonel Mbeki.

“Hulle was op patrollie toe hulle die lyk van ’n meisie naby die Stelrivier-treinstasie gevind het.

“Die beskrywing is baie na aan dié van daai vermiste Grootboomkind.

“Twee van ons voertuie is nou daarheen ontplooi.”

Kolonel Mbeki se oë spuug vuur toe hy in my en Mercia se rigting kyk.

“Toe! Wat sit julle nog?! Maak dat julle op die toneel kom!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters