22 dae gelede
Daar vorm ’n hegte band tussen Lenie en Jessica
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die Verskilmaker” is Joanita Richter se eerste Sonnie-skryfstuk. Lees gerus nou die derde hoofstuk!

SEDERT die oomblik dat Jessica en Lenie mekaar omhels het, was dit asof daar oornag ’n konneksie gevorm het.

Hulle het mekaar gereeld soggens gekry. Jessica neem dan ’n waslappie, water en seep saam sodat Lenie haar ordentlik kon was. ’n Hegte band het tussen hulle begin vorm.

Eendag, uit die bloute, vra Lenie vir haar of sy haar sal inneem as haar eie. Trane wou opskiet, maar Jessica moes dit vinnig onderdruk sodat Lenie nie kon sien nie.

“Lenie, dis nie ’n ligtelike besluit nie en daar is baie dinge verbonde aan so ’n groot besluit. Mag ek vra waar jou ouers is, Lenie?”

Lenie praat vir die eerste keer oor haar lewe en dit is duidelik dat verwerping deel is van Lenie se lewe.

Sy vertel van haar pa wat daar in die ryk area woon.

“My pa het ons net so gelos. Hy het gesê ons moet van hom vergeet. My ma het mos baie slegte goed gerook en my pa kon dit nie meer hanteer nie. Ek het een keer geryloop tot daar en my pa het in my gesig gesê dat hy my nie ken nie.

“Ek kon die heerlike kos ruik en het gehoor hoe sy ander kinders in die swembad baljaar. My pa het die sekuriteitswagte ontbied en ek is soos ’n hond weggejaag.

“Ek onthou van die kinders het my uitgejou en gevra of ek dan nie regte klere het nie. Ek het so vuil en lelik gevoel. Daardie dag het ek besef dat daar geen plek vir my in my pa se lewe was nie. Ek het geloop en huil en vir myself gesê dat ek hom nooit weer sal gaan pla nie.”

“Lenie, daar is mense wat kan help om jou ma en suster weer van die rook af te kry,” sê Jessica.

“Asseblief, moenie die welsyn bel nie. Hulle gaan ons wegvat daar. Asseblief, Jessica, ek vra mooi,” soebat Lenie.

“Lenie, oukei, vir nou sal ek niks sê nie,” sê Jessica. Diep in haar binneste besef sy dat sy tog in ’n latere stadium die maatskaplike werker sal moet betrek.

TERUG by die huis besluit Jessica om met haar ouers oor Lenie te gesels.

“Dadda en Mammie, Lenie wat hier anderkant bly, kry erg swaar. Is daar nie iets wat ons kan doen nie, asseblief?”

“My kind, dis nie altyd wys om by ander mense se sake in te meng nie en jy is ook nie so gesond nie,” sê haar pa.

“Ons sal kyk of ons iets kan doen, maar ons kan nie beloftes maak nie.”

Jessica sluit later by die sopkombuis in hul area aan. Sy het uiteindelik die dame by die betrokke projek oortuig om ook op sekere dae by die grondpad te gaan staan.

Teleurstelling en moegheid kan op die mense se gesigte gesien word terwyl hulle aangestap kom, seker van al die dinge wat hulle elke dag moet deurmaak. Glimlagte kan ook duidelik gesien word. Dis nie net kinders wat gekom het nie, daar is selfs ’n paar grootmense ook by.

Jessica se gesig helder op toe sy vir Lenie ook sien aankom. Daar is ’n lang skraal vrou by haar en ’n seuntjie en meisietjie. Sy wonder wie dit kan wees.

Lenie hardloop in haar rigting om haar te groet. Sy wys toe vir Jessica die vrou is haar ma en die ander twee haar boetie en sussie. Die vrou skree lelik en hard vir Lenie dat sy moet ophou staan en gesels en terugkom en in die ry staan.

“Lenie, onthou ons moet nog na oom Daan toe gaan en jy weet hy hou nie van wag nie,” sê haar ma.

Jessica wonder wie sou hierdie oom Daan dan tog wees. Daar is egter nie tyd om nou daaraan te dink nie. Die mense se magies moet eers gevul word.

“Totsiens, Jessica, en dankie vir alles,” sê Lenie voordat hulle vinnig huiswaarts beweeg.

“Poplap, hoe was dit toe? Het daar darem mense opgedaag van die grondpad?” vra haar ma.

“Mammie, asseblief, moenie so na hulle verwys nie. Hulle is gewone mense wat elk ’n uniekheid het. Laat ons asseblief nie neerkyk op hulle nie.”

Jessica se ma kry so skaam en verseker haar hulle sal nie weer so praat van daardie mense nie.

Daar is vanaand weer ’n rustige atmosfeer en Jessica voel tevrede oor hoe die dag verloop het.

“Mammie en Dadda, mag ek een keer vir Lenie oornooi om hier te kom kuier?”

Haar ouers is eers stil en later stem hulle in.

“Jippie! Dankie, Mammie en Dadda!”

Die volgende dag lyk Lenie so anders. Iets is net nie pluis nie. Sy loop snaaks asof sy in pyn is.

“Môre, Lenie, voel jy nie lekker nie? Ek kan vir jou medisyne gaan koop as jy seer het.”

Lenie bars uit in trane en noem aan Jessica dat oom Daan haar verkrag het.

“Wat! Lenie, hoe en waar het dit gebeur?” vra Jessica.

“Oom Daan doen dit gereeld. Hy is my ma se vriend. Ek moet einde van elke maand by oom Daan se huis gaan slaap en dan betaal hy my ma daarvoor.

“Hulle sê as ek vir die polisie gaan sê, dan gaan hulle my doodmaak. Sy twee groot seuns kry ook elkeen ’n beurt met my.”

Jessica voel meteens hoe woede binne in haar begin broei. Sy sal dit moet rapporteer. Dit is ’n baie ernstige geval.

“Ai, Lenie, ek sal my bes probeer om jou te help. Kom saam met my huis toe, dan kan ons daar verder gesels.”

“Mammie en Dadda, kan ek asseblief privaat gesels met julle?”

“Lenie, jy kan solank televisie kyk,” sê sy.

Doodse stilte heers in hul woning nadat Jessica haar ouers vertel het van Lenie se bewerings.

“Ons sal haar by ’n dokter moet kry om dit te bevestig en dan die polisie ook inroep. Dit kan ongelukkig nie anders nie, poplap.

“Sulke skurke en monsters mag nie daarmee wegkom nie.”

Die ondersoek duur lank by die hospitaal. Die dokter lyk erg bekommerd toe hy die ontvangsdame vra om die polisie te laat inkom.

Jessica en haar ouers wou nog vra wat sy bevindings was, maar het maar hul beurt afgewag.

Byna onmiddellik daag twee konstabels daar op. Hulle loop af in die gang en ná ’n hele ruk kom hulle weer by die dokter se deur uit.

Dit was duidelik dat hulle aspris oogkontak met Jessica en haar ouers vermy het toe hulle in die rigting van hul voertuig beweeg.

Lenie kom sluit haar uiteindelik by hulle aan ná ’n lang gewag.

Die dokter noem aan hulle dat die pasiënt se regte beskerm moet word.

Eers later die aand, toe die einste konstabels aan hul deur klop en aan hulle noem dat hulle die verkragting van Lenie ondersoek, toe sink dit in dat Lenie tog die waarheid gepraat het.

Hulle beantwoord al die vrae na die beste van hul vermoë.

Die volgende dag kom deel Lenie die nuus met hulle dat oom Daan die vorige dag by sy werk gearresteer is.

Jessica voel so verlig dat die vent ten minste agter tralies sit.

“Lenie, ek sal altyd agter jou staan. Jy hoef nooit weer bang te wees nie.

“My ouers het gesê hulle gaan probeer om toesig oor julle te kry.”

) Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters