24 dae gelede
Daai klag sal nie stick nie, glo die cocky dwelmbaas
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die verhaal “Sondes van ’n Drug Dealer” is CHRISTO MEYER se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE kort, vet Kenneth McKenzie kom mompel-mompel uit die beskuldigdebank gestap.

Dit lyk asof sy liggaam nog seer is van die vorige nag se rondrol op ’n lamlendige bed. Sy swaar lyf het ’n keer of wat byna met die vloer kennis gemaak.

Die sel waarin hy aangehou is, was nie net slordig en onnet nie, dit het ook na ou urine gestink. Hy was lank laas in sy lewe so na aan opgooi. Kenneth het amper niks geslaap nie. Hy het kort-kort ’n kokkerot oor sy gesig gevoel beweeg.

Hy is nie sulke dinge gewoond nie. Sy weelderige woning is so silwerskoon dat besoekers van die vloer af kan eet.

Boonop het hy gebibber van die koue. Dit het hom so die hel in gemaak, hy het in vreemde tale begin vloek. Hy sal dringend ’n vergadering met die stasiebevelvoerder moet reël. ’n Gesiene man soos hy kan onmoontlik soos ’n stuk rubbish behandel word. Word hierdie tronk dan nie behoorlik skoongemaak nie? Of is hy aspris in daardie spesifieke sel toegesluit?

Hy sal nogtans ’n woordjie met brig. Vlekhi Gwele wil wissel. Só kan dit nie aangaan nie. Hy is van sy menswaardigheid gestroop.

Kenneth se voorkop is natgesweet en hy haal swaar asem. Hy steur hom nie aan die talle oë wat hom aangluur nie. Hy wil nou net by die huis kom.

Dit wys wel nie op sy ronde gesig nie, maar in sy binneste is blydskap. Hy is vry om die landdroshof te verlaat nadat borgtog van R1 500 aan hom toegestaan is. Vir ’n man in sy posisie is daardie bedrag natuurlik kleingeld.

Kenneth McKenzie is ’n dwelmhandelaar wat sakegeleenthede met albei hande aangryp. Met die onlangse verbod op sigarette het hy groot geld gemaak.

Hy draai sy kop links en gee ’n onbekende man wat per ongeluk aan hom stamp ’n vuil kyk. “Kan djy nie kyk wa’ djy loepie?” vra hy. Die man skrik so groot dat hy hom dadelik uit die voete maak.

“Ja, march vannie yard af voorlat ek jou d*nn*r. Djy sê nie ee’s sorry nie.”

Kenneth gee nie om wat mense van hom dink nie; hy glo hy is untouchable. Baie van die polisie­lede hier in Derderivier is op sy payroll. Hy kan doen net wat hy wil en daarmee wegkom.

Dis net daai verdomde speurder Grootboom wat so ’n pyn in die gat is. Hy probeer altyd alles volgens die boek doen. Was dit regtig nodig dat hy wat Kenneth is gister in boeie in ’n vangwa gelaai word? Dít nogal ten aanskoue van sy vrou en kinders.

En daai verdomde Sharon Koordom. Vir wat het sy ’n klag van verkragting teen hom gaan lê?

Kon sy nie net ’n afspraak met hom gereël het dat hulle die saak kon uitpraat nie? Sy weet dan wat sy nommer is.

Tot nou werk dinge nog redelik volgens plan, al moes hy gisteraand in ’n aanhoudingsel deurbring. Dit was weliswaar ’n onaangename ervaring, maar ook nie heeltemal so erg nie. Hy kon darem daarin slaag om twee konstabels om te praat om vir hom ’n gatsby en 2F Coke te gaan koop, wat hy natuurlik alleen kafgedraf het. Vir afgewaterde tronkkos het hy nie kans gesien nie.

Kenneth is van kleins af ’n giemba. Sy ma het altyd gesê sy oë is groter as sy maag. As sy broers nie hul borde kon leegmaak nie, was Kenneth maar alte gewillig om hulle uit te help. Sy ma het gereeld met hom geraas, maar sy pa het altyd sy kant gekies. “Lossie klong, Magriet, hy het net ’n goeie appetite.”

“Appetite se gat. Daai kind is uitgevriet en kla’. Vir wat cover djy so op vir hom?”

Op skool was Kenneth nie juis een van die gewildste leerders nie.

Hy wou graag rugby speel, maar met sy oorgewig liggaam het die onderwysers gevoel hy moet liewer langs die veld staan en die spelers aanmoedig. Hy was ook baie lomp.

Tog het hy altyd geweet hy sou eendag sy pa se dwelmbesigheid oorneem. Hy het goed geweet sy pa trek hom voor.

Nou kry hy enige iets met geld reg; hy kan enige iemand omkoop.

Elke mens het ’n prys. Dít het hy nou weer bewys. Geld wat stom is … Min mense weet hy en landdros Johnson is huisvriende en dat Johnson ’n dobbelprobleem het. Hy is alte gretig om Johnson se dobbelgewoonte te voed in ruil vir sy stilswye en ’n favour dan en wan.

Ja, hy het seks gehad met ’n 18-jarige matriekmeisie wat agterna ’n klag van verkragting teen hom gelê het, maar hy het hom nooit op haar afgedwing nie.

Hy sal ’n manier moet vind om uit hierdie gemors te kom.

Óf hy sal Sharon moet betaal om die saak terug te trek óf hy sal in iemand se oor moet fluister om die dossier te laat verdwyn. Hoe dit ook al sy, hy sien nie kans vir ’n lang, uitgerekte hofsaak nie.

Toe Kenneth buite kom, pyl fotograwe en joernaliste soos roofdiere op hom af. Hulle bestorm hom uit alle rigtings en gee hom nie kans om by die voertuig aan die oorkant van die pad uit te kom nie.

Kenneth is uitasem, maar op die oog af lyk hy kalm aan die sy van Ronald Jakobs, sy uitgeslape regsverteenwoordiger.

Nes McKenzie het Ronald Jakobs nog nooit ooghare vir die media gehad nie. Hy beduie woes met sy hande dat hulle uit sy kliënt se pad moet bly.

Jakobs het bekendheid verwerf vir sy vurige humeur en woede-uitbarstings in die hof.

Kameras flits en verslaggewers van verskeie publikasies peper McKenzie met lastige vrae.

“Geen kommentaar, geen kommentaar,” sak Ronald Jakobs af. Hy en McKenzie beur hulle weg tussen die mediamense oop.

Op ’n afstand hou ’n man met ’n donkerbril Kenneth McKenzie dop. Hy sien hoe die dwelmbaas in Ronald Jakobs se Toyota Fortuner klim en hoe hulle haastig wegtrek. Hy staar die voertuig agterna totdat dit nie meer sigbaar is nie. Dan steek hy sy hand in sy hempsak, haal ’n pakkie sigarette uit en steek een aan.

Terwyl hy rook, voel hy hoe die woede in hom opstoot. Sy bloed kook so erg dat hy liggies bewe. Net die gedagte daaraan …

Hierdie keer het Kenneth McKenzie sy hand oorspeel. Iets sal aan die saak gedoen moet word, anders word alles onder die mat ingevee.

Hy kan dit nie so los nie. Hy weet maar alte goed hoe manipulerend en invloedryk McKenzie kan wees. Hy het eerstehandse kennis van hoe die man operate.

Dis tyd om so ’n bietjie by McKenzie te gaan inloer, al is hy die laaste persoon wat McKenzie verwag om te sien.

Dit sal die verrassing soveel aangenamer maak. Hy hoop net nie McKenzie kry ’n hartaanval wanneer hy in lewende lywe voor hom staan nie. Hy het genoeg tyd gehad om alles te oordink en ’n plan van aksie uit te werk.

Hy hou van alles, maar hy haat dit as ’n getroude man van ’n tienermeisie advantage vat.

Dis tyd om Kenneth McKenzie ’n les te gaan leer.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters