5 dae gelede
Daai dag gebeur iets vreemds op Stone se balkon
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag is dit hoofstuk 3 van CEDRIC AFRICA se Bloedgeld”. Geniet die leesstof!

STONE het nog altyd mate­lose bewondering gekoester vir sy senior kollega kapt. Solly de Beer, al was hy ’n bietjie van ’n windgat.

Al het hulle ’n goeie werkverhouding gehad, het hulle nooit in dieselfde sosiale kringe beweeg nie.

Die Beer, soos almal hom in die dorp genoem het, was bekend daarvoor dat hy weekends geld in die taverns rondgooi.

“Ouens, het julle gesien met watse cherrie Die Beer weer die weekend da’ by die club weg is?” moes Stone tot vervelens toe elke Maandag­oggend aanhoor by ’n groepie troepe wat Die Beer weekends soos ’n skaduwee gevolg het.

“Die bliksem het ryk geërf,” het ’n kollega een aand so terloops opgemerk toe hy probeer uitvis waar die kapteintjie aan al sy rykdom kom.

Die Beer het dan oornag in ’n tycoon verander.

Hy het sy armsalige blyplek op die basis leeggemaak en een van die duurste karre op die mark aangeskaf.

Dit was natuurlik net nog ’n hoorsê-storie; niemand in die Weskusdorpie het hom geken nie.

Hy het sowat ’n jaar tevore daar aangekom nadat hy van die Noord-Kaap soontoe verplaas is.

Niemand het veel notisie van hom geneem nie.

Hy was toe maar net nog ’n soldaat wat gereeld soggens die troepe moes vra om sy skorokoro aan die brand te stoot. Dit was egter nie lank nie of sy armsalige kerkmuis-leefstyl het verander in een van luuksheid en aansien – een waarvan sy offisiere maar net kon droom.

Die skindertonge in die dorp en op die basis was natuurlik gou los.

Gerugte het die ronde gedoen dat kapt. Solly de Beer met ongeslypte diamante handel dryf.

Stone het daardie gerugte afgemaak as pure jaloesie.

“Mag ’n man dan nie in hierdie plek met jou geld maak soos jy goeddink nie? Ek bedoel, die ou het geen afhanklikes nie, so wat moet hy met sy geld maak?” het Stone Die Beer een aand in dié se afwesigheid verdedig toe een van hul kollegas ’n opmerking maak oor Die Beer se uitspattige leefstyl. DIT was soos gewoonlik ’n rustige Saterdagmiddag by die verloofde Stenekamp-paartjie se woonstel. Hy wat Stone is, kon ure lank net na die see staar.

Die gedruis van branders wanneer dit teen die rotse breek, was vir hom die beste terapie ná ’n lang week. En dan later die middag natuurlik die gebruiklike vleisie oor die kole, op die balkon.

Sharon was juis in die kombuis met ’n slaaitjie besig toe haar kenmerkende klokhelder stem skielik uit die kombuis opklink. “Skat, hier’s iemand vir jou.”

Groot was sy verbasing toe hy omkyk en kapt. Solly se Beer met sy groot geboude liggaam agter Sharon se skraal lyfie sien uitstaan.

Sonder om te wag dat Stone hom na die balkon nooi, het hy met daai selfversekerde doelgerigtheid deurgestap en ewe ongeërg ’n bier uit Stone se cooler box gehaal.

Stone het die voorbarige kaptein sprakeloos aangestaar terwyl dié met ’n eentonige stem sy teleurstelling oor die Bokke se swak vertoning uitgespreek het.

Sharon het toe reeds ’n verskonende glimlaggie opgetower en die skuifdeur agter haar toegetrek.

Die Beer het eers nadat hy die yskoue bier gulsig in sy keel afgegooi het, die groot, verstaanbare on­sekerheid op Stone se gesig gesien.

As hierdie kaptein nie op die een of ander dwelm is nie, wil ek my naam nie hê nie, het Stone verbouereerd gedink.

“Hel, Stone, ’n man steek mos nie so ’n pragtige vrou in jou woonstel weg nie,” het hy skielik gesê terwyl hy die bierskuim met die agterkant van sy hand van sy mond afgevee het. “Het sy dalk ’n sussie?”

Die altyd nederige stafsers. Stone Stenekamp het hom ’n oomblik met onverbloemde minagting aangestaar. Sharon het haar gelowige pa sowat ’n jaar tevore aan die dood afgestaan ná ’n verlore stryd teen kanker.

“Stone, ek is op pad om my Here te ontmoet. Jy is ’n goeie mens, daarom is ek nie bekommerd oor Sharon nie. Maar jy moet asseblief tog ook na Salomie omsien.”

Dít was die ou man se woorde voordat hy sy laaste asem uitgeblaas het en met ’n tevrede glimlag die ewigheid in is.

Salomie is Sharon se rebelse jonger sussie, en hy sal tot elke prys die belofte nakom wat hy aan haar pa gemaak het.

Ten spyte van die groot versoeking om dié reus van ’n kaptein oor die balkon te gooi, bly hy kalm.

“Kaptein, ek is nie seker wat die rede vir jou besoek is nie, maar dis ongetwyfeld nie om te kom kyk hoe my verloofde lyk en te hoor of sy ’n sussie het nie. Laasgenoemde het per slot van rekening niks met jou te doen nie.”

Kapt. De Beer het gegryns­lag. “Nee wat, ou Stone, ek het maar net kom kyk wat jy naweke met jouself aanvang. Miskien was dit ’n bietjie voorbarig van my om so ongenooid by jou pozzy op te daag. Maar nou ja, hier is ek nou,” het hy skielik met weemoed gesê.

“Ek moet bieg, Stone­ ... Ek het eintlik kom kyk wat jy het wat ek nie het nie.”

Stone het sy wenkbroue effens verward gelig, duidelik on­seker oor die rigting waarin die gesprek gaan. Hy het geduldig gewag dat Die Beer voortgaan.

“Ons werk nou reeds meer as ’n jaar saam, maar eintlik weet ek niks van jou nie, behalwe dat jy ’n goeie soldaat is en dat die ouens daar bo met groot lof van jou praat.”

Sy vertelling van sy eensame grootwordjare sonder vriende was by tye onsamehangend, maar Stone het aandagtig geluister. “My outoppie het altyd gesê vriendskap kan nie gekoop word nie, maar toe los hy vir my die moerse klomp geld.

“En toe – wat doen Solly die d**s? Hy koop wragtig ’n klompie vrinne wat hom net uitvreet.

“Ek soek eintlik ’n pel soos jy, wat nie net my vriend sal wees oor ek ’n klompie geld het nie.”

Hy het sy amper smekende blik van Stone afgehaal en toe weemoedig oor die see gestaar.

Stone het meteens ’n diepe bejammering vir die joviale reus gekry. Iemand het eenkeer gesê kennis is om te weet ’n tamatie is eintlik ’n vrug, maar wysheid is om te weet om dit nie in vrugteslaai te sit nie.

Hy het vroeg in sy lewe geleer ’n vriend kan net so gevaarlik wees soos die soen van ’n giftige slang, maar die bedoelinge van hierdie ou wat nou hier voor hom is, is opreg en sonder voorgee.

Sharon het haar intussen gaan vars maak. Die reuk van haar parfuum het haar teenwoordigheid aangekondig hier waar ’n nuwe vriendskap pas gebore is.

Soos altyd het haar kleredrag ook nie teleurgestel nie.

Stone se blik het besitlik geluier oor haar stywe jeans en noupassende bloes, wat haar sensuele slankheid beklemtoon het.

“Ek neem aan kapt. De Beer gaan die middag saam met ons geniet?” het sy met ’n tergende glimlag gevra terwyl sy die vleis en slaai voor Stone neergesit het.

  • Daar was iets om te vier – die begin van ’n nuwe vriendskap. Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters