17 dae gelede
Conita dink sy kry haar break met modelwerk
 ~ 

Hallo, Sonlanders!

Ons gaan vandag voort met CHRISTO MEYER se splinternuwe verhaal, “Wimpie van die Onderdorp”. Geniet nou die derde hoofstuk!

DIS jare later. Driena leef nog, maar nie Neels nie. Sy werk steeds in die klerefabriek.

Neels het selfmoord gepleeg, maar sy naam word nog gereeld in die Onderdorp genoem.

Baie mense probeer verstaan hoe sy kop gewerk het, maar Neels Braaihoudt is graf toe met ’n hele klomp onbeantwoorde vrae.

Dinge in sy huwelik was nie meer aangenaam genoeg na sy sin nie en toe begin hy die kat in die donker knyp.

Hy’t ’n verhouding aangeknoop met gewillige Sandra, ’n vrou met ’n reputasie. Sy was lank gelede ’n goeie vriendin van Driena.

Asof Neels nie uit sy foute geleer het nie, het hy sowaar vir Sandra swanger gemaak. Altans, dis wat sy beweer het. Dit kon natuurlik enige ander man se kind gewees het, want Sandra was van die bedrywige soort.

Toe sy Neels hieroor inlig, antwoord hy kalm: “Dis goeie nuus. Dalk is dit ’n bedekte seën en my kans om uiteindelik van Driena ontslae te wees. Ek het genoeg gehad van ’n liefdelose huwelik.”

Neels stel voor Sandra pak ’n piekniekmandjie en saam is hulle af rivier toe. Daar gekom, gryp Neels vir Sandra aan haar hare en druk haar kop onder die water.

Sy het woes gespartel, maar Neels het nie gestop voordat sy bewegingloos was nie. Toe loop hy tot by ’n krans daar naby en val homself te pletter.

Twee tieners wat skelm wou gaan vry, het op Sandra se lyk afgekom en alarm gemaak. Op ’n manier was Driena bly Wimpie was nie meer daar nie. Sy was so verbitterd dat sy nie eens die begrafnis bygewoon het nie.

Wimpie se droom om akteur te word, is nooit bewaarheid nie. Hy speel wel toneel wanneer die situasie hom voordoen.

Hy put genot daaruit om mense om die bos te lei, hulle te laat glo hy is iemand wat hy nie werklik is nie. Die wêreld is vol mense wat alles vir soetkoek opeet. Desperate mense. Hulle is die mense op wie Wimpie hard en genadeloos toeslaan ...

Agterna kan hy nie anders as om uit te bars van die lag nie.

Sy ander droom het wel waar geword – om in beheer te wees van ’n situasie ...

NET toe Conita Wessels van die Onderdorp begin moedeloos raak oor wat die toekoms mag inhou, kry sy uit die bloute ’n bemoedigende boodskap op Facechat: “Jy het die gesig van ’n internasionale model. Ons sal jou graag op ons boeke wil hê.”

Conita is 18, pas klaar met skool, werkloos en onseker oor wat sy met haar lewe wil doen.

Geld vir verder studeer is daar nie en sy weier om soos baie van haar skoolmaats agter ’n kasregister in die een of ander kettingwinkel te sit. Sy glo sy kan beter doen as om net ’n cashier te wees.

Hierdie is die kans van ’n leeftyd, besef Conita. Sy durf dit nie deur haar vingers laat glip nie. Sy moet dit met albei hande aangryp.

“Dit klink belowend,” reply Conita dadelik. “Vertel my nog?”

“Ons wil jou so gou moontlik ontmoet om foto’s te neem en meer oor jou uit te vind,” kom die antwoord.

Conita se hart bons. In haar verbeelding kan sy al haar gesig op die voorblad van ’n modetydskrif sien. Haar vriendinne gaan so jaloers wees! Maar sy gaan vir eers niks vir iemand vertel nie.

Dit moet voorlopig ’n geheim bly. Nie eens haar ma mag hiervan weet nie. Almal gaan geskok wees as sy die nuus met hulle deel.

Conita het geen idee van wat op haar wag nie. As sy net geweet het waarvoor sy haar inlaat, sou sy nie so gretig gewees het om die vreemde vrou wat sy op Facechat leer ken het, in lewende lywe te ontmoet nie. Sy is beslis nie wie sy voorgee om te wees nie.

Is dit nodig dat die arme kind dit op die harde manier uitvind?

Haar kop is so vol muisneste, sy kan skaars reguit dink. Geld, roem en rykdom is ál wat sy op haar gedagtes het, want dít is wat die vrou haar beloof het – dié Nadine X, wat haar voordoen as ’n verteenwoordiger van ’n modelagentskap.

Dit is natuurlik nie haar ware identiteit nie. Sy het ’n goudgeel wortel voor Conita se neus rondgeswaai en haar als wat mooi is in die lewe belowe.

Een Woensdag 14:30 tap Conita water in die ketel. Toe die water kook, giet sy dit uit in ’n badjie. Sy tap koue water by, trek haar klere uit en begin was. Sy dink aan haar afspraak. Die afspraak wat alles gaan verander. Sy durf nie laat wees nie. ’n Kans soos dié kom net een maal in ’n leeftyd.

Met haar eerste salaris wil sy die huis groter bou en vir haar ma ’n geyser laat insit. Dit was nie altyd maklik nie, maar haar ma was nog altyd daar vir haar.

Conita het nooit haar pa geken nie. Haar ma, Katie Wessels, was nog altyd haar steunpilaar.

Skuins oorkant die ingang na die vulstasie, in die parkeergebied aan die stillerige kant van die nuwe winkelsentrum, wag Conita vir die vrou wat, so glo sy, haar hele lewe gaan verander. Die vrou wat beloof het sy gaan ál haar drome laat waar word en haar beroemd maak.

Hulle gesels saans tot laat op Facechat en met elke gesprek laat Nadine haar toekoms blinker en rooskleuriger lyk.

Vandag is die eerste keer dat sy Nadine gaan ontmoet. Dis iets waarna sy uitsien. Haar hare hang los oor haar skouers en sy is in ’n helderkleurige rokkie geklee. Oor haar linkerskouer hang ’n handsak met haar grimering in.

Conita is opgewonde en ietwat senuweeagtig. Gaan sy gemaklik wees om voor ’n vreemdeling te poseer? Sy hoop so, want dié is haar groot kans wat sy nie mag opmors nie. Dis die begin van haar droom om modelwerk te doen.

Hierdie sal haar eerste fotosessie wees. Dis iets waarvan sy sedert gr. 9 droom.

Sy kyk op haar horlosie. Dis 15:42. Waar draai die vrou? Sy’s laat. Sy sou 15:30 hier gewees het.

Sy het nie eens ’n nommer waar sy haar kan bel nie. Sy kommunikeer net met haar op Facechat omdat sy uit die staanspoor dinge professioneel wil hou.

Drie minute later kry Conita ’n boodskap: “Ek draai ’n bietjie vas, maar my bestuurder sal nou-nou daar wees om jou op te laai.”

Conita glimlag. Geleenthede soos dié kom nie elke dag nie.

Sy is onbewus van die man wat haar van agter ’n donkerbril dophou. ’n Man met bose gedagtes en fyn uitgewerkte planne.

Hy’t genoeg tyd gehad om te besluit wat hy met haar gaan doen. Hy neem ’n laaste trek van sy sigaret en gooi die toppertjie by sy motorvenster uit. Dis tyd vir aksie. Tyd om weer in beheer te wees van ’n situasie.

Die moordlus stoot in hom op. Stadig ry hy in Conita se rigting. Die man is niemand anders nie as Wimpie van die Onderdorp.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters