7 dae gelede
Clarence like die nuwe man, maar ander wonder...
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag begin hoofstuk 1 van Cedric Africa se Bloedgeld”. Geniet die leesstof!

DIT is nog vroegoggend toe sy geroeste motortjie voor die drankwinkel van die skilderagtige Klein-Karoo-dorpie stilhou.

Stone Stenekamp slaan die lamlendige deur hardhandig toe en trek die vars Karoo-lug tot diep in sy longe. Sy blik dwaal ’n oomblik na die klein polisiestasie verder af in die hoofstraat, dan glimlag hy weemoedig.

Sy oorle outoppie het mos altyd gesê: “In elke klein dorpie is ’n polisiestasie, ’n Pep Stores of Lewis, en natuurlik ’n drankwinkel.”

Wie sou kon raai dat hy eendag in so ’n verlate plekkie sou opeindig? Maar ja, die noodlot het hom hierheen gebring.

Hy drafstap doelgerig in die rigting van die drankwinkel.

Clarence, die drankwinkel-assistent, glimlag breed toe hy die deur vir besigheid oopmaak en sy eerste customer vir die dag vriendelik welkom heet.

Stone knikgroet net met ’n strak gesig. Hy’t nie tyd vir geselsies nie, net sy daaglikse dosis brannas en Coke, dan wil hy weg wees.

Clarence hoef nie te vra of hy kan help nie. Stone is al nes ’n huiskind hier en weet presies waar sy geliefkoosde dop op die rak staan.

Hy wag maar geduldig agter die counter.

Hier’ie stranger met sy harde gesêg – wat lyk asof hy vir die hele wêreld kwaad is, ma’ glad nie skaam is om tips te gee nie – is nou al ’n regular hier by hom.

“Hou ma’ die change,” is al wat hy sê toe Clarence sy kleingeld vir hom aangee.

Dis ook ál wat hy altyd sê vandat hy een oggend windverwaaid hier ingekom het.

Hy glimlag breed met sy spierwit tande en steek die kleingeld ongeërg in sy broeksak.

So ja, die stranger kan nog net ’n paar keer hier uitsteek, dan is die laitie se bike se geld vol.

Die ding dat hy alewig die anne’ klôgoed innie straat se gatte moet lek om ’n rytjie te kry is somme’ skone stront. Daai laitie gaan moerse surprised wees wanne’ ek een van die aande met sy bike by die huis kom, dink Clarence.

“Ek weet nie hoekom gee jy nog daai ongeskikte mannetjie se kleingeld vir hom nie. Hy sê dan nou al drie maande lank elke oggend dieselfde storie: ‘Hou ma’ die kleingeld.’ As ek my wee kô’ kry, dan koop jy die plek onner my gat uit.”

Clarence ruk soos hy skrik en kyk om na waar sy baas, Gert Mostert, agter hom in sy kantoordeur staan.

“Oubaas Mossie! Se gat, man. Jy kan ’n man ’n hartaanval gee.”

Oubaas Mossie glimlag ondeund. “Nee ... Ek bedoel nou ma’ ...”

“Bedoel nou ma’ se dinges. Oubaas Mossie weet mos teen dié tyd ek hou nie daarvan as jy soos ’n gees hier agter my kom staan nie.”

Clarence haal ’n slag diep asem en gaan verbouereerd voort.

“Ek dink oubaas Mossie is maar nog net suurgat oorlat daai stranger vir Oubaas so lekke op Oubaas se plek gesit het,” sê hy en glimlag effens.

Hy weet sy woorde is nou soos ’n sweepslag waaroor growwesout gesmeer is.

Oubaas Mossie laat sak sy kop weemoedig, dan skud hy sy kop nadenkend.

Hy sal daardie dag nie sommer vergeet nie. Daai hardegevreet-mannetjie met sy penregop lyfie. “Nogal vir my loop en vertel ‘mind your own business’. Dít nadat ek maar net wou vriendelik wees en ’n vreemdeling op onse mooi ou dorpie wou laat welkom voel.”

Clarence het reeds die weemoed op die oubaas se gesig gewaar.

“Oubaas Mossie, ek is nou nie ’n fortune teller soos my oorle ma en ouma Triena da’ anne’kant in Bossiesgif nie, maar daai outjie het ’n moerse hartseer wat hy saam met hom ronddra. Ek hoor hy gesels darem so ’n bietjie met Nellie, daar oêner by die deli. My suster sê ôk dit lyk of Nellie die hots het vir daai regop mannetjie met sy gespierde lyf. Hy bly glo in daai vervalle ou huisie doer oenerkant die Swartberge. Hulle sê dit spook ’n moerse hou daar, maar net in die wintermaande.”

Die oubaas frons met erns. Die plooie op sy sonverbrande voorkop maak ’n paar U-draaie.

“Die spookhuis”, noem die mense dit. Oorle Hans Koemoetjie se huisie. Groot Hans, het hy destyds hier in die kontrei geheet.

Die stomme Hans het mos vinnig agteruitgegaan ná daardie gruwelmoord op sy ou vroutjie.

Hy wat Gert Mostert is, onthou dit soos gister. Ella, ou Groot Hans se vroutjie, het een Sondagnag net soos ’n groot speld uit hul huisie verdwyn.

Die oubaas se frons verdiep. Hy was lid van die soekgeselskap wat in die bibberkoue tussen die onherbergsame klowe na Ella gesoek het.

Haar halfnaakte liggaam was reeds erg ontbind toe hulle ná ’n paar dae uiteindelik op haar afkom.

Die dorpsmense het toe mos later gegis daar was ’n liefdesdriehoek.

Ou Groot Hans het soos die graf geswyg en ’n kluisenaar geword.

Oubaas Mossie wonder meteens of daar ’n verwantskap tussen ou Groot Hans en daardie onbeskofte mannetjie kan wees.

Ná Groot Hans se dood het sy prokureur glo gesoek na die klong van ’n niggie van hom wat ’n soldaat êrens in die Kaap was.

Ou Hans het dit mos so bestel, dat die lappie grond aan hom bemaak word oorlat hy en Ella nooit klôgoed gehad het nie.

SY KARRETJIE kom met ’n ruk voor ant Dot se deli tot stilstand.

Watter reg het enige vrou om só pragtig te wees? wonder Stone toe hy die winkel binnegaan en Nellie tussen die rakke kry waar sy besig is om voorraad uit te pak.

Haar gesig verhelder toe sy bewus word van sy teenwoordigheid. Dan gee sy haar mooiste glimlag, die een wat sy die laaste paar maande elke oggend voor die spieël practise.

Hierdie meisiekind kan ’n man van sy kop af maak, dink Stone toe sy voor hom kom staan. Haar nabyheid gee hom ’n vreemde sensasie, iets wat hy met baie min ander dinge kan vergelyk.

“Gaan jy die gewone vat, Stone?” vra sy ongeërg, bewus van sy intense blik op haar. Sy babbel onophoudelik terwyl hy na die hoofopskrifte van die koerante staar.

“Daai’s sad, nè?”

Stone kyk verward op. Nellie staan agter die toonbank, sy daaglikse bestelling van brood, baked beans­, bacon, sigarette en eiers reeds ingepak.

Hy besef sy verwys na een van die opskrifte: “Bendegeweld op die Vlakte – dwaalkoeël knip negejarige se lewe kort.”

“Ek bedoel, kan hulle nie na ’n bos toe gaan en mekaar daar loop uitroei nie? Dit gaan alles oor daai gemors, tik. Daai arme meisietjie het in hul jaart gespeel. Dis so onnodig, maar die drug merchants worry nie. Hulle gee net die opdragte en dan moet onse onskuldige kinners met hul lewe boet.”

Hy voel hoe die skuldgevoel hom beetpak. Die klem in haar laaste woorde het hom nie ontgaan nie.

Sy gedagtes is meteens in ’n warboel. Hier moet hy wegkom.

Stone betaal vinnig vir sy aankope en verlaat die winkel sonder om te groet. ’n Verslae Nellie staar hom verward agterna.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters