21 dae gelede
Charles probeer Brent oorreed om hom nie te skiet
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag skop ons af met Broederliefde, ’n nuwe verhaal uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Geniet gerus hoofstuk 1.

‘EK SÊ ons maak die ding vrek.”

Charles lig sy blik na die een met die diep stem. Blykbaar ook die leier van die groep. Hy is ook die een wat heelnag bevele uitdeel.

Sy vrou, Kate, moes teen dié tyd al iets agtergekom het. Hy moes boonop twee onttrekkings uit sy rekening maak.

Hy kan net hoop en bid dat sy teen dié tyd die polisie in kennis gestel het. Hulle het ’n uur gelede met hom op dié verlate plek kom staan en hom op sy knieë gedwing.

Nou kyk Charles angstig om hom rond. Hy hoor die geluid van krieke wat raas en ruik die klammigheid in die grond. Iewers in die donkerte is daar heel moontlik ? rivier.

Hoekom hoor hy dan nie die gekabbel van water nie?

Dit moet ’n vlei wees. Hy moet hom uit die drie se kloue bevry en daar gaan wegkruip totdat die dag breek.

In die dowwe lig staar die groot bleskopman nou met ’n uitdrukkinglose gesig na Charles. Die pistool glim in die halfdonker.

Dan voel Charles hoe die koue loop van die pistool teen sy kop gedruk word.

“Asseblief, ek smeek jou, moet my nie doodmaak nie.

“Ek het genoeg geld. Ek sal dit alles vir julle gee.

“Spaar net my lewe, asseblief. Ek het ’n vrou.”

Een van die jonger ouens tree na vore. Charles besef hy was ook die bestuurder tydens die helrit.

Sien hy simpatie in die jong man se blik?

Die outjie pluk egter die pistool uit die ander een se hand.

Voordat Charles tot verhaal kan kom, is die pistool terug teen sy kop. Charles sluit sy oë en besef dis tyd om sy lot te aanvaar.

Hy wag in angs vir die onvermydelike. Toe daar egter niks gebeur nie, vlieg Charles se oë oop.

Die outjie staar met pieringoë na hom.

“Seun, jy hoef dit nie te doen nie. Julle het alreeds my voertuig en genoeg geld. Ek smeek jou! Spaar my lewe! My vrou, asseblief!”

“Hou jou bek, jy!” Bleskop kry vir Charles in ’n wurggreep beet.

“Tyd vir praat is nou verby.”

Hy los vir Charles en draai na die een met die pistool in sy hand. “Skiet hom, Brent.”

“Ja, Rudy,” sê Brent. Die trilling in Brent se stem vertel egter ’n ander storie.

“Seun, ek smeek jou. Daar is nog ? omdraaikans vir ...” pleit Charles weer. Die skoot verdoof egter die res van sy woorde.

Charles voel ’n warm sensasie iewers teen sy regteroor. Dan stort hy agteroor.

Ná ’n kort stilte staar Charles verbaas na die drie en besef hy is nog nie dood nie.

Pyn klief deur sy kop en albei sy ore suis. Sy liggaam raak boonop ook aan die bewe.

Hy sien hoe die Brent-ou die pistool eenkant gooi en dan op sy knieë neerval.

Dan ruk sy liggaam soos hy opgooi.

“ Die bra is noggie vrek nie, Rudy.”

Die stem behoort aan nommer 3, die stil een. Charles knyp vinnig sy oë toe.

Hy moet homself kalmeer en die bliksems laat glo hy is dood, maar sy asem jaag soos een wat ’n marathon gehardloop het.

Dit moet die adrenalien wees wat nou ingeskop het.

Hy moet op sy voete kom en vlug terwyl hulle nog besluitloos rondstaan. Skielik kruip ? nattigheid oor sy oë. Hy vee instinktief met sy hand daaroor. Bloed?

Hy sal nie verbaas wees as die laitie sy oor weggeskiet het nie.

Op die oomblik voel hy egter niks pyn aan die res van sy liggaam nie.

’n Lamheid het oor hom gekom en sy kop voel deurmekaar. Was dit net ? paar uur gelede toe hy vir Kate totsiens gesoen het?

Dink sy aan hom daar by die werk? En het sy al tyd gekry om op haar selfoon te kyk?

Wonder sy oor die groot bedrae wat onttrek is? Het sy al probeer bel?

Sal hy haar ooit weer sien? Haar vertel hoe lief hy haar het?

Sy mooie Kate met die sielvolle, donker oë en donkerbruin krulle wat sag om haar gesig vou.

Hy verwyt homself vir die feit dat hy laatnag besluit het om sigarette te gaan koop.

Sy gewone handelaar se voorraad was op en hy moes na die nabygeleë Engen ry. Die vier ouens in die wit Corolla het alreeds daar gestaan toe hy stilhou.

Hy het nie juis veel aandag aan hulle gegee nie. Net ingegaan om sy goed te kry.

Op pad huiswaarts word hy skielik bewus van die wit voertuig agter hom. By ’n stopteken het die motor skielik voor hom ingeswaai.

Binne sekondes het drie sy voertuig omsingel en hom met die vuurwapen beduie hy moet sy deure oopsluit.

Hy het nie veel van ’n keuse gehad nie. Met die pistool teen sy kop moes hy verder ry.

Die vierde ou het met die wit Corolla in die teenoorgestelde rigting gevlug.

Hy het vergeefs probeer pleit dat hulle hom moet laat gaan. Skielik voel Charles ’n drukking teen sy bors. Sy oë vlieg oop. Rudy staan oor hom met sy een voet op sy bors geplant.

Die pistool is op sy gesig gerig.

Toe voel Charles hoe hy sy voet lig en die pistool oorhaal.

Charles se hande skiet instinktief uit. Dis te laat. Die skoot ruk deur sy bolyf.

’n Tweede een volg. Charles voel hoe die lewe stadig uit hom vloei.

Sy laaste gedagte is aan Kate.

Dan sink hy weg in ’n diep, donker gat.

Rudy draai na Tokkie. “Maak dié keer seker hy is vrek.”

Toe marsjeer hy op Brent af wat steeds in ’n hurkende posisie sit.

“Gaan jy heelnag hier sit en jou guts spill of gaan jy help om die scene skoon te maak?

“Jy weet ek like nie comebacks nie. Roer jou gat.”

“Yes, boss,” antwoord Brent en kom dan bewend op sy voete.

Hy het nie die guts vir hierdie tipe ding nie. Maar wat kan hy doen? Hy is onder Rudy se mag en van Rudy breek ’n ou nie maklik weg nie.

Was dit nie vir die verdomde dwelms nie, was hy nou nie in dié situasie nie. Hy is darem nou al vyf maande skoon danksy Rudy.

Hy moet seker dankbaar wees daarvoor en vir die feit dat hy boonop leef.

Rudy is ’n crime lord en agter hom lê ’n spoor van name wat lankal nie meer bestaan nie.

Jy skuld nie ’n ou soos Rudy en kom daarmee weg nie.

Hy is ’n runaway en het Rudy op straat leer ken.

Sy tikverslawing het hom byna sy lewe gekos, maar Rudy het hom raakgesien en van die strate ver­wyder.

Hy’t gesorg dat hy skoon kom en nou is hy Rudy se bestuurder.

  • Om die waarheid te sê – hy is net so goed soos Rudy se besitting en hy het nie ’n idee of dit ooit sal verander nie.Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters